Aan jou bénoaantrasfel
Jou kleinding is reg om te eet. Beteken dit jy moet hom speen? Allermins. Ons verduidelik hoekom borsmelk in die eerste jaar bobaas bly, en hoe jy die oorgang na vaste kos kinderspeletjies kan maak.
Moedersmelk bevat al die voedingstowwe wat klein lyfies nodig het om optimaal te groei en te ontwikkel, en dit boonop in die volmaakte hoeveelhede en kombinasies. Vir die eerste ses maande het jou pienkvoet niks meer nodig nie – nie eens water nie.
’n Mens hoor dikwels dat eksklusiewe borsvoeding in die eerste ses maande noodsaaklik is, maar wat presies behels dié ideaal?
“Eksklusiewe borsvoeding” beteken: 1. Jou baba kry geen ander vloeistowwe of
vaste kos as borsmelk nie. 2. NIE dat baba op ses maande gespeen moet word nie. Mense meen dat borsmelk daarna nie meer noodsaaklik (of selfs voedsaam) is nie, maar niks kan verder van die waarheid wees nie.
DIE ROL VAN BORSVOEDING NÁ SES MAANDE
Volgens deskundiges soos die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en die Amerikaanse pediatrie-vereniging (AAP) behoort borsmelk tot op ’n jaar babas se stapelvoedsel te wees, en moet borsvoeding daarna verkieslik voortduur. Die meeste vaste kosse het minder kalorieë en voedingswaarde as borsmelk. Wat meer is, dit bevat geen immuunfaktore nie.
Het jy geweet dat jou melk verander namate jou baba groei en ontwikkel? Namate hy meer handvaardig en mobiel raak en meer kieme teenkom, styg die konsentrasie immuunfaktore. Borsmelksamestelling reageer selfs op gesondheidsbedreigings in jul omgewing. Gestel jou kleinding tel ’n gogga op waaraan jy nie tevore blootgestel was nie. Sodra hy voed, vloei die kieme in sy speeksel “stroomop” na jou borsweefsel. Jou liggaam vervaardig die regte teenliggame, en binne ure wemel jou melk daarvan.
Moedersmelk is soveel meer as voedsel. Dit bevat suikers, vette en aminosure wat breinontwikkeling stimuleer, stamselle, honderde soorte “goeie” bakterieë, asook kankerwerende faktore wat die gevaar verlaag dat een van julle kanker kry. Boonop het dit meer as 100 bestanddele waarvan die funksie – en moontlike bykomende gesondheidsvoordele – nog onbekend is.
HOE LATER HOE KWATER?
Het jy gehoor dat babas op vier maande moet begin eet om hul risiko vir allergieë, glutenonverdraagsaamheid en tipe 1-diabetes te verlaag? Verskeie gesaghebbende deskundiges het die navorsingresultate hersien en dié aanbeveling ongegrond verklaar. Die deurslaggewende faktor is nie die ouderdom waarop ’n baba aan potensiële allergene (stowwe wat allergieë veroorsaak) blootgestel word nie, maar die feit dat dit moet geskied terwyl hy nog borsvoed.
Aan die ander kant moet jou baba ook nie te laat met allergeniese kosse kennis maak nie. In die verlede is ma’s aangeraai om te wag met algemene sondebokke soos vis, eiers, soja, graansoorte, grondboontjiebotter en sitrusvrugte, maar huidige navorsing toon dat dit vanaf ses maande gegee moet word. Hierdie riglyn geld egter nie as jou kind ’n bestaande allergie het nie. Vra liefs mediese raad.
HOEVEEL BORSMELK EN HOEVEEL KOS?
Volgens die AAP behoort ’n baba se borsmelkinname regdeur sy eerste jaar konstant te bly. In hierdie stadium moet vaste kos borsmelk aanvul eerder as vervang.
Die meeste ma’s se melkvoorraad stabiliseer ses weke ná die geboorte, wanneer die gemiddelde baba omtrent 800 milliliter per dag drink. Anders as bottelbabas benodig borsbabas nie ál meer volumes nie, want die samestelling van hul melk verander namate hulle groei.
Jy kan verseker dat baba genoeg borsmelk inkry deur hom voor sowel as ná etes aan die bors te sit, en hom tussendeur op aanvraag te voed. Beskou borsmelk en vaste kos as onafhanklik van mekaar, en etenstye as oefensessies. Aanvanklik is ’n teelepel kos een keer per dag genoeg. Die idee is dat baba aan smake en teksture gewoond raak, nie dat hy hom trommeldik eet nie.
In die tweede halfjaar is borsmelk die hoofgereg en vaste kos poeding. Daarna verander dinge geleidelik tot jou kleinding uiteindelik vir die lekkerte borsvoed.
PRAKTIESE WENKE VIR MODERNE MAMMAS
• Laat jou baba die leiding neem. Jou verantwoordelikheid is om gesonde kos beskikbaar te stel – hy kan besluit wanneer, wat en hoeveel hy wil eet.
• Laat hom van kleins af by julle aan tafel sit sodat hy etenstye met gesellige samesyn verbind. • Die beste beginnerskos is dié op jou bord, veral sink- en ysterryke voedselsoorte. Verwyder die los deeltjies aan ’n hoender- of vleisbeen en gee dit vir baba om te suig. Hy behoort ook saggekookte groente soos wortels, botterskorsie of patat te geniet. Piesang en avokado is propvol voedingswaarde, en niks streel seer tandvleisies soos koue waatlemoen nie. • Volg ’n ontspanne, inskiklike benadering. Jy hoef nie met ’n spesifieke kossoort te begin of by ’n voorgeskrewe volgorde te hou nie. Tensy julle ’n familiegeskiedenis van voedselallergieë het, hoef baba nie dieselfde kossoort te eet vir etlike dae nie. Bied vir hom kos aan wanneer dit gerieflik is. Sou julle soms ’n dag oorslaan, is dit piekfyn. • Eers gaan baba hoofsaaklik met sy kos speel. As hy enigiets inkry, is dit ’n bonus. • Maak vrede met die gemors of eet buite. Weerstaan die versoeking om baba se gesiggie af te vee voor hy klaar is. • Respekteer sy smaakknoppies. Moenie ’n ophef maak as hy iets weier nie, maar bied dit kort daarna weer aan. Kinders moet 10 tot 15 keer aan sekere smake blootgestel word voor hulle daarvan begin hou.