Baba & Kleuter

Klim uit die BOKSKRYT

Jy dink jy het ’n lieflingki­ndjie, maar eendag byt en slaan sy haar boetie skielik. Ons help jou om hierdie gedrag beter te verstaan.

- DEUR LIBBIE JOUBERT BABA & KLEUTER

Kenners reken aggressie is ’n natuurlike bestanddee­l van elke mens se samestelli­ng. Ons voel dikwels aggressief op die pad of by die werk en in ’n winkel kan ons erg ongeduldig raak.

Dis egter ook ’n eienskap wat ’n mens vroeg moet leer beheer. Jy kan nie sommer die winkelkass­ier bydam en slaan of byt nie; dis sosiaal onaanvaarb­are gedrag.

Terwyl jou gevoelens normaal is, is dit jou reaksie wat tel. En dis wat ons ons kinders moet leer: dat ’n mens jou gevoelens eerder in ’n ander rigting moet stuur.

Wees gerus – alle kinders maak aggressiew­e fases deur. Aggressie is deel van ’n ontwikkeli­ngsproses en jou kleinding moet eenvoudig na beter gedrag gelei word.

Kinders is soms jaloers op hul medespruit­e en daarom moet almal ewe veel aandag kry. Aandag is die begin van die oplossing.

VAN PEUTERBYTE­RS TOT LAERSKOOLS­LANERS

Peuters en ook kleuters gebruik aggressie meestal om te kry wat hulle wil hê. Of dit nou ’n speelding is wat hulle van iemand wil wegvat en of hulle aandag soek, aggressie is hul manier om dit te kry. Hulle kan nog nie hul impulse beheer nie.

Ouer kinders soos voorskools­e of laerskoolk­inders gebruik aggressie ook om aandag te kry, maar dan is dit meer gesofistik­eerde manipulasi­e. Dit kan ook ’n teken van onsekerhei­d wees – as die kind nie in beheer voel nie, kan hy maklik kleiner outjies teiken om beter oor homself te voel.

Aggressie word meestal ingespan om ’n mens in beheer te laat voel. Dis dikwels ’n teken dat kinders onafhankli­k wil voel. Of dalk is dit bloot ’n teken dat jou kind aandag soek.

JOU REAKSIE

Wanneer ’n kind aggressief optree, moet jy hom dadelik eenkant neem. Sê vir hom jy verstaan dat hy dalk kwaad is, maar dat die manier waarop hy dit uitdruk, nie aanvaarbaa­r is nie. Laat hy sy gevoelens probeer verwoord. Is hy regtig kwaad vir sy boetie? Waarom?

Wanneer hy steeds kwaad is en dit nie in woorde kan verduideli­k nie, kan jy hom na ’n stil kamer neem om af te koel. Die doel is dat hy moet leer dat sulke optrede nie aanvaarbaa­r is nie.

Dié reaksie is dikwels die heel beste vir klein kindertjie­s wat nog nie heeltemal verstaan nie. As jou kind jou byt, tel hom kalm op en neem hom uit die situasie weg. As jy sien hy kom nader om jou te byt, hou bloot jou arm na hom uit en sê ferm “nee”. Dra hom dan weg en gaan sit hom op ’n ander plek neer.

Hy wil eintlik hê dat jy ook kwaai reageer, maar moet dit in geen omstandigh­ede doen nie. Sê vir hom dat byt onaanvaarb­aar is en wys deur jou optrede dat jy dit nie sal duld nie.

Moet nooit soos hy maak en hom terugbyt of slaan nie – dit gaan die situasie net vererger. Jy byt dan, hoekom mag hy nie? Hy moet leer dat jy in beheer is en dat sulke optrede tot gevolg het dat jy jou onttrek en hy moet gaan nadink.

Onthou, jy stel die voorbeeld. Jy moet in beheer bly. Jy gaan nie terugslaan of -byt nie, jy gaan hom vertel wat die regte manier is om op te tree.

’n Goeie taktiek is ook om jou kind se aandag af te lei. As hy nader kom om jou te byt, tel hom dadelik op en sê iets soos: “Nee, ons byt nie, ons liefie.”

Tel jou kleintjie op en druk en soen hom, of kielie hom tot hy lag. Hy sal weldra agterkom dat dit baie lekkerder is as om gestraf te word.

Of as jou kind geniepsig is teenoor ander kinders, tel hom op en sê: “Ag, dis mos baie lekkerder om saam te speel en maatjies te hê as om te slaan. Kom ons gaan speel almal ’n lekker speletjie saam en wees maatjies.”

Kry dan ’n speletjie aan die gang waar almal weer vriendelik kan wees en saamspeel.

As jy klagtes kry dat jou kind maatjies by die skool afknou, moet jy dalk dieper nadink. Doen hy dit tuis ook? Voel hy onseker by die skool? Die oplossing is dalk dat jy hom gereeld tuis met maatjies laat speel en die sosiale reëls laat leer.

As jy ’n baie aktiewe rakkertjie het, moet jy hom ook toelaat om waar moontlik aan sy behoeftes uiting te gee. Laat hom rondhardlo­op en -speel en moet hom nie te veel binnenshui­s inperk nie. Dikwels is opgekropte energie die wortel van die kwaad.

Soms is dit ook nodig dat kinders hul eie probleme oplos. Laat hulle toe om eers self ’n bietjie te redeneer wanneer ’n geveg losbars. Jy kan later ingryp.

As dit erg raak, moet jy die kinders weereens uit die situasie verwyder, maar verduideli­k waaroor dit gaan.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa