HOU KOERS MAMMAKAPTEIN!
Terwyl ek hoog en droog hier in my kantoor sit, swem my 20-jarige broerskind in die middel van die Atlantiese Oseaan. Hy is besig met ’n skeepsvaartkursus en my skoonsus stuur vir my die daaglikse e-nuusbriefie van die kaptein af aan. Vandag steek hulle die meridiaan van oos na wes oor. Dit klink eenvoudig heerlik, met vlieënde visse wat gereeld op die dek land. Wat ’n avontuur!
Maar my arme skoonsus kan natuurlik snags nie slaap nie. Dis immers haar kind wat op ’n kleinerige houtbootjie halfpad tussen êrens en nêrens dobber, met 5 000 m seewater onder hom.
Die lewe aanboord klink gelyk ontspanne en hoogs georganiseerd. Daar word baie speletjies gespeel om die ure om te kry, maar daar is ook skofte vir kosmaak, werk en nagdiens. Natuurlik moet die spul groentjies ook alles oor navigasie leer, en toets skryf oor dinge soos internasionale botsregulasies.
Die hele ding klink vir my soos gesinslewe in die kleine: Daar’s ’n kaptein – gaaf, maar in beheer, soos ’n ma of pa. Die studente (net soos kinders in ’n gesin) moet leer om oor die weg te kom, saam te werk en by die reëls te hou, anders gaan daai skippie sink. As jy doen wat die kaptein van jou verwag, dan is die ervaring lekker en leersaam. Almal moet by mekaar aanpas en almal moet die kompas dophou. Sosiale vaardighede is net so belangrik soos navigasievaardighede as ’n mens Rio in een stuk wil bereik.
Met die terugkeerslag kan die kaptein hopelik tevrede agteroor sit en kyk hoe die studente sélf met hul nuwe kennis huis toe seil.
Maar siestog, tot daardie dag gaan my skoonsus maar sleg slaap – ’n ma is nou maar eenmaal bekommerd oor haar kind. Ek wonder of die kaptein se ma ook sleg slaap?
Nou ja, mamma-kapteins, laat jul gesinskepe op koers bly tot volgende maand en mag die inkvisse van die dek af bly, want hulle mors glo.