TE vinnig WEG
Jurandi en Marnus du Plessis moes hul babaseuntjie groet nog voor hulle hom kon ontmoet. Jurandi deel hulle verhaal.
Toe hulle hoor hul tweede kleinding is op pad, was Jurandi en Marnus du Plessis van Klerksdorp uit hul vel van vreugde – al was dit ’n skrale sewe maande ná die geboorte van klein Inge.
“Ek het sommer vroeg geweet ek is swanger en ons is op nege weke van swangerskap ginekoloog toe om ’n sonar te laat doen,” vertel Jurandi (30).
Volgens die ginekoloog het alles normaal gelyk en het baba Du Plessis gesond gegroei.
Op 13 weke van swangerskap is die egpaar weer dokter toe sodat ’n deeglike ondersoek gedoen kon word.
“Ons het daarna uitgesien om ons baba weer te sien en ek het vooraf vir my ginekoloog (wat vreeslike dierbaar is) gevra dat as hy die geslag kon raaksien, hy niks moes sê nie maar dit op ’n papiertjie moes neerskryf, dit moes toevou en vir my moes gee.”
Jurandi het ’n week later verjaar en wou iets spesiaal prakseer om die geslag bekend te maak.
Die oomblik toe die beeld op die skerm verskyn, het die ginekoloog egter agterkom iets is verkeerd.
“Die dokter het gesê: ‘Hier is fout, Jurandi.’ Ek het eers gedink hy maak ’n grap, maar toe hy daardie woorde herhaal en ek sy gesigsuitdrukking sien, het
Sy kry steeds nagmerries oor haar seuntjie wat as mediese afval weggeneem is.
ek besef hy is ernstig,” vertel sy.
Die dokter het vir Jurandi en Marnus op die sonarskerm gewys waaroor hy bekommerd is. Hy het Downsindroom vermoed, maar ook gesê dat daar ’n bykomende probleem kan wees.
“Ons was geskok, maar het nooit getwyfel dat ons hierdie kind sou aanvaar en met liefde grootmaak nie,” sê Jurandi.
Sy en Marnus het ingestem om twee dae later ’n amniosentese te laat uitvoer om meer inligting te kry oor wat aan die gang was.
“Ek het na ’n hele paar YouTubevideo’s gekyk waarop amniosenteses uitgevoer is. Dit het my gerusgestel om te weet wat ek van die prosedure kon verwag.”
Die amniosentese – wat vir Jurandi pynlik was – is deur haar ginekoloog uitgevoer en die vrugwater is weggestuur.
Sy het ná die afspraak met ’n pediatervriend gesels en hy het voorgestel dat hulle ’n fetusspesialis in Kaapstad besoek. Hulle kon eers ’n afspraak vir twee maande later kry.
Die uitslae van die amniosentese het intussen gewys dat die fetus Downsindroom het.
TWEE MAANDE LATER
Op 20 weke van swangerskap het Jurandi, Marnus en Inge Kaapstad toe gevlieg vir ’n ondersoek by die fetusspesialis.
“Met die afspraak wou ek dadelik weet hoe ’n kind met Downsindroom ons lewe sou beïnvloed en hoe ons ons daarvoor kon voorberei.”
Die spesialis het voorgestel dat hulle eers die sonarondersoek afhandel.
“Ons kon ons baba op die skerm sien, maar die spesialis het ons amper onmiddellik meegedeel dat daar nie ’n hartklop is nie. Ons was verslae oor die nuus, maar rustig.”
Die gesin is ná dié afspraak strand toe sodat Inge vir die eerste keer op ’n strand kon speel.
“Terwyl ek daar op die sand gesit en haar sien speel het, het dit my getref dat hoewel ons pas ontsettende hartseer beleef het, ons met soveel liefde geseën is en dat moeilike besluite uit ons hande geneem is.”
Die gesin het die volgende dag teruggevlieg en Jurandi is op Klerksdorp in die hospitaal opgeneem.
“Ek het eenuur die middag ’n induksie gekry en ook pynmedikasie wat ’n aantal kere later die middag en aand toegedien is.”
Teen halfdrie die volgende oggend het Jurandi begin kraam. Marnus het die verpleegsters geroep, wat onmiddellik gekom het.
“Ek het ons baba gesien, wat toe nog aan die naelstring vas was. Hy was omtrent
20 cm lank en perfek.”
Jurandi is weer aangemoedig om te druk om van die plasenta ontslae te raak. Sy het baie bloed verloor en is ook iets ingespuit om haar rustig te maak.
“Daarna is my babaseuntjie in ’n wit houer geplaas en weggeneem. Dit het soos ’n nare droom gevoel.”
Jurandi onthou dat sy teen dagbreek na die sonarkamer gestoot is waar haar ginekoloog haar ondersoek het.
“My dokter het opgemerk dat ek later in die dag ’n skraap sou moes ondergaan om seker te maak dat my baarmoeder skoon is. Dié prosedure is onder narkose uitgevoer. En dít was die einde van die hoofstuk.”
DIE GENESING BEGIN
Jurandi kry steeds nagmerries oor haar seuntjie wat as mediese afval weggeneem is, maar daar is ongelukkig niks aan te doen nie.
Dit was ná hierdie ervaring dat sy besluit het om vir die Mev. SA-wedstryd in te skryf.
“Ek wou iets vir my doen wat my sou help om sterker aan die ander kant uit te kom na wat alles gebeur het.”
En dit maak ’n verskil. Jurandi is gekies as een van die top-25 finaliste en is ook tans betrokke by talle gemeenskapsprojekte.
“Om ander te help, help my ook genees en al die wonderlike, sterk vroue wat ek by die Mev. Suid-Afrika-kompetisie ontmoet, inspireer my elke dag.”