Pa se stem
Ouma Christine is miskien van die ‘ouer generasie’, maar dis nie te sê sy weet niks van kind grootmaak nie . . .
Hypnos het ons ’n derduiwelse streep getrek. Die blikskottel. As ek dáái vervlakste Griekse god van slaap in die hande kry, druk ek ’n vinger in elk van sy lomerige ogies nog voor hy kan sê “gaap-gaap, dis tyd vir slaap-slaap”. En net om seker te maak die boodskap word duidelik oorgedra, skop ek ook sommer Hans Christian Andersen se Klaas Vakie onder sy jis. Hy is ewe useless. Ja, die gety het gou gedraai! Sommer so skielik, oornag. In so ’n mate dat ek en Carla onverhoeds betrap is. Want sien, dit het heel voortreflik gegaan met ons Benseun se slaappatroon. Eintlik veel beter as heel voortreflik. Vriende en kennisse met kleuters van Ben se ouderdom het dikwels met verwondering in hul oë (en, verbeel ek my, ’n tikkie jaloesie?) geluister as ons skaamteloos spog oor sy reëlmatige doedoeroetine. Of dit nou die oggendslapie is, of droomland toe ná badtyd saans, die mannetjie was ’n supersterslaper. Let op die woord “was”, liewe leser. Want … In daardie stadium was ons salig onbewus van die wrede ontnugtering wat op ons gelê en gewag het: daardie sluimerende wakkerbly-monster wat met die aanskemering sy kop net so effentjies lig en dan met mag en mening toeslaan sodra die ligte afgeskakel word. Slaap? Watwou! Waar is julle, pappa en mamma? Ek is reg om te ruk en rol! Ek is ’n uil en die nag is my prooi! Dis natuurlik bloot my interpretasie van sy woorde. Verbatim? “Ben NIE nou slaap NIE. Ben nou wakker.” Paniek. Ná ’n noodvergadering skryf ons dit toe aan “blote koppigheid” en besluit om die situasie vir eers te ignoreer. “Hy sal gou besef hy is moeg en dan uit- pass, my liefie. Tough love is nou nodig.” Die plan word in werking gestel. Ons strategie word bykans oombliklik teengestaan met ’n hartstogtelike geween en geneul. Sy indrukwekkende repertoire van verskriklike falsetnote en priemende pleite – “Ben ytkim, Ben ytkim” (Ben uitklim) – het geen einde nie. Nou slaap ons óók nie. Seker twee maande lank – kan meer wees, ek het ophou tel – woed dié stryd, iets wat ons vir ’n jaar lank nie beleef het nie. Hy was immers ’n sewe-tot-sewe-baba die 12 maande voor sy tweede verjaardag!
Ons maak beurte om snags by sy bababed stelling in te neem tot die slaap hom kom haal.
Ons skep praktiese reëls. “Q20 die skarniere van sy kamerdeur wat so kraak. Trek uit jou skoene voor jy by sy kamer ingaan. Maak seker die swart gordyn voor die venster is behoorlik toegetrek. Geen selfoon toegelaat, geen onnodige geluide nie. Sit stil. Wees geduldig. As hy roer of as dit lyk of hy wil opstaan, lê hom weer neer en druk die doedoe-dummy in sy mond.”
Dit werk, maar sukses is beperk. ’n Uur, miskien twee later is hy in droomland, rustig in die arms van Morpheus. Wie ook al aan diens was, glip dan geruisloos soos ’n muis met satynslippers uit sy kamer, bed toe. Maar kort voor lank sit meneer weer ’n keel op. Hierdie proses word dan herhaal tot hy uiteindelik teen omtrent vieruur die oggend finaal die stryd gewonne gee en diep slaap. “Great!” Darem drie uur voor ons werk toe moet gaan.
Later het ons noodgedwonge ’n matras langs sy kot neergelê sodat een van ons darem ’n behoorlike nag se slaap kon inkry. Wat natuurlik tot onvermydelike wrywing gelei het. “Sal jy vanaand by hom gaan lê? Ek het ’n vroeë vergadering môreoggend,” sal een byvoorbeeld vra. “Maar ek was gisteraand ook aan diens en moes vyf keer opstaan. Ek is poegaai en wil net een aand ononderbroke slaap.”
Ná twee maande van slaaphel smag ek en Carla na ’n blaaskans. My skoonouers woon ’n kort motorrit van ons af en stem met opgewonde oorgawe in om hom die naweek te huisves, selfs ná ons full disclosure oor sy ontwrigtende slaappatroon.
Totale stilte vir twee nagte. Salig! Vroeg bed toe saans en laat slaap soggens, selfs nadat jy om sesuur (weens die einste stilte) vervaard wakker geskrik het.
Met ons terugkeer die Sondagmiddag wag ouma Christine ons in.
“Ek weet wat fout is,” kondig sy trots aan. “My kleinkind wil nie meer in ’n kot slaap nie. Dis hoekom hy skree. Hy voel vasgevang. Hy kort ’n behoorlike bed. ’n Seuntjiebed. Dit sal hom uitsorteer.”
Nou ja. Ek liasseer dié een onder Lesse Geleer. Nooit weer sal ek dink die “ouer generasie” is uit voeling met moderne metodes van kind grootmaak nie.
Ben hét toe kort voor die nuwe jaar sy seuntjiebed gekry, met sy eie matras en duvet. Dit was (en is soms steeds) ’n aanpassing, maar hy slaap reeds snags veel beter. Ons ook. Genadiglik.