Baba & Kleuter

E- pos uit die buiteland

Die Kargaard-gesin begin hul Kersfees in Noorweë en sluit dit in Denemarke met ’n koppie rooibos af ...

- BABA & KLEUTER

Ek het in die 1990’s laas die kinderlike opwinding van Kersfees ervaar – daardie magic gevoel wanneer jy die slapies aftel en elke dag die geskenke onder die boom inspekteer om te probeer raai wat jy gaan kry.

Maar ’n mens word groot en die lewe gaan sy gang. Voor jy weet is Kersfees net ’n oorgewig oom in ’n rooi pak, ’n besige winkelsent­rum en ’n rits take wat jy moet afhandel.

Ek het begin wonder hoe ek hierdie fees weer kon afstof en blink vryf, veral omdat ek wou hê dat Josua en Elias mooi herinnerin­ge moes koester – nie nagmerries van ’n knorrige ou draak agter die kospotte nie!

Min het ek geweet dat ek so te sê Noordpool toe sou moes verhuis om daardie vlammetjie weer aan die brand te steek. Verlede jaar was dit my en my gesin se eerste Kersfees in Noorweë, en wat ’n fees was dit nie!

Die opwinding begin reeds op 1 Desember. Ná aandete word ’n spesiale kers aangesteek (ek noem dit sommer die opsitkers), waarop 1 tot 24 Desember afgemerk is. Die kerswas moet elke aand smelt tot by daardie spesifieke dag se merk. Ná ’n uur of twee van lekker gesels blaas jy hom dood en gaan slaap. Dis ’n wonderlike tradisie, want die TV en slimfone is vergete en ’n mens geniet mekaar se geselskap. En dis natuurlik ook ’n wonderlike manier waarop oud en jonk weer slapies kan begin aftel.

Hier in die noorde is Kersbome en -versiering­s ’n groot storie. Nie net het elke huis ’n boom nie, maar elke dorp, stad en voorstad ook. Die eerste Sondag van Desember word al die bome staangemaa­k en die liggies aangeskake­l. Dan kom al die dorpsmense op die stadsplein bymekaar en sing Kerslieder­e. As jy nog nie ’n boom van jou eie het nie, is dit nóú die tyd om een aan te skaf. Regte dennebome en die allermoois­te versiering­s is om elke hoek en draai te koop. Een ding wat ek van die Skandinawi­ërs se Kersfees kan sê is dat dit beslis nie made in China is nie. Dis propvol ouwêreldse styl en karakter.

Smiddae ná werk gaan stap ons lang ente met die kleinspan. Dan bewonder ons al die skatte wat die feesseisoe­n bied. Hou in gedagte dat dit in die winter al teen drieuur die middag donker begin word. Dit beteken egter nie dat almal op ’n hopie sit en bibber nie. Die stad lewe en word helder ingekleur met kerse en liggies. Niemand trek hul gordyne toe nie en ’n mens kan dus al die ander mense se Kersbome en woonkamers bewonder terwyl jy deur die strate wandel. Dis koud buite, maar binne is dit knus en warm.

Twee weke voor Kersfees is daar heelwat spesiale aktiwiteit­e. St. Lucia se fees word gevier en daar is Kerssangdi­enste, -konserte en natuurlik ook markte. Omtrent ’n uur van Stavanger waar ons woon af, is daar ’n hele Kersfeesdo­rpie met hope stalletjie­s met mooigoed en eetgoed. Klein Josua se gunsteling is warm gekaramell­iseerde amandels, te mooi verpak in ’n outydse bruinpapie­r-kardoes. Die kinders word aangetrek soos nisse (die Skandinawi­ese weergawe van Kersvader se elfies) in lang wolmusse en streepsokk­ies.

Omdat vleis baie duur is en ons nie juis aanklank vind by die Noorweegse spyskaart van pekellam of -vis nie, verkies ons dit om ’n Deense maal te berei. Ek, my man, Joakim, en ons twee seuns klim dus ’n week voor Kersfees op die veerboot na Denemarke. Hier bring ons ’n hele dag deur net om bestanddel­e en geskenke te koop – ’n avontuur heel op sy eie.

Die aand van die 23ste vier ons Kleinouker­saand. ’n Spesiale soort ryspap word vir aandete berei. Daarna kuier ons almal in die sitkamer waar ons smul aan nartjies, nougat, marsepein, tuisgebakt­e koekies en neute. Gløgg, ’n warm speserydra­nkie, word ook voorgesit. Dis baie belangrik om te onthou waaroor Kersfees werklik gaan, en ons lees dus die verhaal van Jesus se geboorte uit die Bybel terwyl ons almal lekker knus langs die kaggelvuur sit. Ons ”opsitkers” is teen hierdie tyd al heelwat korter.

Wanneer die 24ste uiteindeli­k aanbreek heers daar natuurlik groot opwinding. Dis ’n besige dag: Joakim maak kos en ek maak ’n video sodat die oumas en oupas in SuidAfrika in die pret kan deel. Later die aand dans ons om die Kersboom terwyl ons Kerslieder­e sing. Ek het hierdie eeu-oue tradisie aan die begin baie vreemd gevind, maar dit is groot pret en die kinders skaterlag van plesier. Hulle dans en sing en eet kort-kort lekkertjie­s wat in kardoesies aan die boom hang. Daarna maak almal natuurlik geskenke oop. Ons skype ons mense in Suid-Afrika en kuier en gesels.

As die seuns uiteindeli­k in droomland is, geniet ek en manlief ’n koppie rooibostee saam. Ons bewonder ’n sneeuwit wêreld deur die venster terwyl Sinatra saggies in die agtergrond sing: May your dreams be merry and bright, and may all your Christmase­s be white. Hand in hand sit ons tot die opsitkers se vlammetjie net ’n rokie is.

 ??  ?? Carla (31) en Joakim (36) Kargaard van Stavanger met hul spruite, Josua (3) en Elias (1).
Carla (31) en Joakim (36) Kargaard van Stavanger met hul spruite, Josua (3) en Elias (1).

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa