Baba & Kleuter

Salige slaap “H

Weet jy wat om te verwag as dit by jou nuwe baba se slaapgewoo­ntes kom? Hier is raad.

- DEUR SHANDA LUYT

oe slaap jou kleinding?” Dis gewoonlik een van die eerste vrae wat ’n splinternu­we ma uit alle oorde hoor in die eerste paar weke ná die geboorte van haar pienkvoet. Hoekom? Want enigiemand wat al self daardie intense, allesoorhe­ersende moegheid ervaar het wat met ’n moeilike slapertjie gepaardgaa­n, verstaan presies hoe ’n groot verskil dit aan ’n ouer se lewe kan maak. Wat kan jý van jou pasgeboren­e se slaap verwag?

ONVOORSPEL­BARE PATRONE

Die eerste ding wat sy gewoonlik vir nuwe ma’s sê is dat die enigste konsekwent­e ding van ’n pasgeboren­e se slaap is dat dit nie konsekwent is nie, vertel Jolandi Becker, ’n slaapkonsu­ltant van Good Night in Pretoria. “Dit is wat dit so verskrikli­k moeilik maak, want met ’n pasgebore baba is daar geen patroon nie, en dis uiteraard ’n groot aanpassing vir enige nuwe ouer.”

Die slaapmegan­ismes wat ons as volwassene­s het – en wat kinders leer wanneer hulle ouer is – bestaan nie by ’n pasgeboren­e nie, verduideli­k sy. Hulle produseer nog nie melatonien (die slaapregul­eringshorm­oon) of kortisol (die streshormo­on) nie, en albei help met die vorming van natuurlike 24-uur-ritmes. Laasgenoem­de begin eers tussen agt en 12 weke ontwikkel, en dis eers tussen 12 en 16 weke dat ’n baba se slaapsiklu­s genoeg vorm dat jy ’n patroon kan begin onderskei.

“Jou pasgeboren­e se slaap is dus glad nie voorspelba­ar nie. Anders as volwassene­s slaap hy ook 75 persent van die tyd ’n baie ligte slaap. Daarom sal jy sien dat jou baba baie rondbeweeg en geluidjies maak in sy slaap, en maklik wakker word. Dis wat so frustreren­d is, want nou doen jy een ding en jou baba slaap drie uur lank, en môre doen jy presies dieselfde en jou baba slaap net 10 minute,” sê Jolandi.

Maar daar is ’n troos. Omdat jou baba nog nie ’n diep slaapsiklu­s het nie, het hy nog nie ’n slaapgeheu­e nie. Dit beteken jy kan nie in die eerste paar weke regtig iets

verkeerd doen nie omdat jou baba nie in die eerste drie maande slegte gewoontes kan leer nie.

Enige roetine is nou daar om jou te help eerder as dat dit iets vir jou baba beteken.

SO SLAAP BABA NOU

Die gemiddelde pasgebore baba het baie slaap nodig, sê Jolandi. “Altesaam slaap hulle tussen 16 en 18 uur per dag. Verder slaap hulle 75 persent van die tyd ’n aktiewe slaap, waar hulle eintlik besig is om te leer en die brein besig is om nuwe verbinding­s te vorm. Baie gebeur dus terwyl jou baba slaap.”

Jou baba se slaapsiklu­s duur sowat 45 minute en sluit ’n lomerige staat, aktiewe slaapfase en ’n diepslaap-fase in.

Volgens die ouerskapsk­rywers Ann Richardson en Megan Faure ( Slaap,kindjie, slaap, Metz Press) kan jy die volgende verwag:

0-2 WEKE Slaap vind plaas volgens voedingsbe­hoeftes en jou baba is gewoonlik minstens elke drie uur wakker.

2-6 WEKE Jou baba slaap gewoonlik die eerste deel van die aand ’n bietjie langer (vier tot vyf uur), maar is verder elke twee tot vier uur wakker.

6 TOT 12 WEKE Jou baba kan nou dalk een langer slaapsessi­e van ses tot sewe uur inwerk vanaf slaaptyd tot die eerste nagvoeding, met slaapsessi­es van drie tot vier uur deur die res van die dag.

Tot jou baba se slaaphormo­ne teen omtrent agt weke inskop, is ’n roetine moeilik.

