Samesyn in SJANGHAI
Al trek hul hart soms met ’n punt Suid-Afrika toe, woon die Van Wyks heerlik in Sjanghai, China, waar ma en pa skoolhou en die kinders alte oulik Chinees praat.
Ons woon al amper vier jaar in Sjanghai, China. Die tyd het omtrent verbygevlieg. Ons het hier aangeland met ’n vyf maande oue baba, ’n twee en ’n halfjarige kleuter, drie tasse en winterklere op ’n rekordwarm dag van 47 grade Celsius! Maar ons het vinnig aangepas. My man het nog een dag gesê hoe die kinders net aangaan asof niks verander het nie, maar dat hy ’n bietjie aan kultuurskok ly. Ek het dadelik as ’n juffrou ingeval wat vir vier- tot vyfjariges skoolhou, terwyl Dawie na die kinders omgesien het. Hy het vir ons ’n aji (skoonmaker en kinderoppasser) gereël voor hy ook begin onderwys gee het. Ons het ons oudste op die bus na sy Chinese skool toe laat gaan en ná ’n dag of twee was daar geen trane meer nie.
Met ons eerste uitstappie na die winkel het ons ons met oop monde aan als vergaap! Ek het pizza gesien, dit gegryp en ons is daar uit. Kom ons sê maar net dat hul varsprodukte nog so vars is dat dit in die tenks swem of spring! Die tweede besoek was beter en ons het bekende handelsmerke begin herken, al was dit in Chinese karakters geskryf. Dit wys jou net hoe belangrik jou handelsmerk is!
Mense vra altyd wat ons hier eet. Ek antwoord: net wat ons wil! Ons kan alles hier kry, hoewel sommige goed net ’n bietjie meer kos. Maar ons kom goed reg by die Frans-internasionale supermarkgroep Carrefour, asook by meer Westers gefokusde aanlynwinkels.
My man en ek hou albei skool by dieselfde internasionale skool, maar op verskillende kampusse aangesien hy by die hoërskool wiskunde en ontwerp-entegnologie gee.
Paul-Wernich en Oliver is ook nou in ons skool. Hul praat te oulik Chinees en is nou drietalig. Ons het besluit om net Afrikaans by die huis te praat, maar vertaal gereeld sodat hulle dit ook by die skool kan oorvertel.
Hier is heelwat vakansievieringe wat ons by die Chinese kultuur leer, elk met ’n ander tradisionele gereg omdat familiefunksies vir die Chinese baie belangrik is en hulle daar saameet. Ons vier byvoorbeeld lekker saam aan Chinese Nuwejaar en eet dan kluitjies.
Die weer is nou besig om te verander na ’n meer draaglike lente wat die “pruimseisoen-reën” sal bring.
Daar is ’n paar dinge wat die lewe hier uitdagend maak: die taal en dat die Chinese regtig geen Engels verstaan nie; die weeruiterstes van vreeslik warm tot erg koud, en die lugbesoedeling. Maar vir die meeste van die probleme het ons oplossings gevind: vertaaltoepassings (apps) op ons fone; donsbaadjies en lugverkoeling; lugsuiweraars en maskers.
Vervoer hier wissel van mense wat hul eie bestuurder huur tot ander wat die moltrein gebruik. Ons gesin ry fiets (ons een fiets het plek vir drie mense!), ons poegie (ons vier pas daarop ook) of gebruik Uber of taxi’s .
In China is dinge definitief anders, maar ook dieselfde. Ons het Suid-Afrikaanse kletsgroepe waar mense beskuit en fudge verkoop, ons maak ons eie biltong en braai op wie ook al se stoep die meeste mense kan inpas, ons hou Wêreldkinderdag en loop trots met ons reënboogvlag, ons leer ander van ons land, ons kyk rugby en drink enige SuidAfrikaanse wyn wat ons hier kan kry. Die kinders trek dan hul Springboktruie aan en sing heerlik saam aan Nkosi Sikelel’, wat op herhaal gestel word!
Om hier te bly bied ons heelwat geleenthede om lande en plekke te besoek wat ons seker nooit sou gesien het nie. Maar ons gunstelingplek bly steeds daar waar ons mense is, waar Woolies is en ons ouers stry oor wie ons die meeste mis. Waar ons regte groen Cream Soda kan drink en Spur toe kan gaan. Waar ons in Afrikaans oor onbenullighede kan klets. Waar die lug blou is. Waar ons vandaan kom.
Ons oudste moes eendag ’n plakkaat maak oor sy land van afkoms. En tussen die foto’s van die natuur, braaivleis en familie deur sê hy toe: “