EK IS WAT JY SÊ EK IS
Namate kinders groter word, begin ons hulle in kassies plaas. Weer eens word taal ingespan om dit reg te kry. Jy dink (en sê soms) jou dogtertjie is “agterlosig”, “dromerig”, “onoplettend”, “vergeetagtig” en “deurmekaar”. Haar boetie is weer “georganiseerd”, “pligsgetrou” en “netjies”.
Dié etikette dra by tot die vorming van hul identiteit. As jy iets gedoen wil hê, vra jy jou seun, want jy weet jou dogter gaan die helfte van die opdrag vergeet. So maak jy hom die een wat altyd dinge moet doen en hy verfyn dié eienskap. Van haar verwag jy nie dieselfde nie en mettertyd is sy ook nie in staat om dit te doen nie. Iemand anders doen dit vinniger en beter en in die proses begin sy aan haar vermoë twyfel.
Ons is so geneig om kinders in taalkategorieë te plaas: stout, soet, moeilik, probleemkind – en kort voor lank glo die kind en die ouer dat sy in daardie kategorie hoort, en word die taalbeskrywing haar identiteit.
Taal is nooit onskuldig, neutraal of objektief nie. Dit gaan altyd met die oordrag van waardes gepaard. Elke woord wat ons sê, spruit uit ’n rits onderliggende waardes. Elke keer as ek taal gebruik, roep ek hierdie waardes op.
Daarom kan iets wat heel onskuldig lyk, eintlik ’n manier wees waarop ek waarde toeken. En daardie waarde kan negatief of positief wees.
As ouer probeer jy jou kind leer hoe om in ’n samelewing te funksioneer. As jou kind iets doen wat jou waardestelsel en die samelewing se waardestelsel as “onaanvaarbaar” of “verkeerd” beskou, wys jy jou kinders daarop om hulle te leer. Maar watter woorde gebruik ’n mens om dit te doen?
Jy kan sê: “Nee man, ’n mens maak gewoon nie so nie!” Die betekenis waarmee daardie sinnetjie gelaai is, is: “Jy is nie ’n mens nie, want jy het dan nou net so gemaak!” So bevraagteken jy jou kind se menswaardigheid.
En ja, nes ons kinders nie altyd die kennis het om die regte dinge te sê en doen nie, gaan ons dit ook nie altyd regkry nie. Dis iets wat ons moet inoefen en oor en oor moet probeer voor ons dit bemeester.
Solank ons net daarvan bewus bly dat ons taalgebruik die mag het om ons kinders se identiteit tot hul voordeel te vorm, maar ook tot hul nadeel.