DIT HET MET MY GEBEUR: CHARNÉ WARD, PRETORIA
Ek is op 32 weke van swangerskap ginekoloog toe vir my weeklikse ondersoek, en eers vyf dae later huis toe, sonder my boep en met twee bondeltjies in die neonatale intensiewe sorgeenheid ( NISE). Ek het elke dag hospitaal toe gegaan en saans sonder my kinders terug huis toe gekeer. ’n Maand later is Emma en Alexander uiteindelik ontslaan, vergesel van ’n lang lys voorwaardes en noodnommers.
Ek was bang ek gee meer aandag aan die een as aan die ander en het dit daarom vermy om hulle op te tel. Daar was geen band tussen ons nie; ek wou hulle eintlik nie hê nie. Ek het werklik gevoel ek wil hulle op die trappie van ’n kinderhuis gaan los, maar ’n stemmetjie het gemaan: “Jou ma en sussies gaan woedend wees!”
Dit was my ma en my man, Shaun, wat besef het ek het hulp nodig. Shaun het een van die NISE- susters se hulp gevra, wat my na ’n sielkundige verwys het. Ek het die sielkundige maande lank besoek en dinge het stadig maar seker verbeter. Ek het naghulp gekry en my familie het ook ekstra tyd saam met ons deurgebring om ondersteuning te verleen.
Ek en my twee kinders het uiteindelik ’n band begin vorm – wat vandag onvernietigbaar is.