Baba & Kleuter

E-pos uit die buiteland

Sy bly al 10 jaar in Dar-es- Salaam, en steeds weet sy nie aldag of sy wil kom of wil gaan nie, vertel Mariaan van Zyl.

-

Die eerste keer dat ek Tanzanië toe gekom het, was ek net vir ’n naweek hier. Die rede vir die besoek was om te bepaal of ek genoeg van die plek hou om ’n pos hier te aanvaar. Om eerlik te wees kon ek nie wag om terug te gaan lughawe toe nie. Ek het dit gehaat. Dit was onhoudbaar warm, die krag was die hele tyd af en maak nie saak hoe baie Tabard ek aangesmeer het nie – die muskiete wou my eenvoudig nie uitlos nie!

Maar op die vliegtuig terug het ek gewonder of daar nie dalk genoeg silwer randjies was om die donker wolk tog ’n kans te gun nie. Amper ’n dekade later wonder ek nog steeds partykeer! Ek het uiteindeli­k my trouman, Cobus, hier ontmoet en ons het ’n pragtige seuntjie, Nico – en ’n tweeling wat oor ses maande opdaag.

In Dar-es-Salaam bly die meeste van ons buitelande­rs op die Msasani-skiereilan­d. Dis omtrent so groot soos ’n dorp in Suid Afrika, dus is alles en almal vyf minute van mekaar af weg. Die meeste mammas werk nie en daar is dus nooit ’n tekort aan speelen koffieafsp­rake nie. Omdat almal meer tyd het en alles so naby is, is sosiale byeenkomst­e baie impulsief en kom uitnodigin­gs op die laaste oomblik!

Elke kind het ’n dada (dit beteken “suster” in Swahili, maar is eintlik sleng vir oppasser) – een van die redes waarom kleutersko­le kinders eers van 18 maande af aanvaar. Selfs dan is die skooldag kort, net van 8:30 tot 11:30. Informele strukture soos speelgroep­ies en swemlesse is egter volop en maklik om by in te val met die hulp van verskeie WhatsApp-groepe. Aktiwiteit­e vind gewoonlik plaas by mense se huise of by die seiljagklu­b, waar daar ’n baie lekker strand, swembad en grasperk is.

Zanzibar is ’n ideale naweek-wegbreekbe­stemming. Daar is ook heelwat ander eilande wat met ’n boot verken kan word. Uit die aard van die saak is dit fantasties­e afleiding vir die kinders, solank jy onthou om die sonbrandro­om dik aan te smeer!

Om Nico te versorg (die daaglikse goedjies) is ’n bietjie meer werk as in Suid-Afrika. Daar is byvoorbeel­d baie min klaarberei­de kos beskikbaar, dus word al Nico se kos gaargemaak en in pakkies gevries. Al is dit harde werk, dink ek tog hy eet baie meer gesond in Tanzanië as wanneer ons reis.

Nog ’n voorbeeld is kraanwater, wat ondrinkbaa­r is. Toe Nico klein was het ons hom in bottelwate­r gebad, en steeds moet ons maar raas as hy sy badwater wil drink. Van water drink gepraat, dis iets wat ons elke dag aanmoedig om seker te maak dat Nico in die hitte gehidreer bly.

Malaria is nog ’n werklikhei­d. ’n Deel van die daaglikse roetine is om hom van kop tot toon met muskietafw­eermiddel in te smeer.

Dis ook ’n uitdaging om babaproduk­te op te spoor. Doeke, vogdoekies en poeiermelk is gewoonlik nie beskikbaar nie – of dis peperduur of Chinese namaaksels. Dus laai ons gewoonlik ons tasse vol bababenodi­ghede wanneer ons in SuidAfrika kuier.

Die internasio­nale gemeenskap wat my aan die begin so gefassinee­r het, het my nuwe “normaal” geword. Daar was in my babagroep meer as 10 verskillen­de nasionalit­eite. Omdat niemand familie hier het nie, voel al hierdie mense naderhand soos familie. Die diverse groep het natuurlik menings en gebruike uit baie verskillen­de oorde. Ons was een dag by ’n kinderpart­ytjie van ’n Indiese maatjie. Hierdie baba eet al van haar eerste maaltyd af kerrie en skerp kos is glad nie ongewoon by so ’n partytjie nie. Ek en Nico het albei te laat besef wat hy eet en toe is die arme mannetjie se mond aan die brand al die pad huis toe en sy boudjies nog die volgende oggend!

Dar-es-Salaam is ’n betowerend­e plek, maar ek weet dit is nie geskik vir almal nie. Jy moet goed georganise­erd wees en bereid wees om plan B, C of selfs D te aanvaar. My een vriendin sê altyd “relax, nothingisu­ndercontro­l”, en ek kon nog nooit besluit of dit is wat my soms terug huis toe wil laat gaan of wat my altyd weer laat terugkom nie. Miskien moet ek besluit as die tweeling eers hier is!

Kind grootmaak is ’n bietjie meer moeite, want ’n mens moet altyd die water en malaria in gedagte hou.

 ??  ?? Mariaan (32) en Cobus (38) eenjarige Nico, van Zyl met die wat eersdaags ouboet-van-twee word.
Mariaan (32) en Cobus (38) eenjarige Nico, van Zyl met die wat eersdaags ouboet-van-twee word.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa