BABA se DIEET & CHRONIESE SIEKTES
Ek het onlangs gelees dat my kind se eetgewoontes sy kans op chroniese siektes as volwassene kan beïnvloed. Is dit waar?
ANEL KIRSTEN ANTWOORD: Die eerste 1 000 dae van ’n baba se lewe (van bevrugting tot en met twee jaar oud) het ’n groot invloed op sy langtermyn-gesondheid, soos die ontwikkeling van sy immuunstelsel. Dit beïnvloed ook sy latere eetgewoontes en die gevaar wat hy as volwassene het om chroniese siektes op te doen. Verskeie faktore speel hier ’n rol. As jy jou kind tot ná ses maande borsvoed, help jy keer dat hy te veel gewig aansit en dit werk deur tot in sy latere lewe – borsvoeding nou help voorkom dat hy eendag vetsugtig is en die chroniese siektes opdoen wat met vetsug verbind word.
Mense wat in hul vroeë baba- en peuterjare te stadig groei óf te vinnig langer en swaarder word, loop ook ’n groter gevaar om later chroniese siektes op te doen.
Babas wie se gewig te laag is of wat te kort is, het byvoorbeeld ’n groter kans om later ’n hart-en-bloedvatsiekte of diabetes te kry, of selfs ’n beroerte.
Korter kinders wat daarna vinnig langer word, het weer ’n hoër risiko om beroerte en sekere soorte kanker te kry.
Nog faktore wat chroniese siektes meer waarskynlik maak, sluit in ’n ongesonde dieet, te min oefening, rook en alkoholverbruik in die tienerjare.
’n Ongesonde dieet in hierdie vormingsjare dra by tot die ontwikkeling van hoë bloeddruk, wat weer aanleiding kan gee tot hart-en-bloedvatsiektes en vetsug as grootmense.
Daar’s ook ’n verband tussen die inneem van baie kilojoules as kind en ’n groter gevaar van kanker in ’n mens se latere lewe.
Die meeste chroniese siektes word eers in die volwasse jare sigbaar, maar dit kan al in ’n baba se eerste 1 000 dae gepak word. Dis dus ’n belangrike tydperk vir die voorkoming van latere chroniese siektes.
Faktore wat in die eerste 1 000 dae ’n bepalende rol in die gevaar van latere chroniese siektes kan speel, sluit in: • Die voedingsomgewing tydens swangerskap
en in die eerste lewensmaande, • Die soort voeding (bors of formule) en die
duur daarvan • Die ouderdom van bekendstelling aan vaste
kos en die soort en gehalte van die vaste kos, • Ouers se reaksie op baba se boodskappe dat
hy honger of versadig is, • Die hoeveelheid suiker wat baba inkry, en • Hoe baie baba slaap.
Voedingstrategieë speel dus van die eerste oomblik van lewe af ’n sentrale rol in die voorkoming van chroniese siektes. Dieetgewoontes en -patrone wat nou vasgelê word, is die fondament waarop volwasse eetgewoontes gebou word – en dus ook volwasse gesondheid.