‘DIT HET MET MY GEBEUR’
Ek het werklik gedink die naarheid is sommer ’n ouvroustorie. My ma het my egter gewaarsku dat sy baie siek was met al drie haar swangerskappe.
Ek het met my eerste swangerskap op agt weke begin opgooi. Aanvanklik was ek net ’n bietjie naar tot ek so baie gebraak het dat ek ontwater het en niks kon inhou nie. Ek het so siek geword dat die aartjies in my gesig gebars het. Ek het my ginekoloog gekontak en daar het ek aanvanklik net gehoor dat “van ons meer naar as ander is”.
Net voor 12 weke het ek my dokter geskakel wat my toe in die hospitaal laat opneem het. Ek was ontwater en daar was bloed in my urine. Ek was vier dae lank in die hospitaal.
Terug by die huis het alles weer begin. Ek het steeds geen medikasie gekry nie. Ek was ongelooflik terneergedruk en was bang om soggens wakker te word en weer siek te wees. Die feit dat min mense kennis dra van die toestand, veroorsaak groot alleenheid. Jy is ook bang mense dink jy sit aan. Ek was daarby bekommerd oor wat my swak eetgewoontes aan my baba doen.
Hoewel ek baie simpatie by my werk gekry het, het ek steeds verantwoordelikhede gehad. Dis moeilik om elke dag te werk terwyl ’n mens in so ’n toestand is. Ek moes my man baie dae skakel en vra dat hy skoon klere bring.
Ek was baie skaam, want jy het geen blaasbeheer as jy so siek is nie. Jy voel kwesbaar en hulpeloos. Jy wil nêrens heen gaan nie – net by die huis bly en slaap. Ek het naweke tot 20 uur per dag geslaap. My verhouding met my man het agteruitgegaan en ek het van my vriende onttrek.
My naarheid het teen 30 weke begin afneem en Milan het met geboorte 3,2 kg geweeg.
In 2015 het ek weer swanger geraak. Ek het geglo ek sou dié keer nie weer naar word nie. Agt weke swanger en daar begin dit weer! Dit was hierdie keer erger en met ’n kleuter in die huis kon ek ook nie meer so baie rus nie. Sensoriese-integrasiesindroom is ook by Milan gediagnoseer en sy het dus baie ekstra aandag vereis.
Met my ondersoek op nege weke het ek Zofer, ’n medikasie wat vir hiperemese help, begin drink. Dit het ongelooflik goed gewerk, maar dit is baie duur.
Ek het met hierdie swangerskap ook heeltyds gewerk, maar het baie dae tuis gebly. Milan, wat toe net vier jaar oud was, het dan vir haar self koeldrank en broodjies gemaak omdat haar mamma net te siek was om op te staan.
Ek was dié slag my hele swangerskap lank siek, tot die dag dat Willem gebore is. Hy was mooi groot en het met geboorte 4,18 kg geweeg.
Milan het op vier vir haarself broodjies gemaak omdat mamma te siek was om op te staan.