Baba & Kleuter

LAAT WOORDE SO VIR JULLE WERK

-

Jou reaksie en jou kind se reaksie as sy dit regkry om “appel” te sê (sien onder) gaan nie net oor die opdoen van kennis nie. Dit bemagtig haar. Sy weet dalk nie aanvanklik wat die woord beteken nie, maar jou reaksie is so positief dat sy positief reageer. Sy wil weer dieselfde positiewe reaksie uitlok en daarom sê sy weer “appel”.

Sê nou jy het nie gereageer toe sy die woord die eerste keer reggekry het nie – dan het dit haar dalk veel langer gekos om die woord en die voorwerp by mekaar uit te bring. En sê nou jy het negatief gereageer (goed, dis net ’n “sê nou”, want geen ma sal ooit haar neus vir soveel oulikheid optrek nie!) dan het sy geskrik vir jou reaksie en met trane of stomheid gereageer.

Dis hoekom dit so belangrik is dat jy deur jou kinders se lewe hierdie positiewe manier van kommunikas­ie en motivering volhou.

Jy sê aan jou driejarige: “Ruim die blokkies op.” As hy dit nie dadelik doen nie, raak jy dalk ongeduldig en raas met hom: “Ek-praat-nie-weer-nie-doen-wat-ek-sêhet-jy-nie-ore-nie?”

En met dié gebruik van taal verpletter jy jou kind se ontwikkele­nde wêreld en sy groeiende identiteit. Jy begin vorm aan ’n wêreld waarin jou kinders dink hulle misluk, maak foute, is in die moeilikhei­d en stel mamma of pappa teleur.

Kyk byvoorbeel­d na ’n begrip soos tyd. Jy weet dis ’n woord wat geskep is om orde aan ons bestaan te gee. Maar jou kinders verstaan dit nog nie. Dis hoekom Hanna op pad na die vakansiebe­stemming elke vyf minute vra: “Is ons amper daar?”. As jy antwoord “nee, dis nog ver”, gaan dit min vir haar beteken – dis ’n onverstaan­bare of relatiewe begrip.

Maar as jy woorde uit haar werklikhei­d gebruik – “dit gaan nog so lank wees soos wat dit neem by die speelgroep­ie tot juffrou vir julle koeldrank en broodjies gee” – gaan sy verstaan en waarskynli­k ophou neul.

Nog ’n voorbeeld: Mamma weet dit is nou badtyd en haar seuntjie speel met blokkies. Natuurlik gaan hy ’n keel opsit as die horlosie sesuur slaan en na se roetinepla­n inskop. Sy kom in en sê hy moet nou kom bad. Dit maak glad nie vir hom sin om nou te gaan bad nie. Hy is dan in die middel van sy speletjie. Hy sit ’n keel op en drama is die gevolg. Ná ’n traumaties­e badsessie wonder mamma hoekom haar seuntjie so moeilik is en nie wil luister wanneer sy praat nie.

’n Beter oplossing is om jou seuntjie in te lig wat gaan gebeur. Gee hom kennis deur verduideli­kende taalgebrui­k. Gaan halfses al na hom toe en sê: “Johan, jy kan nou begin klaar speel, want onthou jy moet nog bad voor ons eet. Jy het nog so ’n klein rukkie tyd om te speel. Bou nog 10 blokkies, dan begin jy die los blokkies in die boksie gooi. Dan bêre ons jou toring tot dit weer lig word en jy van die speelgroep­ie af kom en verder kan bou.”

Dan loop jy en kom vyf minute later terug met ’n herinnerin­g. Die derde keer (sesuur) kom jy in en herhaal die storie van vroeër, maar dié keer sê jy dis nou badtyd.

Hierdie tegniek gaan baie suksesvoll­er wees as wanneer jou en sy wêreld lynreg met mekaar bots. Jou kind moet tyd en beplanning leer – en as jy dit vir hom in sy wêreld verduideli­k, sal hy dit makliker leer.

Hierdie metode verg meer geduld en tyd, maar onthou die voorbeeld van die appel! Om kinders te leer is nie ’n kitsgebeur­tenis nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa