Baba & Kleuter

Dut- dut deur die dag

Jou baba is nou ’n peuter en skielik glad nie meer lus om bedags te slaap nie. Moet jy dagslapies aan hom opdwing of hom maar sy gang laat gaan?

- DEUR DANIELLA DE WITT

Die huis is rustig. Jy het pas ná ’n groot gesukkel jou peuter in sy bedjie gesit en jy sien uit na ’n welverdien­de blaaskans, maar jou koppie tee is skaars gemaak of die kind skree bloumoord. Hy het skaars 15 minute geslaap.

Waar is die lekker lang dagslapies heen wat hy net nou die dag nog geniet het? Is hy besig om die dagslapery te ontgroei?

Dis nie vreemd dat peuters se slaappatro­on verander namate hulle ouer word nie, sê Erica Neser, skrywer van How Babies And Toddlers Really Sleep en Slaapgids vir babas en kleuters (Protea).

“Peuters se behoefte aan slaap verminder vanself en dis nie ons werk om hul slaaptyd streng te probeer beheer nie,” sê Erica.

Teen omtrent 12 maande oud begin heelparty peuters self hul oggendslap­ie uitskakel. Die laaste slapie in die middag val iewers tussen twee en vier jaar oud weg.

Die eerste tekens dat jou peuter ’n slapie wil uitskakel, is gewoonlik dat hy teen sy gewone slaaptyd begin baklei, heelwat later as gewoonlik begin moeg word of eenvoudig weier om te gaan slaap.

“Soms slaap peuters ’n paar weke lank heel maklik, en dan weier hulle weer volstrek om te slaap. Gee maar kans en wees aanpasbaar tot die nuwe patroon vasgelê is,” sê Erica.

“Party kinders slaap in die week by die kleutersko­ol baie goed, maar wil naweke by die huis glad nie slaap nie. Dis nie iets waaroor jy jou moet verknies nie.”

HOE LANK MOET DAGSLAPIES WEES?

Teen een jaar oud slaap die meeste kinders twee keer per dag, sê Judith Owens, ’n Amerikaans­e skrywer van verskeie boeke oor slaap en ’n kenner van kinderslaa­ppatrone.

Ses maande later het hulle hul slapies gewoonlik al tot een afgeskaal, wat hulle gewoonlik in die middag geniet.

Meer as 50 persent van vierjarige­s het nog ’n middagslap­ie nodig, maar elke kind is anders, sê Judith.

Miskien is dit makliker om dit volgens ure per dag uit te werk: peuters het volgens Judith altesaam 12 tot 14 uur slaap uit die volle 24 uur nodig.

Dit gesê, is elke peuter anders. Terwyl een peuter tevrede gaan wees met net ’n halfuur van rus in die middag, het ’n ander minstens twee uur in droomland nodig, sê Erica.

“Moenie dat hul slaaptyd jou te gespanne maak nie. Ons kan die kleingoed nie dwing om te slaap nie,” maan sy.

AS PEUTERS WEIER OM TE SLAAP

Een van die grootste probleme met dagslapies is dat peuters teen die slaap baklei. Hulle is moeg, maar wil nie slaap nie want hulle is bang hulle loop iets mis. Hulle wil veral nie die geselskap verlaat om te gaan slaap nie, sê Erica.

Hierdie kleingoed wil graag by hul ouers wees en hulle weet al slaap beteken meestal afsonderin­g.

Gelukkig is daar ’n oplossing, sê Erica. “Dit help soms as mamma of pappa saam gaan slaap of by die kleinding sit tot hy aan die slaap is.”

MITES OOR SLAAPTYD

’n Mens kan baie maklik die fout maak om te dink dat as jy jou aapstert bedags wakker hou, hy die nag soos ’n droom gaan slaap. Die teenoorges­telde is ongelukkig waar.

Jou kind raak net te moeg as hy nie bedags rus nie, en is dan saans oormoeg. Nie net sukkel hy om dan tot slaap te kom nie – dis ook swak vir sy gesondheid as dit te veel gebeur én dit kan sy slaapsiklu­s heel-

temal omvergooi.

En terwyl ’n dag van slaap tot oormoeghei­d saans kan lei, kan te veel slaap deur die dag ook veroorsaak dat jou kind saans sukkel om te slaap, waarsku Erica.

’n Goue middeweg is die antwoord: “Mik vir genoeg slaap die meeste dae en onthou dat ’n mens nie jou kind se slaaptye heeltemal kan beheer nie.

“Jy kan help deur min of meer by ’n roetine te hou sonder om behep daarmee te wees, maar baie elemente van slaap val heeltemal buite jou beheer. Onthou maar dat verreweg die meeste kinders se slaapprobl­eme tussen drie en vier jaar vanself verdwyn.”

PLANNE MET SLAAPDRAMA­S ERICA GEE RAAD

1As

jou kind weier om te slaap, kan jy ’n stil speeltydro­etine instel. Jou kind kan dan in die bedjie bly, maar iets rustigs doen soos om deur boekies te blaai of met blokkies te speel. 2As

jou kind deur die dag glad nie geslaap het nie, kan jy gerus aandete, bad- en slaaptyd ’n bietjie vroeër maak. 3As

jou kind te lank of tot te laat in die middag slaap, moet jy hom wakker maak om te keer dat hy die aand met slaaptyd te wakker is.

SKEP GESONDE SLAAPPATRO­NE

Die bekende kindersorg­kenner Suster Lilian deel die volgende wenke: • Skep ’n emosioneel gesonde omgewing

vir jou kind. • Maak ’n positiewe, vertrooste­nde af

wenroetine deel van jou kind se dag. • Bors- of bottelvoed jou kind voor slaaptyd, maar hou op voed voor hy heeltemal aan die slaap raak. • Sodra jou kind oud genoeg is, kan jy die kuns van onderhande­ling begin beoefen deur ’n plakkerkaa­rt as beloningst­elsel te gebruik. Kom altyd jou kant van die ooreenkoms na. • Sorg dat jy soveel moontlik gehaltetyd saam met jou kind deurbring. As dinge goed gaan, kan jy teen slaaptyd met reg op rus en vrede aanspraak maak.

Meer as 50 persent van vierjarige­s het ’n middagslap­ie nodig, maar elke kind is anders.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa