HOEKOM ONS TERMINASIE GEKIES HET
Trisomie 18 is ’n baie seldsame toestand. Volgens medici is die risiko 1 uit 10 000 vir vroue wat naby aan of vroeg in hul dertigs swanger raak. Hierdie ma van Kaapstad was een van daardie 10 000. Sy vertel van die bitter pad wat hulle moes stap nadat hul ongebore baba met trisomie 18 gediagnoseer is.
“Ek het vir my ginekoloog gevra hoe gereeld hy trisomie 18 sien. Hy het gesê hy sien een geval elke vyf jaar,” vertel Alet*. “Dit was ons tweede swangerskap. Ek het uitgevind ek is swanger toe my oudste kind een jaar en drie maande oud was. Ek was 31 en ons was al ses jaar getroud.”
Alet het van die begin af gevoel alles is nie pluis nie, maar dit was met die sonarondersoek op 11 weke dat die dokter die vog agter die baba se nekkie opgelet het, een van die aanduiders van ’n trisomieafwyking. Drie weke later het Alet, toe 13 weke swanger, ’n dokter besoek wat in probleemswangerskappe spesialiseer. Dié spesialis doen gewoonlik eers teen 20 weke 4D-skanderings, maar kon tóé al identifiseer dat Alet se ongebore baba nie net vog agter haar nekkie gehad het nie, maar ook ’n hartprobleem en ’n plat neusbeen. Dis alles vroeë aanduiders van trisomie-afwykings.
“Die spesialis het toe ’n risiko-ontleding onderneem. Hy begin by ’n aanvaarde risiko, wat jou risiko is op grond van jou geskiedenis en ouderdom. Dít word dan aangepas met die uitslag van die skandering, waarna die risiko vir die moontlikheid om ’n baba met die afwyking te hê, bepaal word. Op grond van sy bevinding het die dokter Harmony-toetse aanbeveel, wat die DNS en chromosome toets.”
Alet-hulle moes twee weke op die uitslag van die toetse wag. Intussen het hulle soveel nagelees soos wat hulle kon. In daardie stadium kon dit enigeen van die drie trisomie-soorte wees: 13, 18 of 21.
“Dit was bitter moeilik, want jy is glad nie voorbereid op die goed wat jy lees en sien nie. Babas met trisomie 18 het gewoonlik hartprobleme en hulle kan gewoonlik nie self eet of asemhaal nie. Die meeste van hulle kry voeding deur ’n buis. Baie van hulle is blind of doof en huil glad nie.
“Ons het voor die uitslag al die mediese fonds geraadpleeg om vas te stel wat hulle dek, veral in die geval van Downsindroom, waar die kanse op oorlewing baie beter is.”
Alet-hulle se ongebore baba se kans op oorlewing was egter baie skraal. “Die kans dat jou baba lewend gebore word, is 5 persent, het die dokter gesê daardie aand toe ons die uitslag gekry het. Hy het ook bygevoeg dat indien sy gebore sou word, haar lewensverwagting tussen een uur en 10 dae sou wees.”
Vier dae nadat hulle die slegte nuus gekry het, het Alet-hulle die terminasieproses begin. “Die dokters het dit basies aanbeveel. Met trisomie 18 kan jy nie voortgaan met die swangerskap en hoop om die organe te skenk nie, want daar is fout met elke sel in die baba se lyfie.” In die vier dae wat verloop het tussen die uitslag en die besluit om te beëindig, was albei hul ouerpare by hulle. Alet en haar man het ook ’n berader gespreek. Dis nou ’n jaar later en albei spreek steeds ’n sielkundige wat hulle met trauma-berading help.
“Ek het ook ’n vriendin ontmoet wat 10 dae voor ons haar swangerskap beëindig het. Ons ondersteun mekaar baie,” sê Alet.
Daar was maar min steun by die hospitaal waar die terminasie gedoen is. “Ek het die dokter ’n paar keer gevra om te verduidelik hoe die proses werk en wat met my lyf sou gebeur. Hy wou nie regtig nie. Hoe sy op die ou end gebore is, het baie tot my trauma bygedra. Omdat sy so klein was, is sy as mediese afval beskou en kon ons haar nie begrawe nie.”
Alet en haar man het egter ’n paar maande ná die terminasie hul eie begrafnis gehou. “Ons het ook vir haar ’n nissie laat oprig by ons kerk en ons gedenk haar geboortedag.”
Alet voel ná haar ondervinding baie sterk dat beradingsessies verpligtend moet wees vir ouerpare wat besluit om ’n swangerskap te beëindig.
Wat haar deurgedra het was om met soveel moontlik mense te praat om ’n ingeligte besluit te kon neem. “Dis ook noodsaaklik dat jy vriende en familie wat jou nie oordeel nie, in jou vertroue neem en soveel moontlik met jou man daaroor gesels.”
Hoekom hulle terminasie gekies het: “Haar kans op lewe was baie skraal en ons wou nie hê sy moes pyn voel nie. Sy sou nie kon eet of self asemhaal nie, en ons het gevoel dit sou baie pynlik wees. Ons wou haar dit spaar. Volgens ’n pediater word dit in Suid-Afrika as oneties beskou om op kinders met trisomie 18 te opereer. Ons sou dus niks kon doen om dit vir haar makliker te maak nie.
“Ek dink egter nie dit maak saak watter pad ouers kies nie – dit bly moeilik en dit is iets wat jy die res van jou lewe met jou saamdra.”
*Skuilnaam ●