Baba & Kleuter

VAT 5

-

’n Nuwe baba beteken nuwe uitgawes, dadelik én namate kinders ouer word, sê Charné van der Walt van die finansiële beplanners Lemons Into Lemonade.

Sy sê voornemend­e ouers behoort aandag te skenk aan die volgende vyf aspekte van finansiële beplanning:

1 JUL MAANDELIKS­E BEGROTING VERANDER. Met ’n kind in die huis verander die gesin se maandeliks­e begroting. As jy lank voor die tyd beplan het om ’n baba te hê, is daar ekstra tyd om te spaar, maar heroorweeg jul huidige begroting dadelik as die swangerska­p ’n verrassing was. Neem alles in ag wat ’n invloed op jul inkomste gaan hê. Nuwe uitgawes sluit ’n verhoogde bydrae tot jul mediese skema in.

2 BOU AAN ’N NOODFONDS. Dit kan ’n bedrag wees wat gelyk is aan drie maande se inkomste ná belasting en aftrekking­s. Of stel ’n doelwit dat jou noodfonds minstens ses maande se minimum uitgawes moet dek.

3 SPAAR MAANDELIKS VIR JOU KIND SE OPVOEDING. Maar hoeveel? ’n Berekening van opvoedings­kostes van kleutersko­ol tot en met naskoolse opleiding is nodig, en ’n makelaar sal daarmee kan help. Dié berekening moet jaarlikse kosteverho­gings in ag neem én of jou kind na ’n privaat of staatskool sal gaan. As jy reeds voor jou kind se geboorte begin, het jy 18 tot 20 jaar om te spaar.

Julle hoef nie ’n opvoedings­polis te koop nie – ’n kontant-spaarreken­ing by die bank waaruit julle maandeliks kan onttrek namate jul kind op skool vorder, is voldoende. Oorweeg ’n meer formele spaarplan vir tersiêre uitgawes, soos ’n effektetru­strekening.

4 BESLUIT HOE JOU GESIN VERSORG GAAN WORD AS DIE BROODWINNE­R NIE MEER GELD VERDIEN NIE. Koop voldoende lewensdekk­ing en ongeskikth­eidsdekkin­g (’n enkelbedra­g as jy medies ongeskik verklaar word) sodat skuld afbetaal kan word, die gesin hul leefstyl kan behou, daar geld vir jou kind se opvoeding is en jul maandeliks­e uitgawes steeds gedek is indien ’n krisis of tragedie tref.

5 SORG DAT JY ’N TESTAMENT HET. Jul testamente sal met die koms van ’n baba in twee opsigte verander. Eerstens word ’n testamentê­re trust gewoonlik ingesluit omdat kinders onder 18 jaar nie in hul eie naam geld mag ontvang of erf nie. Voorts moet ’n trustee aangestel word. Dié persoon gaan beheer hê oor jou kind se geld tot hulle ’n sekere ouderdom bereik.

Tweedens moet ’n voog of voogde aangestel word indien albei ouers sterf. Kies iemand wie se waardes met joune ooreenstem en wat dit finansieel kan bybring.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa