Praatprobleme: sien dit so raak
Is jou kind ’n laat prater, spreek hy sy woorde vreemd uit of sukkel hy met sinsbou? Ons help jou besluit of jy ’n spraakterapeut se hulp moet inroep.
Taalontwikkeling het ook te doen met die begrip van meegaande sosiale gewoontes, soos dat ’n vraag ’n antwoord verg.
Ons leef in ’n tyd waarin daar volop hulp vir kinders met spraak- en taalagterstande en ander kommunikasieprobleme is. Spraakterapeute en oudioloë word spesiaal opgelei om jou kind by te staan sodat hy sy volle kommunikasiepotensiaal kan bereik. Dít sal die terapeut doen deur probleme met sy ontwikkeling te evalueer, diagnoseer, stimuleer, help verbeter en natuurlik te monitor.
Maar hoe weet jy of jou kind se kommunikasievermoë na wense ontwikkel en wanneer moet jy ’n kundige se hulp inroep?
BEMEESTER TAAL
Om behoorlik te kan kommunikeer, moet kinders nie net kan hoor en luister nie, maar ook ’n inherente kennis van ’n taal hê sodat hulle dit kan begryp. Hulle moet dus die woordeskat leer, hoe om woorde te vorm (soos meervoude) en hoe om sinne te bou. Om dit reg te kry, moet hulle van die begin af stelselmatig die volgende leer doen: • Hulle moet kort volgordes van klanke wat gehoor word, kan waarneem. • Hulle moet aktief aandag gee as daar met
hulle gepraat word, en daarop reageer. • Hulle moet sinne kan saamstel na aanlei
ding van die taal wat hulle hoor. • Hulle moet geleidelik besef dat woorde
gebruik kan word om ’n begrip voor te stel. • Hulle moet genoeg verstandsenergie hê om uiteindelik al die vaardighede hierbo gelyk te kan beoefen. Taalvorm en taalgebruik is die manier waarop ’n kind homself uitdruk. Ons kan taal onder meer gebruik om uitdrukking te gee aan ons fisieke en emosionele behoeftes. Kinders doen dit deur die voortbring van spraakklanke, woorde en uiteindelik sinne.
’n Ander baie belangrike aspek van taalontwikkeling is kinders se begrip van die sosiale gewoontes wat in ’n gemeenskap geld soos oogkontak, om te bly by die onderwerp van ’n gesprek en dat ’n vraag ’n antwoord verg.