NAWEEKUITSTAPPIE: DOEN DIT SO
RONEL MOODIE (37) VAN PRETORIA
Ons kon nie wag om met ons nuwe wonderlyfie, Elle (3 weke), te gaan spog nie en het besluit om vir die naweek by familie in die Vrystaat te gaan kuier.
My lyf het nog met my baklei omdat ek ná die geboorte te veel rondbeweeg het, maar ek wou graag die kosbare nuwe toevoeging tot ons familie gaan wys.
Die pakkery vir twee kinders was skielik dubbel die werk wat dit vroeër was en ek moes ekstra tyd opsysit om by alles uit te kom. En om alles te probeer onthou ...
Die doeksak was die belangrikste, want dit moes by my in die motor wees vir die
rit wat min of meer drie uur sou duur. Ek het gesorg dat ek alle benodigdhede soos doeke, vogdoekies, my borsvoedkussing en die spoegdoek in my sak byderhand het. Ek het ook medisyne, ekstra klere en komberse ingepak wat ek later die naweek wou gebruik.
Ek het oudergewoonte ons kleuter, Lara (3), se eie sakkie vol doeke, vogdoekies, ’n waterbekertjie en peuselgoed vir die pad gepak.
Dit was wys om twee aparte sakke te pak, want by ons eerste stilhouplek – die vulstasie – kon my man, Hennie, maklik vir Lara met haar pakkasie badkamer toe neem terwyl ek vir Elle versorg het met haar sak wat by my was. Goeie beplanning het ons nuttig te pas gekom!