Towerhande
Dit is nooit te vroeg om jou baba te begin masseer nie en dit hou boonop talle voordele vir jou kleinding in. Ons wys jou hoe.
Van al die sintuie is die aanrakingsintuig die een wat met geboorte die beste ontwikkel is. Babas het baie tasstimulasie nodig om oor die wêreld om hulle te leer. Aanraking word beskou as die hoof-integreerder van sintuie. Dit kan kommunikasie tussen die binneste en buitenste terugvoerstelsels tot stand bring en onderhou. Wanneer jy aan jou baba raak, help jy nie net haar algemene gesonde ontwikkeling aan nie, maar ook haar breinontwikkeling.
Diep, stadige streling oor jou baba se lyfie laat haar ontspan en bedaar, terwyl ligte, vinnige aanraking haar weer stimuleer. Raak met ’n verskeidenheid teksture aan jou baba: vee saggies met wollerige handskoene, streel met ’n veer, of gebruik ’n sagte nuwe verfkwas om haar lyfie te borsel. Vryf oor jou baba se hande en voete terwyl jy speletjies speel wat pret en laggies sal aanmoedig, soos “Dié klein varkie…”. Dis ’n goeie idee om saam met jou baba na oefen- en masseerklasse te gaan. Babaoefeninge versterk nie net jou baba se liggaam nie, maar leer haar ook hoe haar lyfie in ruimte beweeg.
LANG BENE
Ondersteun jou baba se bene deur hulle met een hand aan die enkel vas te hou met die been in ’n effens gestrekte posisie. Hou met die ander hand jou baba se been stewig by die heup vas en beweeg daardie hand dan stadig maar ferm tot by die enkel. Ruil hande en doen dieselfde met baba se binnebeen. Herhaal die bewegings drie keer met elke been. Dié oefening sorg dat die ledemate warm word en verskuif spanning weg van die liggaam. Dit versterk die spiere en ligamente, wat jou baba later sal help om gewig te dra.