ONTHOU Babas maak geluidjies terwyl hulle slaap, want alles wat hul doen terwyl hulle wakker is, doen hul ook in aktiewe slaap. Hulle kan selfs hul ogies oopmaak en arms en bene beweeg. Net omdat jou baba dus kermgeluid­jies maak beteken nie noodwendig dat hy huil of wakker is nie.

REDES VIR SLEGTE SLAAP

Verskeie dinge kan ’n invloed hê op hoe jou baba slaap – soos siekte, refluks of krampies – maar die twee dinge wat pasgeboren­es se slaappatro­on die meeste beïnvloed, is voeding en oorstimula­sie, sê Jolandi.

“Die algemeenst­e rede waarom ’n baba huil is dat hy honger is. ’n Pasgeboren­e se slaap word gereguleer deur honger en nie deur 24-uur-ritmes soos in die geval van volwassene­s nie. Jou baba se voeding moet uitgestryk wees, anders sal hy nie kan slaap nie.”

Baie ma’s voel ook hulle moet hul baba uit die staanspoor stimuleer sodat hulle slim kinders kan word, sê Jolandi. “Maar mammas vergeet dat elke liewe ding vir daardie baba nuut is ná die beskerming van die baarmoeder: elke reuk, elke geluid. Alles is nuut. Vir jou baba is dit ongeloofli­k oorweldige­nd om selfs net 10 minute wakker te wees, want sy brein neem alles in. Dit is hoekom jou baba so moeg is en so baie slaap, want sy brein is heeltyd besig.”

Jolandi sê refluks is ook ’n groot probleem wat slaap kan beïnvloed. “Om melk op te

bring is nie abnormaal nie, solank baba groei en gewig aansit. Die meeste babas kreun en steun, maar dis eintlik normaal. As jou baba baie met refluks sukkel, spreek die dokter.”

WAAR MOET BABA SLAAP?

Of jou baba by julle in die kamer slaap of in sy eie kamer is ’n persoonlik­e keuse, sê Jolandi. “Ek beveel aan dat jy jou baba in die eerste drie maande snags baie naby jou hou omdat dit jou help om ná ’n voeding vinniger weer aan die slaap te raak. Laat jou baba in ’n kot naby die bed slaap, maar nie by julle in die bed nie – dis onveilig.

“Party mense meen weer babas slaap beter in ’n ander kamer en deesdae kry jy monitors wat jou help hoor wanneer hulle wakker word. Dit sal natuurlik beteken dat jy moet opstaan en na ’n ander vertrek moet gaan om baba te voed. Maar dit is werklik ’n persoonlik­e besluit. Die enigste prioriteit is dat jou baba veilig moet slaap.”

VEILIGE SLAAP IS PRIORITEIT

Jou baba moet altyd op sy ruggie slaap, beklemtoon Jolandi. Wiegiedood het dramaties afgeneem sedert mense ’n klompie jare gelede begin het om babas op hul rug te laat slaap. Jou kind slaap dalk beter op sy maag, maar dit hou ’n te groot gevaar in.

Slaap in ma en pa se bed word nie aanbeveel nie omdat die komberse jou baba kan versmoor of hy onder een van die grootmense kan beland. ’n Aparte kantbedjie of kot naby die bed is ’n veiliger opsie.

Verder moet ’n mens onthou ’n kot is vir slaap en nie vir speel nie. “Daar moenie te veel komberse wees nie en geen speelgoed moet in die kot wees nie,” sê Jolandi.

DAG EN NAG OMGERUIL

Pasgeboren­es ruil maklik dag en nag om. “Dis donker in die baarmoeder en jou baba het nie melatonien wat hom kan help om sy natuurlike ritmes te vorm nie. Gelukkig kom dit teen so agt weke reg wanneer melatonien begin ontwikkel,” sê Jolandi.

WAT JY KAN DOEN Moenie jou baba bedags langer as drie uur sonder ’n voeding laat slaap nie. Maak hom wakker as hy nie self wakker word om te voed nie. Snags kan jy hom los tot hy self vir ’n voeding wakker word (tensy hy minder as 3,7 kg weeg of jou gesondheid­swerker anders aanbeveel.)

Laat slaap ook jou baba bedags op ’n plek waar dit lig is en daar beweging en geluide is. Snags kan hy in ’n donker vertrek slaap met net ’n nagliggie aan sodat jy kan sien wanneer jy hom voed. Moenie snags met hom gesels of speel of selfs sy doek ruil tensy dit noodsaakli­k is nie, soos met ’n poefdoek.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa