Baba & Kleuter

Slimkop van die speelkamer

Speel is ’n baba se werk! Hier is die topspeletj­ies en -speelgoed in sy eerste twee jaar.

- BABA & KLEUTER DEUR TERÉSA COETZEE

Selfs die eenvoudigs­te speletjies help jou baba om vinniger bewus te raak van jou, homself en die omgewing om hom. Ons wys jou watter speletjies en speelgoed die beste resultate gaan oplewer in elke fase van ontwikkeli­ng.

6 TOT 12 MAANDE

Sodra Boetie op sy eie kan sit, word die speletjie-moontlikhe­de soveel groter. Hy kan self begin reik na speelgoed wat hom interessee­r en boonop alles wat lekker lyk, in sy mondjie druk!

Gee vir hom verskillen­de voorwerpe met verskillen­de teksture om aan te voel en laat hom ook toe om aan nie-giftige voorwerpe te proe.

’n Bakkie met water kan vir net soveel pret sorg, maar sorg dat jy áltyd daar is om toesig te hou. Onthou, ’n baba van hierdie ouderdom kan selfs in ’n hondebak se water verdrink.

Jy sal agterkom dat jou baba in hierdie stadium al meer daarvan begin hou om rowwer en aktiewer te speel. Tel hom hoog in die lug op of wip hom op en af op jou knie.

Sodra jou baba hier teen nege maande begin kruip, sal hy alles wil ondersoek wat op sy vlak is. Gee hom speelgoed wat kan beweeg, soos iets wat hy agter hom kan aantrek of wat vorentoe rol as hy daaraan stamp.

In hierdie stadium kan selfs die onwaarskyn­likste voorwerpe vir hope pret sorg, soos jou Tupperware-kas of selfs ’n paar kastrolle en lepels!

Tot jou groot frustrasie sal Boetman ook oorsaaklik­heid begin uittoets – dis noú dat hy begin om goed van sy eetstoeltj­ie af te gooi. Daar is mos niks so lekker as om te sien hoe mamma elke keer afbuk en dit weer optel nie! BESTE SPEELGOED VIR 6 TOT 12 MAANDE • Groot plastiekbo­ublokke • Speelgoed wat op mekaar gestapel word • Groot speelgoedm­otors • Speelgoed wat verskillen­de geluide maak • Eenvoudige musiekinst­rumente • Hardebandb­oekies met prentjies

12 TOT 18 MAANDE

Teen dié tyd is jou baba baie bewus van al die verskillen­de teksture om hom. Hy wil aan alles vat, sien hoe dit van vorm verander en hoor watter geluide dit kan maak as hy dit druk en gooi en smeer.

Dis nou die tyd om jou kleinding aan verf, klei, deeg, modder en skuim bekend te stel, want dit sal boonop help om sy tassin, handoog-koördinasi­e, reuksin en gehoor te ontwikkel.

Maak vir Boetman vingerverf aan en smeer dit op ’n groot stuk papier. Moedig hom aan om strepies en patroontji­es met sy handjies in die verf te trek.

Julle kan net so lekker met nie-giftige gom speel terwyl hy allerlei goed soos ryskorrels, sand, pasta en selfs stukkies toiletpapi­er daarop plak.

Jou kind sal ook speelgoed geniet wat hy kan rondtrek en beheer. Dis ook nou die tyd om hom aan houtlegkaa­rte bekend te stel waarin hy eenvoudige vorms kan pas.

Hy kan groot vetkryte in sy handjie begin vasvat en op ’n groot stuk papier krabbel. BESTE SPEELGOED VIR 12 TOT 18 MAANDE • Nie-giftige vetkryte • Verf • Balle • Blokkies • Legkaarte • Boekies

18 TOT 24 MAANDE

Teen dié tyd behoort jou kind al goed te loop en sy speletjies is gewoonlik baie meer aktief as voorheen. Hy sal daarvan hou om op en af te klim en te hardloop, spring, kruip, rol, hom op goed te balanseer en selfs soos ’n apie onderstebo te hang.

’n Klimraam is seker een van die waardevols­te speelgoed waarin jy nou kan belê. Sorg dat jy altyd by is om toesig te hou, want hoewel Boetie se lyfie sterk genoeg is om tot bo te klim, is sy koppie nog nie slim genoeg om te keer dat hy báie hard van daar afval nie!

Onthou, deur te klim en klouter leer jou kind groot motoriese vaardighed­e, sy lyf se posisie in ruimte en dat hy ’n linker- en regterkant het (hoewel hy dit nie noodwendig nou al kan benoem nie). Die twee helftes van sy brein word geïntegree­r, wat voorbereid­ing is vir lees en skryf. Dit help ook met spiertonus.

Speel speletjies waar jou kind na die dele op sy lyfie moet wys wat jy benoem en moedig rolspel aan waar hy oor die telefoon gesels of sy teddiebeer kos gee.

Dis ook in hierdie tyd dat hy die pret van ’n ryding soos ’n plastiekmo­torfiets begin ontdek. BESTE SPEELGOED VIR 18 TOT 24 MAANDE • Speelgoed waarop hy kan ry, soos ’n

motorfiets of driewiel • Verf • Sand en water • Deeg • Poppe

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa