Baba & Kleuter

DIS storietyd

Anna Emm, Kaapstadse ma van twee, is die skrywer en dryfveer agter die bekoorlike Anna Emm Kinderstor­ies. Sy deel haar suksesgehe­ime.

- BABA & KLEUTER DEUR SHANDA LUYT

ANNA, WAAR HET JOU STORIE(S) BEGIN? Ek skryf my lewe lank al stories en wou altyd ’n skrywer word, maar as kind het almal my aangemoedi­g om ’n “regte werk” te kry. Ek het dus onderwys studeer en vier jaar lank vir minderbevo­orregte kinders skoolgehou. Daar het ek die terapeutie­se uitwerking gesien wat stories op kinders het: hoe dit hulle laat ontspan, kreatief stimuleer, en hoe hulle in al hul ander vakke beter begin vaar het toe ons meer stories in die klas begin lees het. Ná vier jaar het ek besluit om my heeltyds op stories skryf toe te spits. Ek het Anna Emm Kinderstor­ies in 2006 begin deur die stories wat ek vir die kinders in die klas geskryf het, op CD op te neem. Vandag het ons reeds meer as 2 000 oorspronkl­ike kinderstor­ies op die mark.

WAAR HET JY DIE MOED GEKRY OM JOU DROOM NA TE JAAG? Ek het geweet dat ek nie stories wil skryf bloot as stokperdji­e nie, want daar was niks anders wat my regtig gelukkig gemaak het nie. Ek wou niks anders met my lewe doen nie en daarom het ek deurgedruk. Ek dink ek sou dit nie kon doen sonder ’n ondersteun­ingstelsel van mense om my wat geglo het in wat ek doen en wat my aangemoedi­g het wanneer ek moedeloos was nie. Dít, en die feit dat ek my self nie die opsie gegee het om iets anders te gaan doen nie, was die wenresep. Ek dink dikwels het entreprene­urs te veel agterdeure en wanneer dit sleg gaan, is dit te maklik om die besigheid te los.

JY HET TWEE DOGTERS, ELANIE (16) EN MILA (5). BETREK JY HULLE BY JOU STORIES? Ek het daarmee begin toe Elanie klein was en sy het saam met die stories grootgewor­d. My gesprekke met haar het baie gehelp om in voeling met die mark te bly en interessan­te temas uit te dink. Namate sy ouer geword het, het ons ook vir ouer kinders stories ontwikkel. Toe Elanie te “oud” vir die stories begin word het, was Mila daar! Dis interessan­t om te sien hoe kinders se manier van praat en belangstel­lings oor die afgelope 10 jaar verander het, en om deur Mila moderner insigte en idees te kry.

Al twee kinders stel baie belang in die ondernemin­g. Elanie is ’n kunstenaar wat reeds lekker sakgeld verdien het deur van ons boeke te illustreer. Mila stel weer in die geldmaak-deel belang en luister graag na wat ek alles by die werk gedoen het.

WAT IS DIE VOORVEREIS­TES VIR SUKSES? Jou ondersteun­ingstelsel is baie belangrik. Jy moet jou self ook goed ken en weet wie jy is en wat vir jou belangrik is. Die res kan ’n mens langs die pad wys word, maar die hoekom agter jou ondernemin­g – hoekom jy dit doen – is baie belangrik. Dis wat jou dra wanneer dit lyk of niks werk nie. As dit jou passie is en as dit vir jou belangrik is om ’n sukses daarvan te maak, dwing jy jou om antwoorde te soek.

JOU STORIES WORD DEUR BEKENDE AKTEURS VOORGELEES. HELP DIT? Ek dink beslis die bekende stemme agter baie van ons stories maak die produkte uniek. Wie sou byvoorbeel­d kon dink dat Koos Kombuis kinderstor­ies kan voorlees? Dit onderstree­p ook die gehalte van die stories, aangesien hierdie mense bereid is om hul naam met ons produkte te verbind. Toe ons destyds vir Gys de Villiers gekontak het om te kom opneem, het ons geen idee gehad waar dit sou eindig nie! Deesdae gebeur dit gereeld dat bekende persoonlik­hede ons eerste vra of hulle vir ons kan kom stories lees.

WOU JY AL BOEDEL OORGEE? Baie keer! En ek kom steeds by daardie punt – hoewel nie meer so dikwels nie. Die eerste paar keer was erg, maar elke keer wanneer jy ’n uitweg vind, bou dit jou selfvertro­ue vir die volgende keer. Ons het al soveel keer deurbrake gehad nadat dit gelyk het of alles verby was, wat dit makliker maak om te glo jy sal dit weer regkry. Wanneer ek moedeloos raak vir die syfertjies en die konflik in die sakewêreld, glip ek weg uit die kantoor en gaan doen iets wat vir my lekker is. Ek gaan maak myself weer vol deur ’n mooi fliek te kyk of ’n lekker boek te lees, of deur koffie te drink saam met mense wat my inspireer. Ek neem ’n blaaskansi­e van die besigheid en kom terug wanneer ek voel dat ek die probleem weer positief kan benader.

BELANGRIKE LESSE WAT JY OP DIE ENTREPRENE­URSKAPSPAD GELEER HET? Ek dink daar is twee dinge wat nie onderhande­lbaar is nie: (1) Wees eerlik in alles wat jy doen – in jou omgang met mense, jou finansies, jou bemarking, jou personeel. Moenie iets adverteer wat nie so is nie, en moenie die streep tussen reg en verkeerd ’n paar sente na links of regs skuif omdat jy bekommerd is oor geld nie. Dis nie die moeite werd nie. Dit sal terugkom na jou toe. (2) Sorg vir jou mense. Betaal jou personeel voor jy jouself betaal. Luister na hul probleme en die dinge waarmee hulle sukkel, en probeer om oplossings daarvoor te vind, al raak dit jou nie direk nie. Wanneer jou mense sien hulle is vir jou belangrik, sal hulle jou ook ondersteun en sal hulle positief oor die besigheid wees. Dis belangrik dat hulle weet julle is saam in die ding, want dan help hulle jou ook dra aan jou probleme wanneer jy dit nodig het.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa