Baba & Kleuter

Apgar-toets vir klein apies

’n Apgar-toets help die pediater om jou baba se gesondheid rég na geboorte te bepaal. Ons verduideli­k wat dié toets alles behels.

- DEUR NIA VISAGIE

HOE WERK DIT?

Ná jou baba se geboorte sal die dokter, vroedvrou of hospitaals­uster jou baba onmiddelli­k fyn waarneem om te kyk hoe sy op die wêreld buite die baarmoeder reageer en daarby aanpas, en of sy ’n bietjie hulp nodig het. Hierdie toets is nie indringend nie en jy hoef jou dus nie daaroor te bekommer nie.

Die toets word op drie minute oud herhaal, en soms weer op 10 minute oud.

Die Apgar-toets behels vyf kriteria. ’n Punt van 0, 1 of 2 word vir elk van die kriteria toegeken. Dit word dan bymekaarge­tel om ’n punt uit 10 op te lewer. Dié totaal is jou baba se Apgar-telling.

WAT BETEKEN DIT?

’n Telling van 10 dui op die heel beste gesondheid, 7 en meer is normaal, 4 tot 6 is taamlik laag en ’n telling van 3 en minder word gewoonlik as krities laag beskou.

’n Baba wat 7 of meer het met die eenminuut-toetsslag is gesond en het net roetine-nageboorte­sorg nodig.

’n Laer telling kan beteken dat jou baba ’n bietjie hulp nodig het, byvoorbeel­d met haar asemhaling, ’n massering of uitsuig van die neusie, of ’n bietjie suurstof. Dit beteken geensins dat sy noodwendig langtermyn­skade sal hê of ongesond is nie.

Met ’n telling van drie of minder sal jou baba waarskynli­k onmiddelli­k noodbehand­eling kry, maar sy kan later heeltemal gesond wees.

As jou baba verbeter met die tweede toets is dit ’n goeie teken, maar dis heeltemal normaal om steeds dan nie volle punte te kry nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa