’N HALWE BREIN IS GENOEG
Nico is ’n 11-jarige seuntjie wat effens mank loop en wat gek is oor sy skootrekenaar. Maar hy het ’n groot geheim: Nie albei kante van sy brein werk nie. Op drie jaar oud moes Nico sy regterbrein opoffer om sy epilepsie te beheer. In dié prosedure word die een kant van die brein verwyder of buite werking gestel. Dit is ’n besonder seldsame chirurgiese prosedure en word slegs op baie jong kinders uitgevoer omdat ’n jong kind se brein die vermoë het om aan te pas en self te leer om weer as ’n geheel te werk.
Antonio Battro, ’n Spaanse kognitiewe neurowetenskaplike, sê Nico het tot ’n normale slim kind met byna geen fisieke of verstandelike gestremdheid nie ontwikkel. Antonio meen die helfte van die brein kan ’n nuwe brein vorm en dit lyk of Nico sy teorie korrek bewys. Talente en vaardighede wat tipies met die regterbrein verbind word soos wiskunde, visuele kunste, musikale vaardighede, motoriese vermoëns (met die gebruik van ’n muis of sleutelboord) en aandagspan het in Nico heeltemal normaal vir sy ouderdom ontwikkel. Sy behoue linkerbrein het volgens Antonio waarskynlik dié vaardighede aangeleer en ’n heelbrein is dus so gevorm. Die enigste taak waarmee Nico sukkel is teken en skryf, maar Antonio het hom aan ’n rekenaar bekendgestel en nou kan hy beter as enige van sy klasmaats tik en rekenaargebaseerde tekeninge maak. Hy het ook onlangs die voordele van e- pos en rekenaarprogrammering ontdek. “Ons kan sien hoe aanpasbaar ’n jong brein is. Die senuwees aan die linkerkant van Nico se brein het met mekaar verbind om baie van die funksies van die verwyderde regterhelfte oor te neem,” sê Antonio.
Nico se storie word vertel in die boek Half a Brain Is Enough: The Story of Nico deur Antonio M. Battro (CUP, 2006).