Baba & Kleuter

Noodgeval!

Jy kan jou klein waaghalsie nie altyd teen seerkry beskerm nie, maar jy kan baie doen om die eina beter te soen. Hier is vinnige noodhulp vir sewe algemene peuter-beserings.

- BABA & KLEUTER DEUR LIBBIE JOUBERT

SNYE EN SKRAPE

Gewoonlik strek ’n skraap oor ’n groterige oppervlak, maar dis nie baie diep nie. Dis wel seer omdat dit so groot en rou is. Snye is ook gewoonlik nie te ernstig nie.

Maak die wonde goed skoon met water en ’n stukkie gaas waarop ’n ontsmettin­gsmiddel soos Savlon (met water verdun!) gedrup is. Maak seker dat geen vuiligheid in die wond agterbly nie. Stukkies kan met ’n haartanget­jie verwyder word.

Los klein skrapies oop sodat dit vinnig droog word. As die skraap op ’n plek is waar jou kind se klere dit kan skaaf, smeer ’n ontsmettin­gsalf aan en plak ’n groot pleister op.

Op snye kan jy ’n ontsmettin­gsalf soos Polysporin aanwend en die twee kante van die sny met ’n pleister na mekaar toe trek. Pleisters help die wond skoon hou. Vervang die pleisters elke dag en hou die sny skoon en droog. Wanneer ’n rofie gevorm het, is ’n pleister onnodig. Moenie dat jou kind die rofies afkrap nie.

As ’n sny baie bloei, kan jy die bloeding stopsit deur met ’n skoon verband drukking daarop uit te oefen. Hou die besering hoër as die hart om bloeding te verminder. As die sny baie diep is en ná 10 minute van drukking steeds bloei, moet julle dokter of hospitaal toe gaan. Neem jou peuter ook dokter toe as die sny op ’n plek is waar jy bang is dit gaan ’n letsel laat (soos die gesig) sodat hy dit kan toeplak of steke kan aanbring.

Steke is ook nodig vir groot, diep snye, as die twee kante van die sny nie bymekaar kan uitkom nie, of as dit op ’n plek is waar jou kind dit met sy bewegings bly ooptrek.

Hou die sny dop om seker te maak daar ontstaan nie ’n infeksie nie. Gaan dokter toe as die seerplek opswel, rooi word, toenemend meer pynlik is of etter afskei, of as jou kind koors kry en haar kliere swel.

’N VAL OP HAAR KOP

Jou peutertjie se kop is groot vir haar lyf. Voeg daarby dat sy nog haar lyfie leer beheer en die kans is goed dat sy haar kop sal kap of op haar kop sal val.

Die meeste peuterkopb­eserings is gelukkig nie ernstig nie, hoewel jou kleinding waarskynli­k met ’n hele paar blou kolle of selfs ’n eier kan spog. Selfs ’n ligte stampie op die kop kan bloeding onder die vel en ’n gevolglike swelsel veroorsaak.

Draai ys in ’n vadoek toe en plaas dit op die knop. Dit sal keer dat die knop nie te groot swel nie of die bestaande knop kleiner maak. Hou die ys sowat 20 minute lank daar. Troos en gee ’n pynstiller soos Calpol.

Omdat die vel op die kop meer aartjies bevat, bloei kopbeserin­gs meer en makliker. Oefen drukking daarop uit met die lap met die ys tot die bloeding ophou.

’n Baie harde kopstamp kan breinskade veroorsaak. As jou peuter normaal en wakker voorkom, is die kans skraal dat iets groot fout is. Dis egter belangrik om die volgende 24 uur op te let na moontlike abnormalit­eite omdat die reaksie op so ’n besering soms eers later duidelik word.

Tekens dat die val ernstig is, is bloeding deur die neus of ore, buitengewo­ne slaperighe­id, herhaalde braking, as jou kind sukkel om op jou te fokus en op jou vrae te reageer, of sukkel om haar balans te hou.

Nog moontlike tekens is as jou kind se een pupil groter is as die ander of sy skielik skeel kyk. Spreek liewer ’n dokter as jy enigsins onrustig voel.

BYTPLEKKE

Die kans dat jou kleinding iemand anders sal byt of self deur ander peuters gebyt sal word, is goed. Gewoonlik is die bytplekke nie ernstig nie en is die vel nie stukkend nie. In so ’n geval kan jy die vel net mooi skoon was en jou peutertjie troos en ’n pynstropie gee.

Is die vel stukkend, is dit belangrik dat jy die bytplek ontsmet en ’n ontsmettin­gsalf aanwend.

Neem jou kind liefs dokter toe as die vel stukkend is, aangesien ’n mens se mond vol bakterieë is wat die gevaar van infeksie verhoog. Jou dokter sal antibiotik­a voorskryf afhangende van die erns van die bytwond en ook sê of ’n klem-in-die-kaak-inspuiting nodig is.

As die bytwond enige tekens van infeksie toon soos swelling, rooiheid en etterighei­d, of as dit buitengewo­on warm voel of tot koors lei, moet jy dokter toe gaan.

Laat steke aanbring as

jy ’n lelike letsel vrees of as die sny baie groot is.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa