Baba & Kleuter

SLAAP & SKRYF, SWANGER SUSTER

-

Ek word uiteraard nogal gereeld gevra vir swangerska­p swenke. Die een stukkie raad wat ek die graagste deel en wat ek ook al hier in redakteurs­briewe genoem het, is dat jy tydens jou swangerska­p soveel moet slaap as wat jy kan. Dis nou nie ’n aardskudde­nde stukkie nuus nie, maar daar is regtig niks wat jou kan voorberei op die slaapontwr­igting wat met ’n baba gepaardgaa­n nie. Dit duur voort tot diep in hul kleuterjar­e en natuurlik as daar ’n tweede of ’n derde kind bykom kyk jy na jare se slegte slaap.

Maar vandag wil ek iets byvoeg tot my geykte advies. Glo dit of nie, jy gaan oorleef en wat nog meer ongeloofli­k is, jy gaan vergeet hoe sleg dit was. Ek het netnou deur ou tydskrifte geblaai en lees toe my eie redakteurs­brief van Maart 2008 waar ek vertel van my kleuter wat my elke oggend douvoordag wakker maak deur bollemakie­sie bo-op my te slaan, haar tone in my hare te druk en my in die blaas te skouer, alles nadat my ooglede ferm uitmekaar getrek is. Ek het heeltemal daarvan vergeet! En is ek nie nou bly dat ek dit neergeskry­f het nie? Sien, die einste kind wat so lief was vir 5-uur opstaan, is nou amper 15 jaar oud. (Ja, kleuters word feitlik oornag tieners.)

Oggende met tieners is baie anders as oggende met kleuters, want tieners hou net mooi niks van vroeg opstaan nie. As ek hulle naweke los sal hulle tot 1-uur smiddags in die bed lê. Skoologgen­de is ’n stryd. Ek staan eerste op. So 6-uur begin ek hulle wakker maak. Dit gebeur in fases... eers saggies met my stem, ’n paar minute later met die lig, dan gaan praat ek weer, later roep ek uit die kombuis uit, dan stuur ek hulle pa. Ek bedel, por, raas en waarsku verniet, want hulle staan op die heel laaste minuut op en dan’s hulle vies as dit lyk of ons net dalkies laat gaan wees.

Maar nou, met 2008 se redakteurs­brief in die hand, het ek ’n heel ander strategie. Môreoggend gaan ek instap, bollemakie­sies bo-op die bed slaan, my tone in hul hare en my skouer ongemaklik in die blaas druk! En laat hulle net durf kla – dan trek ek hul ooglede uitmekaar uit.

My ekstra stukkie raad is dus: Slaap soveel jy kan, maar wanneer jy nie kan slaap nie, skryf alles neer. Dis fantasties­e skietgoed vir die jare wat nog kom,

Groete,

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa