Baba & Kleuter

STROOP VIR DIE SIEL

-

Waarskuwin­g: Dis Vadersdagm­aand en ek gaan dus ’n bietjie stroperig skryf oor die man in my lewe, ons kinders se pa. Ek en ons kinders het vir sy verjaardag – hy het onlangs 45 geword – ’n lys opgestel van 45 redes hoekom ons so lief is vir hom. Ons het lank voor sy verjaardag al begin en dit was ’n oefening wat ek vir enige gesin kan aanbeveel. Die idee was natuurlik om hom met die lysie spesiaal te laat voel, maar die uitwerking van die lysie-opstel-oefening was dat die drie van ons heeltyd op die uitkyk was vir al die gawe en positiewe dinge wat hy elke dag doen wat ons dikwels nie meer raaksien en werklik waardeer nie. Van die dinge was alledaags: Hy maak altyd die messe skerp en die motors vol brandstof. Ander dinge was sommer laf: Sy tekkies is so groot ons kan dit as dryfmiddel­s in die see gebruik in ’n noodgeval. En hy bestel dikwels ’n glas melk wanneer die ander mans bier drink. (Die uitdrukkin­g op die kelner se gesig is altyd kostelik. Die man hou nou maar eenmaal van sy melk.)

Die kinders is ook dankbaar dat hy so goed kan help met Wiskunde- en Duitsehuis­werk.

Maar vir my was die beste ding die laaste een op die lys. Dis iets wat hy elke dag doen, en dis so ’n doodgewone deel van my bestaan dat ek dit amper nie op die lys gesit het nie. Ek het dit eintlik eers raakgesien toe ek regtig mooi moes begin dink oor hoe om die lysie gou klaar te kry. Dis ’n metafoor vir ons hele verhouding: Hy tel my elke dag op. Dis soos ’n super-drukkie. Ek word van my voete af gelig en styf vasgedruk. Soms wriemel ek geïrriteer­d los, want ek’s besig. Partykeer hou ek my laf en buig soos ’n wafferse ballerina agteroor. Ander kere raak ek sommer slap in sy arms en sê ‘langer’ en soms gaan vra ek om opgetel te word. Maar meestal doen hy dit sommer net uit sy eie uit. Elke liewe dag.

Ons is al 25 jaar saam. As my somme reg is, beteken dit hy het my al 9 125 keer opgetel! Hy is maar ’n stillerige ou, maar hy wys my elke dag op hierdie manier dat hy my ondersteun en liefhet. Sjoe, ek’s gelukkig. Klaar met my stroop, tot volgende maand,

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa