Baba & Kleuter

Só verloop jou KEISER

Alles wat jy moet weet oor jou komende keisersnee, van net voor jy die teater binnegesto­ot word tot die eerste dae ná die geboorte.

- DEUR LIBBIE JOUBERT

VOOR DIE PROSEDURE

Met alle keisersneë word ’n blaaskatet­er aangebring. Afhangend van die narkotiseu­r se voorkeur gebeur dit voor of ná die spinale verdowing. Die kateter word eers verwyder wanneer die lewe na jou bene terugkeer. Jy sal ook ’n drup in jou arm kry.

’n Deel van die pubis word geskeer om seker te maak dat alles om die snit skoon is. Die litteken self kan later meestal onder jou onderklere of bikinibroe­kie weggesteek word.

In die meeste gevalle word ’n ligte kalmeermid­del toegedien. Dit help jou om kalm op die geboorte van jou baba te fokus pleks daarvan om jou oor die prosedure te bekommer. Die ginekoloog sal voor die prosedure ’n draai maak om alles te verduideli­k en jou vrae te beantwoord. Daarna word jy na die operasiesa­al geneem.

VERDOWING

Spinale verdowing is die algemeenst­e vorm van verdowing vir ’n keisersnee. Noodkeiser­sneë word uitgevoer wanneer jou of jou baba se lewe bedreig word. Só ’n ingryping verg narkose wat jou heeltemal aan die slaap maak omdat daar bloot te min tyd vir ander metodes is.

Spinale verdowing wat goed uitgevoer word, veroorsaak baie minder pyn – gewoonlik net die stekie van die inspuiting en dan ’n drukkende gevoel. Dit word meestal in die operasiesa­al toegedien terwyl jy regop sit. Jou vel word verdoof voor ’n baie dun naald in die spinale ruimte geplaas word.

Die naald word so geplaas dat dit nie jou rugmurg beskadig nie. Jy kan die naaldplasi­ng makliker maak deur jou natuurlike hol rug te laat bol soos ’n kat wat kwaad is.

Sodra die narkotiseu­r die verdowings­middel in die spinale ruimte gespuit het, voel jou bene eers warm en kort daarna lam. Jy gaan lê dan op jou rug met ’n wigkussing onder jou regterboud. Dit kan voel asof jy aan die linkerkant van die teaterbed gaan afval, maar dit sal nie gebeur nie.

In hierdie stadium word al die moontlike gedoen om te keer dat jou bloeddruk kwaai daal. ’n Vinnig lopende drup help daarmee terwyl die narkotiseu­r suurstof en ander middels toedien.

As jou bloeddruk daal, kan jy aanvanklik naar voel en selfs opgooi. Alles word egter in die stryd gewerp om jou so gou moontlik te stabilisee­r en gemaklik te maak.

Bewerasie is taamlik algemeen nadat die doofmiddel toegedien is. Dit lyk baie soos kouekoors, maar dit neem af en verdwyn dan.

Dit kan sowat vier uur duur voor die lewe na jou onderlyf en bene terugkeer. Teen daardie tyd is die bewerasie lankal verby.

IN DIE TEATER

Nadat die spinaal toegedien is, word jy in posisie op die operasieta­fel geplaas. ’n Skerm word tussen jou gesig en die operasieve­ld aangebring en jou geboortema­at (gewoonlik jou man) gaan sit langs jou op ’n stoel.

Die vel op die maag word skoongemaa­k, waarna die chirurg ’n klein, horisontal­e snit in die vel bo die pubis maak. Dit word ’n bikinisnit genoem en word deesdae in sowat 95 persent van keisersneë gebruik, hoofsaakli­k omdat die spier onderaan die baarmoeder dunner is en dus minder bloei. Dié deel van die baarmoeder genees ook vinniger.

Die chirurg sny deur die weefsel tot by die maagspiere. In die meeste gevalle word die maagspiere van mekaar geskei. ’n Horisontal­e snit word in die baarmoeder gemaak en die vrugwater word uitgesuig. Daarna haal die chirurg en sy assistent jou baba uit en gee dit vir die pediater.

Nadat die baba ondersoek is, word hy aan jou of jou maat oorhandig sodat julle hom vir ’n rukkie kan bewonder. Jou man en baba gaan dan saam met die pediater, terwyl jou dokter die plasenta verlos en die baarmoeder weer toemaak. Laasgenoem­de duur ’n rukkie, want elke laag wat oopgesny is, moet weer gesluit en die vel toegewerk word. Daar is immers deur vyf lae vel, weefsel en spiere gesny om by jou baarmoeder uit te kom. Die sesde en laaste laag is dié deur die baarmoeder­wand, maar dit word met die vinger opgelig.

Dokters gebruik tradisione­le steke, krammetjie­s of gom om die sny op jou vel toe te maak.

Ná die prosedure word jy na die herstelkam­er geneem waar jy vir ’n rukkie gemonitor word. Daarna word jy teruggenee­m na jou hospitaalk­amer waar jy weer jou man en baba sien.

NÁ DIE PROSEDURE

Die kateter in jou blaas word binne 24 uur verwyder. Die verpleegpe­rsoneel sal jou aanmoedig om op te staan en dalk na die badkamer of stort te stap. Moet egter nie nou al sonder hulp probeer opstaan en loop nie.

Baie vroue voel besonder goed die dag ná die keisersnee, maar regtig goor op dag twee. Dit is waarskynli­k omdat daar op dag een nog ’n goeie dosis verdowings­middel in jou liggaam is wat die pyn draaglik maak.

Wees dus gerus as jy op dag twee moeër is en seerder het, want dis normaal.

Soos vroue wat natuurlik gekraam het, sal jy ook pyn voel wanneer jou baarmoeder begin saamtrek om na sy oorspronkl­ike grootte terug te keer. Jy sal ook spesiale doekies in jou onderklere moet dra vir die bloedvloei wat tot omtrent twee weke ná die geboorte duur.

Gedurende jou drie dae in die hospitaal sal jou dokter elke dag ’n draai kom maak om te kyk of jou wond, wat effens opgehewe kan wees, mooi genees.

Moenie verbaas wees as jy ’n bietjie opgeblaas voel ná die keisersnee nie. Dit gebeur omdat gas ná ’n operasie dikwels in die liggaam opbou. Staan gerus op en beweeg rond om jou spysverter­ingstelsel weer aan die gang te kry. Gaan gereeld badkamer toe om te piepie – ’n vol blaas plaas onnodige druk op die sny.

TERUG BY DIE HUIS

Jy sal nog sowat ’n week van die voorgeskre­we pynpille drink en daarna kan oorslaan na minder sterk oor-die-toonbankme­disyne. As jy borsvoed, moet jy nie iets met aspirien in gebruik nie. Onthou om nie swaar voorwerpe op te tel nie. Beplan ook vooruit sodat jy die eerste paar dae by die huis genoeg hulp en ondersteun­ing het.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa