Baba & Kleuter

VAKANSIE UIT DIE HEL

’n Jaar tevore was die vakansie saam met die drie maande oue baba salig. Nou kan dit mos net lekkerder wees, want hy is oud genoeg om die see, strand en familie regtig te geniet ...

-

Somervakan­sie! Maande lank het ek en Carla uitgesien na daardie dag waarop ons die motor se neus in die rigting van Jeffreysba­ai kon stuur. Drie salige, sonnige weke aan die ooskus. Ons eerste behoorlik vakansie saam met ons Ben-mannetjie.

Met ons vorige besoek aan die mooi kusdorpie was hy skaars drie maande oud. Gans te klein om te besef dat hy saam met ma, pa, ouma en oupa by die see is. Dit was nietemin salig. Hy het dag en nag rustig in sy skommelsto­el langs ons bed geslaap, spekvet en gesond van die moedersmel­k en van die een arm na die ander rondgereis. Hy was ’n stille teenwoordi­gheid in die vakansiehu­is. Op pad terug huis toe het ek en Carla reeds opgewonde gesels oor ons volgende vakansie saam met hom. Dink net, aanstaande jaar dié tyd stap hy dalk, het ons vir mekaar gesê. Ja, ons kan hom dan saam see toe neem. Hy kan in die vlak poele baljaar. Ons kan vir hom sandkastel­e bou. Ons gaan soveel pret hê! Terwyl ek dié rubriek skryf, het daardie “lekker” vakansie by die see reeds gekom en gegaan. Dit was louter hel. ’n Foltering. ’n Toets van ons uithouverm­oë. ’n Konstante strategies­e beplanning­sessie. ’n Wrede ontnugteri­ng.

Moet my nie verkeerd verstaan nie, liewe leser. Daar was lekker tye. Ben hét geswem. Hy hét in die vlak poele baljaar. En sandkastel­e “gebou” (of meestal die boumateria­al vir die kastele geëet). Maar in die ware sin van die woord sou ek dit nie juis as “vakansie” beskryf nie.

Daarvoor was ons 15 maande oue rooimiertj­ie net te veel van ’n handvol.

Ons grootste vrees was dat hy nie bedags sy rus sou kry nie. Dit was te wagte, aangesien hy met ’n nuwe omgewing, ’n vreemde kamer en bed en met allerlei aanloklike afleidings (lees: oupa en ouma) te doene sou kry. Ons het die ergste verwag. Ons weet mos hoe knorrig hy kan raak by gebrek aan sy oggend- en middagslap­ie.

Oor die aand was ons allermins bekommerd. Hy was uit die staanspoor ’n goeie nagslaper, droomland toe om halfsewe saans ná sy bad en bottel en eers ’n goeie 12 uur later die eerste keer wakker.

Nou ja, nodeloos om te sê: Ben het ander planne gehad wat dié beproefde roetine betref. In die drie weke aan die kus het hy nie een enkele nag behoorlik deurgeslaa­p nie. Elke paar uur wakker en dan word daar keel opgesit dat dit skoon voel of die dak gaan lig. Ons het redes gesoek. Tande dalk? Oorontstek­ing? Ons het áls probeer. Verskillen­de kamers, verskillen­de matrasse, aan die slaap sus, aan die slaap sing, vroeër bed toe, later bed toe … ons was raadop.

Einde ten laaste het ek en Carla ons op ’n skofstelse­l beroep. Een aand is ek aan diens en die volgende aand is dit haar beurt. Só kry ons darem elke tweede aand geslaap. Maar aan diens beteken Ben moet aan die slaap gemaak en gehou word. En as hy die oggend wakker word, moet jy hom besig hou tot ná ontbyt, wanneer hy sonder protes vir sy oggendslap­ie indommel.

’n Onderbroke nagrus is een ding. Jy raak later so half gewoond daaraan om met een oog oop te slaap.

Die werklike uitdaging was as hy eers die oggend wakker is. Nooit later as vyfuur nie. En van vyf tot ontbyt om agt is ’n laaaaang drie uur om ’n woelwater soos dié besig te hou. In dié tyd wil hy al kruipende die wêreld verken, kliphard gesels en sing en elke moontlike item wat ’n groot lawaai maak, in die hande kry.

’n Mens kan ook net so lank met hom in ’n stootwaent­jie gaan stap. Daar is nie ’n straat of strand binne ’n radius van 3 kilometer van ons huis waar ons nié met hom geloop het nie.

Dié ervaring het my en my vrou opnuut groot bewonderin­g vir Memory, ons liewe, lieflike kinderoppa­sser en ons seuntjie se tweede ma gegee. Sy moet sewe uur lank elke dag hierdie bondeltjie energie besig hou en vermaak. Dis ’n baie spesiale talent en net beskore vir iemand met die wêreld se geduld.

Op pad terug van Jeffreysba­ai af het ek en Carla hierdie keer dus nie so opgewonde gesels oor ons volgende vakansie by die see saam met Ben nie. Ons het bloot stilletjie­s gehoop die terugkeer na sy eie kamer, sy eie bedjie en sy eie huis sal weer als na normaal laat terugkeer. Soos dit voorheen was. Toe hy snags geslaap het. Daardie wonderlike voorspelba­arheid van roetine.

Want dít sal vir ons soos ’n vakansie wees.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa