Toilethumor
Niks is ooit eenvoudig met ’n peuter en ’n kleuter in die huis nie, en dit sluit potjielesse in ...
As daar nou een ding is wat jou leer om jou pokergesig te oefen, is dit die prys van weggooidoeke. Kyk, jy wil nie daai pa wees wat mor en brom omdat doeke ’n fortuin kos en skynbaar elke week duurder word nie. Jy het immers geweet waarvoor jy jou inlaat. Maar elke keer as jy nog ’n pak van die winkelrak afhaal, skop jou laaste bietjie matriekrekeningkunde in en trek daar ’n rilling deur jou lyf as jy besef wat dit per doek kos. En as jy nou regtig ’n skok wil hê, gaan google gerus hoeveel doeke ’n gemiddelde kind die eerste paar jaar van sy lewe gebruik – en maak dán somme ...
So, daar kom noodwendig ’n tyd wanneer jy begin wens jou kleinspan was reeds almal uit die doeke.
Emma (pas 3) het so ’n paar maande gelede begin kla sy wil ook ’n broekie dra soos ousus Mia (5) en sy wil op die potjie sit – ’n duidelik teken dat sy gereed is om die doeke vaarwel toe te roep.
Goeie nuus vir ons begroting. Maar potjielesse is beslis ook nie vir sissies nie.
Die eerste stap is die inkopietog vir broekies. Nou sou jy dink dit is betreklik eenvoudig om vir ’n dogtertjie van byna drie jaar ’n paar broekies aan te skaf. Dink gerus weer. Danksy Disney en Nickelodeon is broekies koop nie perdekoop nie.
“Kyk hierdie mooi Elsa-pênties, Emma!” verklaar Mia, baie opgewonde oor hierdie groot stap in haar kleinsus se lewe. “Moet ons vir jou Elsa-pênties koop? Of Dora-pênties?”
“Ek soek My Little Pony-pênties!” sê Emma.
Oral in die winkel loop mense en proes van die lag terwyl hulle die drama gadeslaan.
“Of wat van hierdie panda-pênties?” speel Mia verder verkoopsdame. “Kyk, is dit nie te cute nie?”
“Ek soek My Little Pony-pênties!” sê Emma, arms gevou.
Vyf klerewinkels en ’n halfuur later kom ons tot die gevolgtrekking dat My Little Pony-broekies tans oral uit voorraad is. Maar Emma hou voet by stuk. En intussen het Mia hartstogtelik begin huil omdat sy sélf graag die panda-broekies soek wat ons in die eerste winkel gesien het.
Stap twee is natuurlik om die potjie in plek te kry. Mia se potjie word uit die buitekamer gehaal en afgestof. Emma is mateloos beïndruk, want die potjie is helderbont en kan selfs liedjies speel – al het die batterye weliswaar effens pap geword sedert Mia dit ’n paar jaar laas gebruik het.
Terwyl “Twinkle, Twinkle, Little Star” trekkerig as agtergrondmusiek speel, neem Emma plegtig op die geel-en-rooi pot plaas.
Mia hou die affêre met valkoë dop. Maar aanvanklik verloop dinge effe traag. Emma aard skynbaar na haar pa en laat haar nie aanjaag as dit by hierdie soort ding kom nie. Sy is doodgelukkig om die potjie se hele repertoire van liedjies deur te luister terwyl sy lekker gemaklik sit.
Mia is egter minder geduldig. Elke paar minute dring sy daarop aan om in die pot te loer.
“Is jy nog nie klaar nie, Emma?” wil sy later met ’n sug weet. “Los my,” knor Emma. “Ek poep.” Mia die dramakoningin slaan haar oë plafonwaarts. “Emma, ek dink jou boude is nou al lám gesit! Dis nog net piepie daar binne. Jy moet nou maar opstaan.”
Maar Emma sit. En so wraggies, toe sy oplaas opstaan, blyk dit die lang wag was die moeite werd.
Almal word geroep om die resultaat te bewonder. “Kyk hoe gróót is dit, Emma!” roep Mia beïndruk.
Highfives word uitgedeel. Emma gloei van trots.
Met soveel aanmoediging is dit g’n wonder nie dat die potjielesse daarna sommer fluks vorder. En Emma rapporteer klokslag ywerig oor die vorm, grootte en hoeveelheid wat haar pogings oplewer.
“Hierdie een lyk soos ’n luislang,” verklaar sy hande op die sye soos iemand wat ’n kunswerk bewonder.
En ’n ander keer: “Pappa, kom kyk! Ek het drié poefies gemaak!”
Ek gaan kyk. Inderdaad. Die kind is talentvol. Drie van hulle, netjies in ’n ry van groot na klein.
“Dis ’n mamma-poefie,” beduie Emma na die grootste een. “En daai is ’n Miapoefie. En hierdie is ’n ...” Toe huiwer sy en stap doodluiters weg, duidelik nie verder ingenome met die idee om haarself as deel van die poefgesinnetjie in te reken nie.
Sy word sommer gou-gou ’n potjie-pro, wat selfs met posisies eksperimenteer: “Mia, kom kyk! Ek lê en poep op my potjie!”
En nou is dit amper hier: Die dag wanneer ons ons laaste pak doeke gaan koop.
“Emma, jy is nou groot,” prys Mia nog elke keer as Emma ’n suksesvolle potjiepoging agter die rug het. “Jy’s nie meer ’n baba nie.”
Mia is reg, besef ek. Binnekort sal ek of Elize vir die laaste keer een van Emma se doeke ruil. En hoewel my beursie ’n sug van verligting slaak by die vooruitsig, is daar so ’n ongemaklike knop in my keel as ek daaraan dink ...
Oral in die winkel loop mense en proes van die lag terwyl hulle die drama gadeslaan.