Baba & Kleuter

PRETTIGE SPELETJIES

-

SES TOT NEGE MAANDE

• Laat jou baba op die gras of mat sit en plaas speelgoed net buite haar bereik. Sy sal probeer om dit in die hande te kry en só haar sitvermoë verbeter en lus wees om te begin kruip. • Versterk haar oogspiere deur haar aandag te vestig op ’n bewegende motor of ’n bal wat wegrol. • Laat jou baba ’n flitsligko­l teen ’n muur volg. Dit werk die beste in ’n donker kamer. • Babas se asemhaling- en longkapasi­teit word verbeter deur aktiwiteit­e waar hulle aan jou hande “hang” of wanneer jy hulle aan hul handjies tot in ’n staande posisie optrek. Gebruik jou duime sodat jy jou baba se greep beter kan monitor en doen dit op ’n sagte oppervlak, soos ’n bed. Sorg dat sy nie kan seerkry as sy skielik jou hande los nie. Dié speletjie is net geskik vir groter babas met sterker nekkies. • Steek ’n lawaaierig­e speelding onder iets

soos ’n kombersie weg en laat sy dit soek. • Gee haar ’n derde speelding wanneer sy reeds een in elke hand het. Laat sy self ’n oplossing vir die probleem vind. • Tuimelspel­etjies is uitstekend om jou baba se gevoel vir balans en bewuswordi­ng van ruimte te ontwikkel. Kielie haar of dans met haar, laat haar op jou skoot “spring”, swaai haar terwyl jy haar onder die arms vashou, laat haar op jou skouers ry, of draai met haar in die rondte (sorg net dat jy nie omval nie!). Laat jou deur jou baba lei en hou op met enige speletjie waarvan sy nie hou nie. • Die meeste babas geniet spieëls en is gefassinee­r deur hul eie weerkaatsi­ng. Sit langs haar en trek gesigte, beweeg en gesels.

NEGE TOT 12 MAANDE

• Babas geniet nou tuimelspel­etjies selfs meer. Dis veral lekker om vir pappa so betrokke te kry. Moet egter nooit ’n baba in die lug in gooi en haar dan weer vang nie. Lig jou baba liewer vinnig op en laat haar dan sak sonder om te los – en slegs as dit lyk asof sy daarvan hou. • Dis ook goed vir jou kleintjie om soms onderstebo te wees. ’n Goeie manier is om baba op jou skoot te laat lê met haar voete teen jou maag. Sorg dat jy ’n stewige greep op haar enkels het. Staan nou stadig op terwyl jy haar styf vashou. Gaan sit dan weer stadig sodat sy weer horisontaa­l lê. Hou die onderstebo tye aanvanklik baie kort (sowat vyf sekondes) en rek dit uit namate jou baba daaraan gewoond raak. Natuurlik is dit nie ’n goeie idee om dit kort ná ’n ete te doen nie! • Jou kleinding kan dalk begin om diere en geluide met mekaar te verbind en selfs na te boots. Wys vir haar prentjies (of die regte diere) en demonstree­r die geluide wat hulle maak. • Wysspeletj­ies werk nou goed omdat

jou baba meer woorde verstaan as wat sy gebruik. Vra “Waar’s mamma?” of “Waar’s die lig?” en laat haar dit uitwys. • Wees op die uitkyk vir produkte met ’n interessan­te tekstuur soos ’n verestoffe­r, haarborsel of kiwivrugte. Jy kan ook lappies van verskillen­de teksture uitsny en jou baba dit laat verken. • Plak plakkers op jou baba se handjies of ander dele van haar lyfie en moedig haar aan om dit te soek en af te trek. • Jou baba is mal daaroor om voorwerpe teen mekaar te kap. Kry oorpluisie­s en skep geleenthed­e waar sy na hartelus dinge teen mekaar kan slaan, soos kastroldek­sels, plastiek- of blikbekers met handvatsel­s, leë houers, ratels en houtspeelg­oed. • Om houers leeg te maak is ook ’n groot gunsteling. As jy ’n bietjie skrikkerig is vir jou handsak, skep ’n eie “handsak” of houer waarin jy interessan­te en raserige artikels bêre om ontdek te word. • Speelgoed wat met ’n toutjie getrek word is baie lekker vir kleintjies wat net begin loop. Jy kan ook ’n lint of tou aan ’n gunsteling-speelding vasmaak en so die trekpret uitbrei.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa