Baba & Kleuter

SIRKEL VAN DOOD EN LEWE

- RENTIA JACOBS, PLATTEKLOO­F, KAAPSTAD ●

Twee maande voor ons eerste seuntjie se geboorte is my oupa oorlede. Ek het ’n wonderlike verhouding met hom gehad en ook twee jaar by hulle gewoon. Terwyl ’n mens swanger is loop die hormone reeds hoog en ook die emosies – soveel te meer as jy hartseer voel omdat jy moet afskeid neem van ’n wonderlike mens wat ’n groot invloed op jou lewe gehad het. En dit terwyl jy soveel lewe beleef, voel beweeg en weet dat jou babatjie baklei om te lewe ...

Die tweestryd en uiteenlope­nde emosies word soms te veel en dan weet ek nie hoekom ek huil nie, want ek is tegelyk bly en hartseer. Maar dan gaan die tyd verby en aanvaardin­g kom en jy kry ’n nuwe “normaal”. Dit was egter moeilik en ek wens dit niemand toe nie.

Ek is tans agt maande swanger met ons tweede seuntjie, en my ouma (die vrou van oupa wat drie jaar gelede oorlede is) word vandag begrawe. Ná net drie weke van siek wees het die Here haar kom haal.

Vir die tweede keer moet ek afskeid neem van ’n mens wat my lewe onherroepl­ik verander het, net soos my kind dit in die toekoms sal doen. Die gemengde emosies maal weer deur my lyf en elke keer as ek onthou dat sy weg is, voel dit of my hart wil breek en my lyf word fisiek seer. En dan beweeg my lewendige, gesonde babatjie hier binnein my en huil ek sommer harder.

Want ek weet dat God getrou vir ons sal sorg en dat Hy, net soos met ’n reënboog ná die storm, sy belofte nakom en vir ons iets moois stuur om ons te troos. Dat Hy vir ons hierdie kosbare kinders leen om nog herinnerin­ge te maak.

So selfs al is dit vandag ouma Kaatjie se begrafnis, het ek besluit dit is ook ’n dag om die lewe, herinnerin­g en toekomsbel­oftes te vier.

 ??  ?? Wyle ouma Kaatjie en ouboet Ryan toe hy ’n week oud was.
Wyle ouma Kaatjie en ouboet Ryan toe hy ’n week oud was.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa