PUISIES SOOS ’N TIENER!
My nuwe baba was so pragtig, maar nou is hy oortrek van die puisies en sy vel lyk olierig. Wat veroorsaak dit en hoe kan ek dit behandel?
SUSTER CYNTHIA YEKO ANTWOORD:
Die oorsaak van babapuisies of babaaknee is nie bekend nie, maar dit kom baie algemeen voor. Dit gaan gewoonlik vanself weg, selfs sonder enige behandeling. Sommige babas kan die puisies maande lank hê, ander net ’n paar weke. As dit hardnekkig voortduur en nie self verdwyn nie, kan jou gesondheidsversorger ’n mediese salf voorskryf. Moenie oor-die-toonbank akneebehandelings gebruik nie, en ook nie gesigreinigers of rome nie. Jou baba se vel is op dié jong ouderdom baie sensitief. Jy loop die gevaar om die aknee erger te maak en bykomende irritasie te veroorsaak as jy iets gebruik wat te sterk is.
Die meeste baba-veltoestande kan ’n ma baie deurmekaar maak, en dis dus belangrik om by die kliniek te gaan aanklop of jou gesondheidsraadgewer te vra voor jy dinge vererger deur skadelike velprodukte aan te skaf.
Hier is ’n paar wenke: • Was jou baba se gesig elke dag. Warm water is sagkens en strelend. Badtyd is ’n goeie tyd daarvoor. Kies ’n seep wat sagkens werk en bevogtigend is. As jy onseker is, vra jou gesondheidsraadgewer om een aan te beveel. • Moenie skrop nie. Dit sal die vel net verder ontstel. Vee met ’n seperige waslap saggies en in sirkelbewegings oor jou kind se gesig. Was die seep af en druk baba se gesig liggies met ’n handdoek droog. • Room kan jou baba se vel irriteer en dit kan
die aknee vererger. • Wees geduldig. Hoewel die aknee jou bekommerd kan maak, is dit meestal skadeloos. Wees geduldig; dit behoort self te verdwyn.