Baba & Kleuter

Onthou dit goed!

Hoe verbeter jy jou kind se kans op sukses wanneer sy eendag skool toe gaan? Deur nou al haar geheue vlymskerp te maak. Hier is 15 maniere om dié belangrike vaardighei­d te ontwikkel.

- DEUR LIBBIE JOUBERT

Jou kleuter moet sekere dinge vir kort rukkies onthou, soos dat jy gevra het sy moet haar sak gaan haal. Ander dinge moet vir lank onthou word, soos waar julle woon of ’n selfoonnom­mer. Al twee soorte geheue is belangrike boustene vir leer. Jou kind se brein is van geboorte af al besig om strategieë te ontwikkel wat haar sal help om inligting te herroep en te onthou. Jy kan daardie proses ’n hupstoot gee met ons praktiese wenke.

1WEES AKTIEF

Navorsing het gewys dat wanneer jou liggaam beweeg, jy ’n biochemies­e mengsel produseer wat die brein voorberei om te leer. Dit versterk ook geheue verbinding­s. Laat jou kind by die huis en in die tuin rondhardlo­op, op ’n springmat spring en hardloop speletjies speel voor, terwyl en nadat sy huiswerk gedoen het.

2VRA VRAE

Vrae oor dinge wat gebeur het, help jou kind om haar geheue te verbeter. Vra haar vrae nadat jy ’n storie voorgelees het en wanneer jy haar by die skool gaan oplaai: “Met wie het jy vandag by die skool gespeel?” en “Wat het julle gespeel?”.

Vra jou kind elke aand wat sy daardie dag vir ontbyt geëet het, wat in haar kosblik was en of sy kan onthou wat sy vir middagete gehad het.

Dié soort vrae sal nie net haar geheue aanhelp nie, maar ook sorg dat sy die klein dingetjies van ’n geleenthei­d onthou.

3VAT EEN WEG

Pak verskeie voorwerpe op ’n skinkbord uit. Laat jou kind goed daarna kyk. Verwyder dan een ding sonder dat sy sien wat jy wegneem. Vra haar wat jy weggesteek het. Maak die speletjie moeiliker deur ál meer voorwerpe weg te neem, die posisie van die voorwerpe te verander of haar kyktyd korter te maak.

4SPEEL ONTHOU-SPELETJIES

Die motor is ’n goeie plek daarvoor. Sê: “Ons hou piekniek en neem ’n mandjie.” Sy moet herhaal wat jy sê en een item byvoeg: “Ons hou piekniek en neem ’n mandjie en ’n appel.” Dan is dit weer jou beurt om te herhaal en by te voeg. Kyk hoe lank die lysie kan word voor sy iets vergeet.

5BOOTS NA

Vorm patrone soos kleurpatro­ne of vormpatron­e wanneer julle blokkies bou of krale ryg, en laat jou kind die patrone herhaal. Pak die patroon, laat sy daarna kyk, verwyder dit en kyk of sy kan onthou hoe om dit te pak.

6ONTHOU LYSIES

Vra jou klein slimkop om die inkopielys te probeer onthou wanneer julle winkel toe gaan. Dit sal haar baie spesiaal laat voel en op iets anders laat fokus, pleks daarvan dat sy verveeld raak terwyl julle op en af met die trollie loop!

7SPEEL SKAAK

Skaak gee die geheue ongeloofli­k goeie oefening.

8LEER HAAR VISUALISEE­R

Voor kinders leer skryf, vorm hulle begrippe met die hulp van prente. As jy die woord “pen” hoor, sien jy in jou geestesoog die voorwerp self en nie die geskrewe woord nie. Moedig jou kind aan om dinge te visualisee­r voor sy dit doen – geheuekaar­te kan daarmee help.

9LEER OPRUIM

Opruiming word verbind met ’n goeie leesvermoë en sukses in wiskunde. Leer jou kind van jongs af om haar omgewing te orden. Wys haar hoe ’n mens opruim – kinders weet dit nie vanself nie. Eers al die blokkies, dan die poppe en dan al die kryte …

As dinge altyd op dieselfde plek gebêre word, hoef ’n mens nie later te probeer onthou waar jy dit gelos het nie – jy weet mos waar dit is!

10SPAN SINTUIE SAAM IN

Kinders leer deur te luister, te sien en te beweeg. Span ál drie sintuie in om haar te help om iets te onthou. Wys haar die voorwerp, sê vir haar die naam daarvan en laat sy haar voete stamp op die maat van wat jy sê.

11LEER OOR METAGEHEUE

Metageheue is die vermoë om te verwoord hoe iets onthou word. Jy praat deur die ding wat jy wil onthou sodat jy dit kan vestig. As julle krale ryg, kan jy die patroon so in die metageheue vaslê: “Een bloue, dan ’n rooie, en ’n gele. Die rooi kruip tussen die blou en die geel weg.”

12LEER GOEIE LUISTERVAA­RDIGHEDE

Navorsing het gewys dat goeie luistervaa­rdighede met ’n goeie geheue verbind word. Sê vir jou kind om mooi te luister en dan alles te teken wat jy sê. Begin met ’n lys van drie diere. As sy dit maklik regkry, maak die lys langer en langer.

13LEER ASSOSIASIE­S

Kleuters is gek oor roetine. As jy weer opdragte moet gee of as sy ’n roetine moet volg, kyk of jy dit kan laat rym of allitereer: “Dis tyd vir bad, borsel, boek en bed.” Lê dan klem op die b-klank.

14MAAK OGIES TOE

Genoeg slaap speel beslis ’n rol wanneer dit kom by jou kind se onthouverm­oë. Navorsing het gewys dat ons die belangrike feite wat deur die dag versamel is, doeltreffe­nd berg terwyl ons slaap en van die res ontslae raak. Sorg dus dat jou kleuter elke aand ’n goeie nagrus inkry.

Terwyl ons slaap, berg ons die belangrike feite wat versamel is van die dag en gooi die res weg.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa