Baba & Kleuter

LOOPRING, OF NIE?

-

ANRO-MARI COHEN ANTWOORD:

Mense se lewe is deesdae so bedrywig, veral ma’s s’n. ’n Loopring is ’n baie aanloklike opsie wat jou kind sal besig hou sodat jy net by al jou daaglikse dingetjies kan uitkom.

Party mense glo dat ’n loopring jou kind help om vinniger te begin loop; dis nie waar nie. Oormatige gebruik van ’n loopring kan juis dié mylpaal vertraag. ’n Baba wat te veel tyd in ’n loopring deurbring se beweeglikh­eid word belemmer.

Babas se spier- en mylpaalont­wikkeling moet in ’n spesifieke volgorde plaasvind. So ook hul verstandel­ike ontwikkeli­ng, koördinasi­e en balans. As jy jou baba te vroeg aan ’n loopring bekendstel, maak jy hom mobiel nog voor hy op ander vlakke daarvoor gereed is. Die gevolg is dat sy spiere nie ontwikkel soos dit moet nie.

’n Loopring kan jou kind dwing om meer gewig op sy beentjies te dra as wat by sy ouderdom pas. Die looppatroo­n wat hy so aanleer, is abnormaal en kan veroorsaak dat hy later op sy tone loop. Die haksening word boonop verkort, wat ook ander probleme veroorsaak.

Dis belangrik vir jou kind se ontwikkeli­ng dat hy staan, val en weer opstaan. ’n Loopring ontneem hom van dié vaardighed­e. Dit keer hom boonop om sy omgewing met sy hande te leer ken en belemmer sy ruimtelike persepsie.

Jou kind leer ook nie hoe om sy balans te handhaaf nie. Omdat jy hom in ’n regop posisie plaas voor sy lyf gereed is om regop te wees, ontwikkel sy kernspiere nie na wense nie. Dis omdat baie babas net in ’n loopring hang pleks van hul spiere te gebruik om hul posisie te handhaaf. Die gevolg: swak spiertonus en postuur.

Alles wat ek hierbo noem, kom neer op ’n baie groot nee vir loopringe.

Dit bly egter ’n persoonlik­e keuse. As jy wel een wil aanskaf, maak seker jou baba se mylpale is op datum en beperk die tyd in die loopring tot hoogstens 20 minute per dag.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa