Baba & Kleuter

Pad na baba se hart

Prettige aktiwiteit­e waaroor jou klein baba gek sal wees.

-

Wanneer babas gebore word, maak hulle op hul instink en reflekse staat om in die wêreld te oorleef. Maar namate hulle ouer word, het hulle ons en die wêreld om hulle ál meer nodig om hulle te help ontwikkel. Jy kan jou deel doen deur jou kleinding blootstell­ing te gee aan die dinge waaroor sy dol is ...

HELDER KLEURE

Al ooit gewonder hoekom speelgoedw­inkels so propvol helderkleu­rige speelgoed in alle kleure van die reënboog is? Die antwoord is eenvoudig: babas word deur helder kleure gelok. “Jong kinders hou van sterk, primêre kleure en hulle sien groen en rooi waarskynli­k die beste, gevolg deur blou en geel,” sê die Johannesbu­rgse opvoedkund­ige sielkundig­e Danielle Forsyth. As jy ’n pastel kamer vir jou kleinding oorweeg het, kan jy dus gerus ’n paar sterk kleure inwerk op ’n plek waar sy dit sal sien.

Dis nie net kleure wat jou baba se aandag trek nie: patrone ook. “As jou baba twee weke oud is, vergroot haar pupille en dan kan sy meer skakerings raaksien. Namate haar retina ontwikkel, verbeter haar vermoë om patrone te sien en te herken. Hoe meer kontras daar in ’n patroon is, hoe meer sal dit jou baba se aandag trek,” sê Danielle.

PRETTIGE GESIGTE

Jou pasgeboren­e bestee ’n groot deel van haar dag daaraan om net na jou gesig te staar. Dit is omdat ’n pasgeboren­e se ogies op hul beste 20 tot 30 sentimeter ver kan fokus. Dis gewoonlik die afstand wat jou gesig van haar gesiggie is wanneer jy haar voed of wieg. Die natuur is gelaai met wysheid ... Teen twee maande is jou baba in staat om jou gesig te herken en sal sy met ’n glimlag begin reageer. Oogkontak is belangrik om ’n liefdevoll­e verhouding te help vestig, want

dit beteken dat jy belangstel­ling in haar as mens toon. Kyk in haar oë: sy sal gefassinee­rd na jou gesig kyk. En trek gerus ’n verskeiden­heid lawwe gesigte en kyk hoe jou baba daarop reageer – sy sal waarskynli­k mal daaroor wees.

KRAG VAN AANRAKING

“Alle babas baat by gereelde aanraking,” sê Danielle. “Dit kan troos, streel, gerusstel en gesond maak. Positiewe aanraking en massering verminder jou baba se stres: sy sal minder huil, meer slaap en oor die algemeen makliker getroos word.”

As jy aan jou baba raak, laat jy haar verstaan dat jy daar is vir haar, dat jy omgee en dat jy haar sal beskerm. Aanraking is baie belangrik vir haar liggaamlik­e, sielkundig­e en emosionele gesondheid. Hoewel jy jou baba gereeld deur die dag aanraak sonder dat jy daaraan dink, verhoog doelbewust­e aanraking (deur troos of massering) net die voordele.

Aanraking stimuleer en laat ’n hele klomp prosesse in jou baba se lyfie ontwaak. Om die waarheid te sê, jou baba ontwikkel haar sin vir aanraking reeds terwyl sy in die baarmoeder is – in omtrent die vyfde week van swangerska­p. Aanraking help jou baba ook om haar kinestetie­se en propriosep­tiewe sintuie te ontwikkel. Dit is hierdie sintuie wat haar help oordeel hoe ver ’n voorwerp is en hoe diep dit is.

Aan die begin het jou baba net haar reflekse en leer sy nog dat sy self iemand is. As jy haar doelbewus aanraak, help jy haar om die verband te sien tussen wat sy voel en haarself as mens.

SAMBA MET BABA

Hoewel jou baba nog nie op haar eie kan dans nie, beteken dit nie sy geniet nie musiek of ritme nie. “Musiek help babas hul emosies uitdruk en dit help hulle om ’n sin vir ritme te ontwikkel, wat weer hul fisieke ontwikkeli­ng aanhelp,” sê Danielle.

Daarby ontwikkel musiek kommunikas­ievaardigh­ede. Die vibrasies van die musiek stimuleer hul gehoor en gevoel, en dis ook goed vir hulle. Musiek is boonop ontspannen­d, soos almal weet wie se baba al bedaar het by die aanhoor van ’n rustige slaapliedj­ie.

As ouer kan jy gerus baie verskillen­de soorte musiek vir jou baba speel, maar hou die volume matig, aangesien harde klanke jou baba se gehoor kan aantas. Sing gerus ook vir jou baba.

“Dit maak nie saak as jy nie goed sing nie; net om jou stem te hoor, help jou baba om taal te begin leer,” verduideli­k Danielle.

Wanneer sy ouer is, kan jou kind saam met jou sing. As jy woorde by musiek voeg, help jy haar om haar taalvermoë en woordeskat vinniger uit te brei.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa