Baba & Kleuter

Vorentoe vir OUTISME

Haar seun se outisme het Ilana Gerschlowi­tz van Johannesbu­rg tot groot hoogtes gedryf.

- DEUR SHANDA LUYT BABA & KLEUTER

HOE HET THE STAR ACADEMY BEGIN? My seun, David, is op 22 maande met outisme gediagnose­er. In dieselfde tyd het ons uitgevind ek verwag ons tweede kind. Die spesialis het gesê David sal nooit skool toe kan gaan nie, nooit kan praat nie, nooit onafhankli­k kan lewe nie. Sy het basies gesê “tot siens en voorspoed”. Ek het geweet sy toestand is ernstig, maar was nie gereed om dit net te aanvaar nie. Ek is ’n prokureur en kan goed navorsing doen, en het dus al die moontlike gedoen op soek na antwoorde. Teen sewe jaar oud het David steeds nie die vordering gemaak wat ek in my hart geglo het moontlik is nie. Ek het baie oorsese konferensi­es oor outisme bygewoon en daar geluister na ’n voorlesing deur dr. Doreen Granpeeshe­h, stigter van die Centre for Autism and Related Disorders (CARD). Ek het dadelik geweet dit is die antwoord. Ons wou Amerika toe emigreer sodat David daar die bekende een-tot-een-ABAprogram (Applied Behaviour Analysis) kon volg, maar sy het ons oortuig om ’n filiaalsen­trum in Suid-Afrika te vestig. So is The Star Academy gebore.

VAN PROKUREUR NA SAKEVROU – WAS DIT MOEILIK? Ons het begin met David en vier ander kinders – vandag is 130 kinders deel van die program. Toe ons begin het, het ek nie regtig geweet wat ek doen nie. Dit was nie werklik my idee om soveel kinders te betrek nie; ek wou net my seun help deur ’n goeie opvoedkund­ige program vir hom daar te stel. So baie mense het egter my hulp nodig gehad en ek het baie gou besef dat deur ander te help, ek ook vir David beter kon help, want as ’n groep het ’n mens meer bedingings­mag.

My regsagterg­rond het my goed toegerus met die nodige vaardighed­e. Ek was vol selfvertro­ue dat ek ’n verskil kon maak. Gelukkig is ek baie oplossingg­edrewe en dit het baie gehelp. As iemand vir my nee sê, hoor ek nooit “nee” nie, ek hoor “miskien” en ek soek na oplossings om die nee in ’n ja te verander. LESSE GELEER? Ek moes vinnig op my voete leer dink. En al is ek nie ’n natuurlike leier nie, moes ek leer leiding neem. Ek moes ook leer om vinnige besluite te neem, al beteken dit soms dat ek foute maak, en hoe om mense te bestuur en te motiveer, want ’n suksesvoll­e organisasi­e is baie afhanklik van ’n gelukkige werkerskor­ps.

HOE PAS JOU GESIN BY DIE BESIGHEID IN? Ek het drie seuns: David is nou 14 en grootliks funksionee­l en onafhankli­k. Eli (12), vir wie ek verwag het toe ek uitgevind het van David se outisme, is ’n tipiese seun en kry net A’s. Ons wou nie nog kinders hê nie, maar ná baie jare is Aaron (4) gebore. Hy het ook op 16 maande tekens van outisme getoon. Ons kon nie glo wat ons sien nie! Maar ons het hom baie vinnig aan ABA blootgeste­l en hy is nou in die hoofstroom. Ma-wees stel daagliks baie eise en soms is dit moeilik om alles te balanseer. Gelukkig kan ek baie take op ’n slag doen. Ek het al ’n hele krisis tydens ’n uurlange telefoonge­sprek opgelos terwyl ek my inkopies gedoen het! Daar is tye wanneer Eli gefrustree­rd raak omdat ek so aanmekaar op die telefoon is, en ek het dus afsprake met hom begin maak. Verder werk ek wanneer die kinders slaap.

Ek is baie gelukkig: My man, Martin, is baie betrokke. In die vroeë jare sou ek paniekerig raak, dan was hy die kalm een. Ouers van kinders met gestremdhe­de het ’n baie hoë egskeiding­syfer, maar Martin was en is my rots. Hy het sy eie beroep as boekhouer, maar help my met raad en ondersteun­ing waar hy kan.

HARTSPROJE­K, MAAR OOK BESIGHEID. VEROORSAAK DIT KONFLIK? Hartverske­urende konflik en ek wroeg baie daaroor. The Star Academy is ’n niewinsgew­ende organisasi­e, tog moet dit as ondernemin­g bestuur word, want jy moet jou koste dek of jy gaan nie oorleef nie. Ek moet gereeld die ekstra myl loop om ouers te help om privaat befondsing te kry, want ABA is baie duur omdat dit so intensief is. Ek het al gesien hoe middelklas­mense hul huis verkoop, by ’n ouer intrek en reuseopoff­erings maak net sodat hulle ABA vir hul kind kan bekostig. Die afgelope vyf jaar werk ek hard daaraan om te reël dat ingryping vir kinders met outisme deur mediese fondse gedek word. Ons is al nader aan hierdie droom, maar tans kom alles nog uit die ouers se sak.

Ons het ook die Yellow Canaries of Tembisa-uitreiking­sprogram. Ons het daar gesien hoe ouers vir ’n dag nie eet nie sodat hulle daardie geld kan gebruik om hul kind te help. Hierdie ouers is so dankbaar vir enige hulp.

RAAD VIR VOORNEMEND­E MA-ENTREPRENE­URS? Wees passievol. As jy passievol is, sal jy suksesvol wees. Jy gaan beslis geld nodig hê, en jy moet dus uitgaan en dit kry. Kundigheid is baie belangrik: As jy ’n kundige oor jou onderwerp is en jy is passievol en jy sit oorkant iemand wat jou moontlik kan befonds, is jou kop gewoonlik deur. En natuurlik: harde werk, toewyding, geduld en deursettin­gsvermoë. Gaan gerus na www.thestaraca­demy.co.za. Daar is takke in Johannesbu­rg, Pretoria en Durban.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa