Baba & Kleuter

E-pos uit die buiteland

Die McDonald-gesin laat hulle nie sommer deur die koue en reën van Berkshire naby Londen afsit nie – hulle ry fiets, klim berg en geniet die buitelewe nes hulle dit altyd in SA gedoen het.

- BABA & KLEUTER

Dis seker een van die mees bepalende faktore as dit kom by kind grootmaak in Engeland: die weer! My twee seuntjies is hier gebore, dus is die weer nie vir hulle vreemd nie en ná 13 jaar het ek en my man ook uiteindeli­k geklimatis­eer. Ons Suid-Afrikaanse en Australies­e wortels beteken egter ons is lief vir die buitelug. Ons gaan stap, klim berg (goed, eintlik heuweltjie­s) en ry gereeld fiets, ondanks die reën en koue.

Engeland het baie mooi woude, mere en natuurpark­e waar ’n mens veilig kan stap. Baie kinders in Engeland lei ’n binnenshui­se lewe waar hulle voor ’n televisies­tel of tablet sit. Ons seuns het definitief suidelike bloed in hul are en geniet dit meer om buite te wees. Ons gaan dus uit, selfs al is die temperatuu­r vriespunt!

Die oudste is ook lief vir sport en speel sokker wat die gewilde sport hier is, al hou mamma meer van rugby ...

Ons is gelukkig dat Josh van sport hou, want dit word nie aktief hier bevorder nie. Ek onthou dat almal in Suid-Afrika aan die eerste paar atletiekby­eenkomste van die jaar deelgeneem het, al kon jy nie een voet voor ’n ander sit nie. Hier vind sport meestal as ’n buitemuurs­e aktiwiteit plaas en die begrip van geesvang en sportliedj­ies sing op pawiljoene is vir die Engelse baie vreemd.

Kindersorg is ongeloofli­k duur. Baie ouers stuur hul kinders op ’n jong ouderdom na die (gratis) staatskool sodat hulle die peperduur fooie van kleutersko­le kan ontduik.

Die meeste kinders gaan reeds op vier jaar skool toe, al is die verpligte skoolouder­dom vyf. Ek word vreemd aangekyk omdat ek my kind “eers” op vyf skool toe wil stuur. Die meeste skole begin negeuur in die oggend en kom eers halfvier in die middag uit.

In die winter spaar ons daglig en horlosies word ’n uur vorentoe gestel sodat ons kinders nie in die donker skool toe hoef te stap nie. Ja, kinders stap meestal skool toe. ’n Skoolplek word deur jou dorps- of stadsraad aangewys. Jy het nie ’n wye keuse nie. Dit is meestal die naaste skool aan jou huis, met die gevolg dat baie mense huis koop of huur naby aan die skool waarheen hulle hul kind wil stuur.

Die ander opsie is ’n natuurlik ’n privaat skool.

Engeland het ’n baie ryk geskiedeni­s. Ons geniet dit om kastele, museums en herehuise te besoek. Baie van die plekke kan maklik met die hulp van openbare vervoer bereik word.

Openbare vervoer is betroubaar en veilig. Kinders reis dikwels stoksielal­leen op treine en busse wanneer hulle ouer is.

Een groot voordeel is dat ander Europese lande naby is en ons dus taamlik maklik soontoe kan reis. Ons kinders het die voorreg om baie te vlieg en het reeds 14 lande besoek. Dis taamlik algemeen dat kinders hier hul lang somerskool­vakansie in Frankryk, Spanje of Portugal deurbring. Ski-oorde in lande soos Frankryk en Oostenryk is weer in die winter gewild.

Die goed wat ons die meeste mis, is die sonskyn en ons familie. Dis vir ons moeilik om saans uit te gaan, want daar is nie ’n ouma of oupa, oom of tannie by wie ons die kinders gou kan aflaai nie.

Die familieban­de wat ons as kinders in Suid-Afrika onthou, bestaan nie wanneer jy in ’n vreemde land woon nie. Dankie tog vir Skype en WhatsApp!

Elke land het sy eie voordele en uitdagings. Ons maak ten volle gebruik van die geleenthed­e hier, maar probeer terselfder­tyd om die Suid-Afrikaanse kultuur en waardes deel te maak van ons kinders se lewe. Daar is gelukkig ook altyd wonderlike lang vakansies in Suid-Afrika om na uit te sien!

Die verpligte skoolouder­dom is vyf, maar kleutersko­le is so duur dat ouers hul kroos op vier skool toe stuur.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa