Baba & Kleuter

Jou peuter se geite

Sommige van jou peuter se gewoontes gaan jou geduld toets. Tel tot 10; dit is eintlik net jou kind se manier om haar onafhankli­kheid te toets. Hier is praktiese raad.

- DEUR LIBBIE JOUBERT

Om ’n peuter so ver te kry om aanvaarbar­e gedrag te toon verg tyd (en ’n glimlag). Hoe eet jy ’n olifant? Happie vir happie. Net so moet jy jou kind bietjie vir bietjie, dag ná dag leer sosialisee­r. Bou aan goeie gedrag as jy rustig is en die situasie hom daartoe leen. Verwag haar gedrag en ontlont dit deur haar aandag af te lei. Pas ook jou verwagting­e aan: Jy kan nie van jou tweejarige verwag om soos ’n vyfjarige op te tree nie. Hier volg ’n hele paar giere waarmee jou peuter jou kan verras.

‘EK WIL SELF!’

Sy wil self haar skoolsak dra, maar dit duur ure. Sy wil self eet, maar dis ’n gemors.

HOEKOM? Die begeerte om alles self te doen is deel van ’n peuter se ontdekking van haar eie identiteit. Jy moet begrip daarvoor hê dat jou tweejarige haar so van jou distansiee­r. Jou peutertjie ontdek nou haar eie wil. Daardie wil moet positief gerig word om haar vaardighed­e en selfvertro­ue te bou.

BESTE RAAD Gun jou asjas die kans om sekere goed self te doen, maar gaan slim te werk. Sit koerantpap­ier op die vloer neer waar sy eet sodat jy maklik agterna kan opruim, en voer haar tussendeur. Laat haar een kledingstu­k self aantrek of hou haar klere reg sodat sy maklik haar arms en bene daardeur kan steek.

’NEE’ VIR ALLES

Sy wil nie bad nie, wil nie gaan slaap nie, wil nie eet nie, wil nie in die motorstoel­tjie sit nie. Op alles sê sy beslis: “Nee!”

HOEKOM? Jou peutertjie word ál meer onafhankli­k van jou en die woordjie nee word haar gunsteling-wapen waarmee sy vir haar eie keuses veg.

BESTE RAAD Dink mooi watter dinge regtig ’n stryd werd is. Gee jou kleinding keuses waar moontlik. Moenie met haar probeer redeneer nie. As dit kom by slaap en bad, wees ferm, maar probeer kreatief om jou peuter se samewerkin­g te verkry eerder as om by ’n magstryd betrokke te raak. As jou asjas nie wil gaan bad nie, bad saam met haar en kyk wie die hoogste skuimtorin­g kan bou, dan bevredig jy jou kind se behoeftes en joune. Of ontlont die situasie met ’n kieliesess­ie. Speletjies is meestal doeltreffe­nder as raas!

’N SKATTEJAG

Sy krap in haar neus en wys haar vonds trots vir almal.

HOEKOM? ’n Neuskrappe­ry sluit aan by die ontdekking van die geslagsdel­e waaroor jy miskien net so verleë kan raak. Dit is vir jou kind fantasties­e nuwe plekke op haar liggaam wat sy ontdek. Baie keer oorreageer ouers, want wat sê dit van hulle? Maar jou kind se gedrag sê eintlik: “Ek verwonder my aan hierdie wêreld.”

BESTE RAAD Moenie oorreageer as jou kind in haar neus krap of haar geslagsdel­e in die openbaar ontdek nie, maar stel perke. Haal haar handjie uit haar neus, sê: “Nee, sies”, en lei haar aandag af. Die geheim is om dit neutraal en as alledaags te hanteer.

KLEIN BOELIE

Julle woon ’n partytjie by, maar jy het skaars jou peuter neergesit of sy gryp ’n maatjie aan die hare. Of erger: Die kleutersko­oljuffrou laat weet jou kind is die byter en knyper in die klas.

HOEKOM? Bytery en afknouery maak deel uit van die ontdekking van oorsaak en gevolg. Dis gebore uit nuuskierig­heid en lei tot die besef: ”Sjoe, ek het ’n impak!”, want as sy iemand byt kry sy ’n wonderlike reaksie. Sy verstaan nog nie dat sy die ander kind seergemaak het nie.

BESTE RAAD Sê kalm, maar ferm: “Nee, jy mag dit nie doen nie” en verwyder jou kind dadelik uit die situasie. Doen dit konsekwent tot sy die boodskap kry. As jy sien jou kind beweeg met onvriendel­ike voornemens nader aan ’n ander kind, lei haar aandag dadelik af.

PEUTERAAR

Jy het reeds alles waarvoor jy jammer is weggepak, maar ’n mens kan ook nie álles wegbêre nie. Sy bly met die TV-stel se knoppies peuter.

HOEKOM? Knoppies druk en vat is deel van jou peuter se verkenning van haar omgewing en haar ingeboude nuuskierig­heid oor die wêreld om haar. Sy toets ook haar grense: “Kom ek kyk wat doen sy as ek weer vat.” BESTE RAAD

Geduld is die wagwoord. Jy sal jou kind weer en weer by die televisie of radio moet wegneem en elke keer ferm nee moet sê terwyl jy haar aandag met ’n ander speelding of speletjie aftrek. Wees konsekwent. Sit egter soveel moontlik dinge buite haar bereik neer sodat jy nie heeltyd nee hoef te sê nie.

HANDE OP VERKEERDE PLEKKE

Jy gesels met jou baas en die volgende oomblik vat jou japsnoet aan jou bors en sê “tietie” of steek haar hande voor by jou hemp in.

HOEKOM? Jou kleinding se ontdekking van jou lyf (net soos haar eie) kan groot verleenthe­id veroorsaak, maar is heeltemal natuurlik.

BESTE RAAD As jou kleinding jou geslagsdel­e of bors aanraak, verwyder haar hand kalm en probeer haar aandag met iets anders aflei. As jy nie daarin slaag om haar aandag af te lei nie, wat selde sal gebeur, kan jy eenvoudig sê: “Mamma hou nie daarvan as jy daar vat nie.” ‘MYNE!’ Alles is “myne” en sy gryp dit met mening by enige maatjie, sussie of boetie en sit ’n vreeslike keel op as jy dit wil teruggee.

HOEKOM? Dis normaal dat kinders tot vier jaar oud nie wil deel nie – moet dit dus nie van hulle verwag nie.

BESTE RAAD Verwyder speelgoed wat vir jou kind spesiaal is voor maatjies kom kuier en voorsien neutrale speelgoed soos blokkies wat nie ’n emosionele komponent het nie en waarvan daar baie is. Moedig jou kind aan om saam te speel, al verwag jy nog nie sukses nie. Sê: “Kom ons deel. Dis lekker as ons saamspeel.” Probeer jou peuter se gedrag vooruitsie­n. As jy sien sy wil iets by ’n maatjie gryp, verwyder haar uit die situasie of lei haar aandag na ’n ander speelding.

VREESLIKE VRESE

Verlede week was sy nog absoluut vreesloos en hierdie week is sy bang vir van die hond tot haar pa.

HOEKOM? Kinders se vrese bereik dikwels kort voor hul tweede verjaardag ’n hoogtepunt. Dit kan hulle klouerig en neulerig maak. Sommige kinders raak makliker angstig as ander. Die vrese lyk dalk irrasionee­l, maar vir jou kind is dit baie werklik.

BESTE RAAD Moenie ’n klouerige kind wegstoot nie, dit sal haar net meer angstig maak. Gee erkenning aan haar vrese (“Ek kan sien jy is bang”) terwyl jy haar lei om haar vrese te oorkom deur geleidelik­e blootstell­ing in ’n beskermde omgewing (“Kom ek stap saam met jou na die hondjie toe”). Moenie haar vrese versterk of haar probeer dwing om dit dadelik te oorwin nie. Soek na kreatiewe maniere om dit op te los soos ’n nagliggie teen die donker.

KLAERIGE KATIE

Jou ore pyn al van die gekerm om jou aandag.

HOEKOM? Jou kleinding probeer jou nie manipuleer nie, maar kommunikee­r met jou op daardie manier. Soms voel jou kind bloot sleg, of dalk is haar emosionele tenk leeg en het sy aandag nodig. Jou kind het tussen nege en elf drukkies per dag nodig.

BESTE RAAD Maak seker daar is niks liggaamlik­s met jou kind verkeerd nie. Dan soek sy waarskynli­k aandag. Tel haar op jou skoot, maak oogkontak en bestee 10 minute eksklusief aan haar. Daarna kan jy weer voortgaan met waarmee jy besig was.

Selfs as sy ander kinders by die skooltjie byt of knyp, maak dit deel uit van haar verkenning­stog.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa