MA EN BABA SE TAAL
Elke mens heg verskillende waardes aan dinge wat gesê word en verstaan dit soms verskillend. Dit is waarom ons mekaar soms verkeerd verstaan.
Dit is hoekom ons nie van ’n tweejarige dieselfde kan verwag as van ’n sesjarige wanneer ons ’n opdrag in die huis gee of iets probeer verduidelik nie. Jou tweejarige se kennis van dit wat ons met taal wil verduidelik is nog beperk en sy ken sekere woorde nog nie. Daarom moet ons soms dieselfde ding oor en oor sê voor sy dit verstaan.
Dis maklik om te dink jou kind is stout of ongehoorsaam as jy oor en oor ’n opdrag moet herhaal, maar eintlik is dit ’n kommunikasiegaping omdat haar wêreld nog nie so ontwikkel soos joune is nie.
Kinders moet binne ’n baie kort rukkie ’n enorme hoeveelheid kennis en taalkundig-
heid opdoen. Hulle het herhaling en tyd nodig om alles te orden voor hulle dit ten volle kan verstaan en gebruik.
Ouers is geneig om trots te sê: “Ek praat net een keer!” Hulle verstaan nie dat herhaling nodig is om sekere boodskappe en begrippe te laat insink nie.
Jy gaan nie jou kleintjie “straf” as sy nie die eerste keer “appel” uitroep wanneer jy na ’n appel wys nie. Jy gaan aanhou tot sy dit op ’n dag regkry. En dan gaan jy haar opgewonde prys en sy gaan so goed voel dat sy “appel” sommer aanmekaar sê, sommer vir lemoene ook en dan gaan jy weer geduldig aan haar die proses herhaal om die verskil tussen lemoen en appel tuis te bring.
Sy kan nog nie die onderskeid tussen appel en lemoen tref nie, want sy het gewoon nog nie genoeg kennis van verskillende vrugte nie.