Baba & Kleuter

BORSVOED MET GEMAK

Hier is vier basiese posisies waarin jy jou baba kan borsvoed. Besluit self wat die beste vir jou en jou aapstert werk.

- DEUR YOLANDI JORDAAN

RUGBYPOSIS­IE

Hou jou baba aan jou kant vas, effens na jou gekantel en met haar neusie op tepelhoogt­e. Haar lyf is onder jou arm aan dieselfde kant waar jy voed en haar bene is agter jou lyf na bo gebuig. Jy kan jou baba met jou hand by die basis van haar nek en skouers ondersteun. Jou arm vorm ’n C. Sit ’n ferm kussing onder jou baba neer.

IDEAAL VIR Dié posisie is gerieflik vir ma’s wat ’n keisersnee gehad het of groot borste of plat, ingestulpt­e tepels het omdat jy jou baba se posisie maklik kan beheer. Die posisie werk ook goed vir babas wat klein is of sukkel om vas te suig omdat jy jou baba maklik na jou tepel kan lei. Ma’s met tweelinge hou ook van die rugbyposis­ie omdat albei gelyk kan drink, een aan elke kant.

LÊ-POSISIE

In hierdie posisie lê jy en jou baba maag teen maag; jy op jou linkersy. Laat jou baba op haar sy lê sodat sy na jou kyk en haar bors teen joune is. Jou regterarm ondersteun haar lyf en jou regterhand ondersteun haar kop. Jy kan jou baba se kop ook met die knak van jou arm ondersteun. Plaas ’n kussing tussen jou bene of agter jou rug vir gemak en ondersteun­ing.

IDEAAL VIR Hierdie posisie laat jou toe om te rus terwyl jy voed en is veral gewild vir nagvoeding­s op jou bed. Dis ook gerieflik as jy ’n keisersnee of ’n episiotomi­e gehad het omdat sit ongemaklik kan wees. Dit is miskien wys om seker te maak jou baba suig behoorlik vas voor julle hierdie posisie beproef. Jy kan natuurlik regs en links ook omruil.

OORKRUISWI­EGIEPOSISI­E

Hou jou baba op jou skoot vas met die teenoorges­telde arm as die bors waarmee jy voed. Byvoorbeel­d: As jy met die regterbors voed, hou jy jou baba met jou linkerarm vas. Draai jou baba se lyfie sodat haar bors en magie na jou toe wys. Ondersteun haar nek met jou vingers en haar skouer en bokant van haar rug met die palm van jou hand. Jy kan ’n kussing onder jou baba op jou skoot sit.

IDEAAL VIR Dié manier van voed is ideaal as jy en jou baba nog leer omdat jy goed kan sien hoe sy vassuig. Vroeggebor­e babas of babas wat nog swak is, vind hierdie posisie maklik aangesien jou hand ekstra ondersteun­ing bied en jy jou baba lei na waar sy moet vassuig. Die posisie bied ekstra baie veltotvelk­ontak.

Dit is dalk nie ’n slegte idee om jou borsvoedin­gsposisie af en toe te verander nie. Baie ma’s vind dat hulle so ’n verstopte melkbuis vermy, want elke posisie plaas druk op ’n ander deel van jou tepel.

WIEGIEPOSI­SIE

Sit op die bed met kussings om jou, of op ’n stoel met armleuning­s. Hou jou baba op jou skoot vas, op dieselfde hoogte as jou borste. Ondersteun jou baba se kop in die knak van jou arm terwyl jy haar styf teen jou lyf vashou. Haar gesiggie, maag en knieë moet na jou maag wys. Jy kan ’n kussing vir ondersteun­ing onder jou arm plaas.

IDEAAL VIR Die wiegieposi­sie is die algemeenst­e borsvoedin­gsposisie en werk goed vir effens ouer babas wat al ’n sterk nekkie het en maklik vassuig. As jy ’n keisersnee gehad het, kan hierdie posisie aanvanklik ongemaklik wees omdat dit druk op jou maag plaas. Sommige ma’s voel weer dit is moeilik om hul pasgeboren­e se koppie te beheer. Beproef dit gerus – dalk vind jy dit vanaf dag een af gemaklik!

Daar is ander posisies wat vele ma’s gemaklik vind, maar wat nie so gewild is soos die vier hierbo genoem nie. In die saalposisi­e plaas jy ’n ouer baba op jou skoot terwyl sy na jou kyk en voed. Jou baba moet dus net lank genoeg wees om op tepelhoogt­e te kan wees. So nie, kan jy ’n kussing onder jou baba se boudjies plaas sodat sy effens hoër sit. Nog ’n posisie is die Australies­e posisie. Wanneer jy op hierdie manier voed, lê jy op jou rug met ’n kussing onder jou skouers en kop. Jou baba lê met haar magie bo-op jou maag.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa