Baba & Kleuter

3LOOP

-

Die meeste babas begin tussen nege en 15 maande oud loop. Omrol, sit en kruip is belangrike boublokke vir loop omdat dit al die nodige spiertjies daarvoor ontwikkel. Help hom so: TRAP-TRAP Laat jou baba op sy rug lê, neem sy voetjies en laat hom sagkens fietsrybew­egings uitvoer deur die een beentjie te buig terwyl jy die ander een reguit maak. Dit laat die heupe ontspan. OPSTAANTYD As baba al gemaklik onafhankli­k sit, kan jy hom aan sy handjies uit ’n sittende tot in ’n staande posisie optrek. OP JOU SKOOT Laat jou vyf maande oue baba ’n paar sekondes op jou skoot staan terwyl hy gewig op sy beentjies dra. Op ses tot sewe maande sal hy in hierdie posisie op jou skoot begin wip. OP DIE KNIEË As jou baba omtrent agt maande oud is, kan jy hom vir kort rukkies op sy knieë laat staan terwyl jy hom ondersteun. Sit voor hom sodat hy aan jou knieë kan vashou of sit ’n groot oefenbal voor hom neer waaraan hy kan vashou. MEUBELLOOP Teen omtrent nege maande kan jy jou baba help om hom self teen meubels op te trek sodat hy kan staan. Maak seker die meubels is stabiel en plaas hulle so van mekaar af dat hy slegs ’n treetjie hoef te gee van die een meubelstuk na die volgende. Dit is ook ’n goeie idee om ’n speelding met wieletjies aan te skaf waarmee hy kan loop en wat nie maklik sal omdop nie. GOEIE BALANS As jou baba gemaklik kan staan terwyl hy vir ondersteun­ing aan iets vashou, kan jy die volgende beproef. Sit op die vloer en laat jou baba voor jou staan met sy voetjies skouerbree­dte uit mekaar vir ondersteun­ing. Sit jou hand op sy heup en gee ’n vinnige, ligte stootjie – baba behoort nou sy ander voetjie te verskuif om sy balans te verbeter. As hy dit goed doen, kan jy agter hom gaan staan en albei heupe liggies vorentoe stoot – baba behoort een voet vorentoe te sit om sy balans te behou. Hierna kan jy voor hom gaan staan en hom agtertoe stoot. Hy behoort ’n treetjie na agter te gee.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa