Gesonde selfbeeld
Volg ons wenke om te sorg dat jou kleinding ’n sterk selfbeeld ontwikkel.
Kinders se selfbeeld word in die eerste sewe jaar gevorm en hang grootliks af van ouers se houding teenoor hulle. Dit is waarom ’n kind wat konstant positiewe insette kry, ’n positiewe selfbeeld het. Dit is dus ’n groot verantwoordelikheid wat op jou skouers rus, maar gelukkig is daar baie wat jy kan doen om jou kind in haarself te laat glo.
GEE LIEFDE
Die grondslag van ’n gesonde selfbeeld is onvoorwaardelike liefde.
Jou kind moet elke dag gewaardeerd en spesiaal voel. Help haar om haar goeie eienskappe raak te sien en swaai opregte lof toe waar nodig, selfs vir “verwagte” gedrag soos die uitvoer van pligte of goeie maniere.
Vertel jou kind daagliks dat jy haar liefhet en bring elke dag tyd saam met haar deur. Maak tyd om te speel, te werk en vir ontspanning.
Wees wel versigtig vir oordrewe lof of te veel heuning om die mond – kinders kom gou agter as jy nie opreg is nie of altyd oordryf. Hulle sal dan jou mening as ongeloofwaardig begin afmaak.
Dit is baie belangrik om ook in slegte tye – waar jy of jou kind swarigheid beleef – jou kind gereeld van jou liefde te verseker. Jou liefde moet sonder voorwaardes wees.
Jy kind moet weet dat jy haar liefhet vir wie sy is en nie oor wat sy doen nie, sê die Johannesburgse sielkundige berader Dereck Jackson, skrywer van die boek
Ouerskapmetstyl (Pearson). Die uitdaging is om haar gelief te laat voel ondanks haar stoute gedrag of ander tekortkominge.
Ons is almal geneig om ons kinders op die een of ander voorwaarde lief te hê, waarsku Dereck. As jou kind die boodskap kry dat jy haar net liefhet “op voorwaarde dat ...” gaan sy altyd voel dat jy haar nie werklik liefhet nie.
LUISTER NA HAAR
Martie Pieterse, ouerskapskenner en skrywer van die boek Regvirgrootskool (Metz Press) sê dit is belangrik hóé jy na jou kind luister. Hoewel jou kind se storie soms langdradig en vervelig kan wees, is dit belangrik dat jy tog tyd maak om te luister. As jy nie onmiddellik aandag kan gee nie, vra haar om ’n bietjie te wag. Dis ook gesond dat kinders hul ouers se tyd respekteer en leer om te wag.
Moet egter nie vergeet om na haar storie te luister sodra jy tyd het nie. Luister met aandag, maak oogkontak en vra vrae om te wys jy stel belang.
HOU HAAR VAS
Kinders hou van intieme aanraking deur hul ouers, soos wanneer jy ’n drukkie of ’n soentjie gee, jou hand op hul skouer sit, oor hul kop vryf of hulle liggies aanraak terwyl julle gesels.
Navorsing het gewys dat kinders wat so aangeraak word, ’n goeie selfbeeld ontwikkel, sê Martie.
Soengroet jou kinders en gee hulle elke dag die geleentheid om op jou skoot te sit of in jou arms te lê. Speel fisieke speletjies met hulle soos om op die bed, mat of gras
te stoei. Kielie hulle en laat hulle toe om jou ook te kielie. Lê saam en lees.
BRING TYD SAAM DEUR
Dis baie belangrik vir jou kind se positiewe selfbeeld en selfrespek dat jy beskikbaar is om tyd saam met haar deur te bring, sê Martie – al is jou tyd skaars en jou verpligtinge baie! Dit laat jou kind voel sy is belangrik en waardig.
As jy by die huis kom ná ’n moeilike dag by die werk, is dit ’n belegging om vir die eerste halfuur slegs aandag aan jou kleuter te gee. Speel saam op die mat of gooi ’n bal saam buite en vra uit oor haar dag. Dit sal jou kind laat voel sy is belangrik genoeg dat jy alles anders net vir haar opsy sal sit.
Beplan doelbewus gesinstyd wat almal sal geniet, want dit is hoe gesinslede mekaar leer ken en respekteer.
GEBRUIK ‘EK’-BOODSKAPPE
Wees versigtig om nie afbrekend te wees wanneer jy jou kleuter dissiplineer nie. Sê: “Ek hou nie van dié gedrag nie”, of “Ek gaan nie toelaat dat jy mense so hanteer nie”, pleks daarvan om “jy”-vermanings te gebruik, soos “Jy was nou baie lelik met jou klein boetie”.
GEE HAAR RUIMTE
Gee jou kind die ruimte om self oplossings vir ’n probleem te bedink en die beste oplossing te kies. Wees ondersteunend, maar moenie al jou kleuter se probleme van haar af wegneem en oplos nie. As sy oplossings vir haar probleme vind, kry sy die selfvertroue om groter uitdagings te hanteer namate sy ouer word.
ONTWIKKEL HAAR VAARDIGHEDE
Help jou kind om haar vaardighede en belangstellings te ontwikkel, want as sy iets kan doen of regkry, bou dit haar selfvertroue – en selfvertroue bou ’n sterk selfbeeld. Toon opregte belangstelling in haar talente en stokperdjies en help haar
waar nodig om kundigheid op te bou sodat sy met selfvertroue oor die onderwerp kan praat of aan die aktiwiteit kan deelneem. Ontwikkel ook jou kind se vaardigheid in probleemoplossing en besluitneming – laat haar haar eie keuse maak en uitoefen. Dit wys dat jy haar ernstig opneem en vertrou.
Hulpvaardigheid kweek ook selfvertroue. Wanneer jou kind help – in die huis of skool – aanvaar sy outomaties verantwoordelikheid vir iemand of iets anders.
BLY POSITIEF
Dit is belangrik om kritiek te hoor, maar dit moenie jou kind se selfbeeld skaad nie. Help haar om kommentaar en kritiek te hanteer deur positief oor haarself te bly.
Korrigeer jou kind sagkens wanneer sy negatiewe dinge oor haarself sê. Help haar om haar probleme positief te omskryf en teleurstellings te verwerk.
Werk saam aan ’n positiewe perspektief op enige probleem wat dalk by haar geïdentifiseer word.
Leer jou kind om aan haarself erkenning te gee wanneer sy dit verdien en komplimente nie af te maak of te ignoreer nie.
Gee ook aandag aan haar emosies wanneer sy slaag of misluk. Die formulering en verwerking van emosies laat haar meer in beheer voel en laat haar selfvertroue toeneem.
SIEN HAAR GAWES RAAK
Jou kind moet genoegsaam voel, sê Dereck. Genoegsaamheid beteken jy moet soek na die gawes wat jou kind het eerder as om jou vas te staar teen die gawes wat sy nié het nie.
Dis jou taak om haar aandag op haar positiewe eienskappe te vestig. Vertel haar gereeld wat haar talente is en waarom dit spesiaal is. Respekteer haar geaardheid. Wanneer ’n kind weet dat haar unieke geaardheid ’n plekkie in die groter gesin het, sal sy nie te selfbewus wees om haarself te wees nie. Hegte familiebande en familietradisies help ’n kind ook om haar plek in die familie te vind – sy weet dan dat sy êrens hoort.