Baba & Kleuter

’N KAKTUS OORLEEF ALLES

- CORNELI BEKKER, DRIE RIVIERE, LIMPOPO

Maandagogg­end: Toe ek my kop oplig, voel ek die naarheid opstoot. Ek is seker dit is ’n mengsel van oggendnaar­heid en gisteraand se warboel emosies. Swangerska­p en moontlike emigrasie maak nie soetkoekie­deeg nie.

Dress for success, besluit ek – parfuum agter die ore, lipstiffie en hoëhakskoe­ne (ek lyk darem nog nie soos ’n akrobaties­e olifant nie).

Ek is skaars by die werk, toe ek begin bloei. Terwyl ek die hospitaal binnestap, voel ek hoe my bloed en my moed mekaar in my skoene ontmoet. Ek wil net daar platval en huil, want met soveel bloed het ons ongetwyfel­d die baba verloor.

Hulle laat my op wit lakens sit; ek is net te moeg om te probeer verduideli­k. Ek moet skoon kom voor my man klaar is met die administra­sie van die opname – hy het nog moed en ek gun hom dit. Maar alles is vol bloed, my arms, my bene, my voete en my hart bloei ook. Die verpleegst­er se oë rek en sy bring skoon lakens en handdoeke.

’n Dokter sê vir my nuwe buurvrou hy is jammer oor die miskraam, maar hulle kan oor ’n maand weer probeer. Ek begin histeries lag. Ons maak planne vir en oor ons baba en ons het drome. Ons kan dit nie net oor ’n maand vervang met ’n nuwe een nie.

Die sonar wys ’n hartklop en ’n baba wat arms en bene rondswaai. Ek huil van vreugde, blydskap en genade. Ons baba leef!

Die volgende 24 uur is kritiek. Ek moet ophou bloei as ons baba moet bly leef. My man bring vir my ’n kaktus, want hy sê ’n kaktus oorleef alles!

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa