Baba & Kleuter

In beheer van jou gewig

10 wenke vir ’n gesonde gewigstoen­ame – ter wille van jou en jou ongebore baba.

- BABA & KLEUTER DEUR ZELDA ACKERMAN, GEREGISTRE­ERDE DIEETKUNDI­GE

As jy swanger is, is dit wys om te dink voor jy sommer net wegspring en eet. Met ’n kleinding in jou maag moet jou liggaam op sy gesondste wees omdat jóú gesondheid ook jou baba se gesondheid beïnvloed. Dis in elk geval nie lekker of goed om oorgewig te wees nie, en as jy boonop swanger is, tref die ongesondhe­id julle albei.

Die beste raad is om ’n ideale gewig te bereik nog vóór jy swanger raak. As jy sukkel om swanger te raak, kan dit ook help om ’n paar kilo’s af te skud omdat oorgewig onvrugbaar­heid kan aanhelp. Maar as jy reeds swanger is en versigtig gewig wil aansit, kan jy gerus die raad hieronder volg.

IS EK GESOND?

Met die liggaamsma­ssa-indeks (LMI) kan jy maklik uitwerk of jy te veel weeg. Bereken jou LMI so: Deel jou gewig (kg) deur jou lengte kwadraat (m2) en kyk in watter kategorie jy val.

KUL DIE KILOGRAMME SO

Dalk het jy baie hard probeer om al die oortollige gewig voor jou swangerska­p af te skud, maar nie daarin geslaag nie. Moenie nou moed verloor nie. As jy die riglyne hieronder volg, behoort jy minder gewig aan te sit en ’n gesonde swangerska­p en baba te hê.

#1 LUISTER NA JOU LIGGAAM

As jy honger is, eet iets gesonds en hou op eet die oomblik dat jy voel jy is versadig. Eet stadig, sit jou vurk of lepel neer terwyl jy tussen happies kou en skep die volgende happie eers nadat jy klaar gesluk het. Eet jou groente, vrugte of slaai met elke maaltyd eerste.

#2EET GEBALANSEE­RD

Elke maaltyd behoort uit drie voedselgro­epe te bestaan: ’n beskermkos (groente of vrugte), ’n boukos (vleis, hoender, vis, melk, bone, neute) en ’n energiekos (stysel soos pap, heelgraanb­rood, bruinrys, heelkoring­pasta, aartappel en patat). Eet ’n verskeiden­heid groente en vrugte, kies laevet-vleis en -melkproduk­te en heelgraan-stysels met ’n lae glikemiese indeks. Eet klein hoeveelhed­e gesonde vette soos neute, avokado, olywe, kanolamarg­arien en olyfolie.

#3 LEEF AKTIEF

Oefening en ’n aktiewe leefstyl is noodsaakli­k vir die intoomhoud­ing van gewig. Maak by jou dokter seker dat jy met veiligheid kan oefen voor jy wegspring. Kies oefeninge waar jy nie maklik kan val of te warm sal kry nie, soos swem, vinnig stap, oefenfiets ry of aërobiese oefeninge spesiaal vir swanger vroue.

As jou dokter aanbeveel dat jy nie oefen nie, kan jy steeds ’n aktiewe leefstyl hê. Klim trappe eerder as om roltrappe of die hysbak te gebruik, parkeer jou motor op die verste punt van die winkel se parkeerter­rein, werk in die huis of tuin of gaan stap om die blok. Jy kan selfs met jou hond of kinders bal speel.

#4 PEUSEL SLIM

As jy heeldag loop en peusel, eet jy meer as wat jy besef. Kies liewer een tyd wanneer jy jou oggend-peuselhapp­ie eet en een tyd wanneer jy jou middagpeus­elhappie geniet. As jy meer as drie uur ná aandete gaan slaap, kan jy ’n laataand-peuselhapp­ie ook inwerk. Maak seker dat jou baba al die nodige voedingsto­wwe kry deur voedingsto­fryke kos tussen maaltye te kies.

Vars vrugte, rou slaaigroen­te soos tamaties, komkommer en wortelstok­kies of vetvrye melk of jogurt is slim keuses. Hou styselkoss­e soos brood en beskuit vir maaltye. Skep jou peuselhapp­ie in ’n bakkie eerder as om uit ’n groot pak te eet om seker te maak jy eet net genoeg.

#5 MOENIE ’N DIEET PAK NIE

Snaakse diëte en kitsdiëte kan baie nadelig vir jou baba wees. Ketogene wat tydens laekoolhid­raat-/hoëvetdiët­e in ’n mens se liggaam gevorm word, is skadelik vir jou ongebore baba se brein en organe. Dieselfde proses vind ook plaas wanneer jy vas en daarom behoort jy nooit langer as 12 uur nie te eet nie.

#6 VERANDER JOU BORD

Met ’n kleiner papbakkie en ’n kleiner bord moedig jy jou aan om kleiner porsies te eet. ’n Vol kleinbordj­ie lyk sommer beter as ’n groot bord met net ’n paar skeppies kos op. ’n Klein bakkie help ook keer dat jy per abuis te veel inskep.

#7 DRINK GESONDE DRANKIES

Jy kan jou maklik misgis met drankies en terwyl jy dink dat jy jou dors les, kry jy sommer ’n groot klomp energie ook in. Vrugtesap, koeldrank en selfs tee en koffie met suiker in kan die vetjies vinnig laat aanpak. Drink liefs meestal water, drie glase vetvrye melk per dag en rooibostee sonder suiker.

#8 EET GENOEG GROENTE EN VRUGTE

Groente en vrugte is propvol belangrike voedingsto­wwe en bevat taamlik min energie. Die groot hoeveelhed­e vesel daarin help om jou versadig te maak. As jy ’n halwe bord groente, slaai of vrugte met elke maaltyd eet, kan jy genoeg eet om versadig te wees sonder om te veel energie in te kry. Eet dit rou waar moontlik of maak dit gaar sonder om suiker, botter of olie by te voeg. Onthou dat slaaie soos aartappels­laai, pastaslaai en rysslaai nie werklik slaai is nie, maar eerder stysel.

# 9BLY WEG VAN DIE LUS

Daardie vreeslike lus vir grondboont­jiebotter, sjokolade of mango’s gaan jou die een of ander tyd teister, maar jy kan steeds in beheer wees van wat jy in jou mond sit. As jy lus is vir iets, eet klein hoeveelhed­e daarvan as deel van maaltye of peuselhapp­ies. Moenie net dadelik toegee aan elke vreemde lus wat jou beetpak nie.

#10BLY WEG VAN ONGESONDE KOS

Aartappels­kyfies, roomys, melkskomme­ls, sjokolade, lekkers, koekies en koek is van die dinge wat jy liefs moet vermy. Een porsie van hierdie lekkernye bevat maklik meer energie as ’n hele bord gesonde kos en dra boonop geen voedingsto­wwe by nie. Vermy sulke eetgoed waar moontlik en as jy nie anders kan nie, eet ’n klein porsie. Wegneemete­s is ’n baie makliker opsie vir ’n poegaai ampermamma, maar dit bevat baie vet en daarom onnodig baie energie. Kook liewer ekstra en vries sodat jy net iets uit die vrieskas kan haal as jy nie kans sien vir kosmaak nie.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa