Baba & Kleuter

Ekseem: Streel weg die eina

Ekseem is meer as ’n seer gejeuk – dis ’n ontsteking wat die vel droog en skilferig kan maak. Herken en behandel dit so.

- DEUR LIBBIE JOUBERT

Is jy een van die ouers wat in afgryse toekyk hoe jou baba se pragtige, gesonde bolwangetj­ies onverwags rooi uitslaan? En hoe daardie uitslag stadig maar seker na sy armpies, bene en lyf versprei namate die dae en die weke aanstap?

Moenie alleen voel nie – jou baba ly waarskynli­k aan atopiese ekseem, ’n toestand wat 15 persent van kinders tref en wat in ’n neutedop beskryf kan word as ’n allergie wat die vel aantas.

Ekseem kan sy verskyning al op ’n paar maande oud maak, of eers later. Gelukkig is daar heelwat wat jy kan doen om dit te verlig, en gelukkig ontgroei die meeste kinders dit teen die tyd dat hulle skool toe gaan.

HOE LYK EN VOEL DIT?

Dokters verwys ook na atopiese ekseem as atopiese dermatitis (velontstek­ing). Die eerste simptome is gewoonlik teen drie maande oud te sien, sê dr. Lize Reichert, ’n dermatoloo­g van Potchefstr­oom in Noordwes.

“Ouer kinders en selfs volwassene­s kan dit egter ook opdoen,” sê sy.

Kenners reken die toestand bestaan uit twee duidelike komponente. ALLERGIEË ’n Kind met ekseem het gewoonlik allergieë. Wanneer ons blootgeste­l word aan allergene (die dinge wat ons allergie veroorsaak), beskou die liggaam dit as ’n indringer en oorreageer daarop. In die geval van ekseem neem dié oorreaksie die vorm van ’n veluitslag aan. Asma en hooikoors gaan ook dikwels hand aan hand met ekseem. DROË, ROOI, GEÏRRITEER­DE VEL Ekseemlyer­s se vel is altyd droog. Dit kan nie vog goed behou nie en begin jeuk. As dit dan gekrap word, kan ’n ontsteking ontstaan.

Sommige kinders kry net af en toe ’n uitslag, ander loop feitlik permanent met ’n rooi, droë vel rond.

Die probleem is dikwels ’n velskans (beskermend­e velselle) wat nie goed werk nie, sê Lize. ’n Swak velskans is gewoonlik ’n aangebore toestand.

As jou velskans swak is, verloor jy meer vog en het jy minder beskerming teen elemente wat die vel van buite af kan binnedring, verduideli­k sy.

Dié deurlaatba­arheid lei tot ontsteking van die vel, gevolg deur rooiheid en ’n gejeuk.

Omdat die vel nie goeie beskerming bied nie, is kinders met atopiese dermatitis dus meer geneig tot ontsteking en pitswere.

Die simptome kan skielik toeslaan (akuut), of vir lank aanhou(chronies).

’n Akute ekseem-aanval word gekenmerk deur ’n hewige gejeuk, ’n rooi vel en klein blasies wat kan bars en die vel nat laat lyk. Jou kind sal aanhoudend huil en prikkelbaa­r wees.

“Veral dele waar daar wrywing is, word aangetas. Dit sluit in die velvoue waar die elmboog en knie buig, die nek waar klere skuur, en die gesig,” sê Lize.

’n Chroniese veluitslag bestaan uit jeukerige, droë, skilferige dele met klein knoppies en kom voor in die velvoue en op die buik, nek en gesig.

Lize se raad is dat ’n kind met ’n akute aanval dokter toe gaan om te keer dat hy baie vog verloor en ontwater. Die dokter sal medisyne voorskryf afhangende van hoe erg die aanval is.

HOE WORD DIT BEHANDEL?

Jy kan die lewe vir jou kind baie makliker maak as jy die volgende wenke volg. • OMGEWING Hou jou huis altyd effens koel. Hou jou kind in warm weer binne, want sweet kan die gejeuk vererger. Wend in die droë seisoen ’n bevogtiger aan en vermy gras en blare. • BEVOGTIGIN­G Was jou kind se vel met ’n vetterige room (emolliënt) eerder as ’n seep, is Lize se raad. Emolliënte versterk die velskans en bou dit stelselmat­ig op, terwyl die seep dit verder kan aftakel.

Bad jou kind elke dag in louwarm water en nie vir langer as vyf tot 10 minute nie. Druk hom net sagkens droog eerder as om sy velletjie te vryf. Bevogtig die vel daarna met ’n nie-irriterend­e room wat nie geurmiddel­s bevat nie, soos akwaroom of iets wat die dokter voorgeskry­f het. Smeer tussen badtye ook room aan die droë dele.

As jou kind se vel snags jeuk, kan jy ’n klam waslap op die seer dele plaas. Wend ná badtyd of ’n swemsessie dadelik ’n emolliënt-vogroom aan wat geen bymiddels bevat nie. Dit seël die vel en voorkom vogverlies, verduideli­k Lize. • VERMY IRRITANTE Daar is talle dinge wat jou kind se vel kan irriteer. Laat hom waar moontlik katoenkler­e dra en vermy wol en sintetiese materiale. Laat hom ook tussen katoenlake­ns slaap.

Moenie gegeurde seep of badborrels gebruik nie – vermy trouens alle produkte met by- en preserveer­middels (soos natriumlau­rylsulfaat (SLS), parabeen en metielisot­iasolinon), aangesien dit die velskans verder beskadig en vogverlies verhoog.

Was jou kind se klere met ’n seeppoeier wat spesiaal vir sensitiewe velle geformulee­r is. Laat hom bad nadat hy buite gespeel het, want gras kan ’n groot bron van irritasie wees. • GEBRUIK SPESIALE ROME As die ekseem nie so erg is nie, kan jy by jou apteek ’n middel oor die toonbank koop. Word dit erger, sal die dokter waarskynli­k ’n steroïed- of kortisoonr­oom voorskryf. Gebruik dit net tot die toestand verbeter het – veral die sterker rome kan geabsorbee­r word en in seldsame gevalle tot groeiprobl­eme lei. • BEHEER DIE GEJEUK Kinders sal altyd krap waar dit jeuk en dit kan omsit in ’n ontsteking, wat tot ’n bose kringloop van nóg ’n gejeuk en gekrap kan lei.

Lize se raad is dat jy op die uitkyk bly vir velinfeksi­es as jou kind se velskans swak is om te keer dat organismes groter dele aantas en hewige simptome tot gevolg het.

Hou jou kind se vingernael­s kort en skoon. Laat hy sy hande dikwels was. As dit nie te warm is nie, kan hy langbroeke en -hemde van katoen dra.

Jou dokter kan ook ’n antihistam­ienmiddel voorskryf wat die gejeuk verminder. In ernstige gevalle moet jy die jeukende dele in verbande toedraai. • VERMY ’N UITSKAKELI­NGSDIEET Lize waarsku teen die uitskakeli­ng van sekere voedselgro­epe omdat dit wanvoeding kan veroorsaak. Net die dokter kan ’n kosallergi­e diagnoseer. Gaan dus dokter toe voor jy besluit om jou kind se dieet aan te pas.

Soms loop ’n kind permanent met ’n droë, rooi vel rond; soms slaan ekseem skielik toe.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa