Ma- blogger
Daardie koord waarmee ons gebore word is tegelyk lewegewend en versmorend, mymer die Blymoedige Weduwee, oftewel die mammablogger Maraja BadenhorstBurger van Montagu.
Ek staan vanoggend in die stort en probeer al my bekommernisse afwas en dink aan my dierbare man wat ek nou ná twee maande ook aan my lyf begin mis. Hy was so trots op sy seunsagtige lyf van 43 jaar. Hy het hom goed versorg: altyd lekker geruik … en nou wag daardie mooi lyf vir my op ’n stowwerige rak in ’n klein boksie, reg om by meneer Die Begrafnisondernemer afgehaal te word.
Twee jaar gelede bespreek ons die onderwerp van sterilisasie want kyk, twee babas binne twee jaar vat aan enigiemand se lyf. Ek vra hom of hy nie wil gaan nie, want die kliniek sê dis so maklik vir mans: lokale verdowing en voor jy kan sê “mes” is alles verby! Grootoog sien ek hoe swaar hy sluk en vra wat daarvan as hulle dalk iets wat belangrik is afsny? Mans se bedrading is baie delikaat, sien … Ek het lekker vir hom gelag, ook toe die dokter hom destyds vra of hy die baba se naelstring wil afsny. Ek dag die arme man
word flou hier langs my agter die groen gordyntjie. Ek was toe die brawe een wat vir die dokter beduie het hy moet sommer al die draadjies afknip wanneer hy die
baba uithaal. ( Thank you very much. Got the T-shirt.)
Dit het my toe onwillekeurig laat dink aan die ding van ’n naelstring. So nodig, maar dikwels ook so vernietigend. Saam met my eie gesonde, vet en pienk babas is daar miniatuur-babas gebore wat verslaaf is aan alkohol. As onderwyseres moes ek ’n hele paar vergaderings bywoon waar ons touwys gemaak is oor hoe om met ’n kind met fetale alkoholsindroom (FAS) in jou klas reg te kom.
Hier in die Kaapse Wynland is dit deel van die alledaagse bestaan. Ek het in ’n stadium op ’n plaas gewoon waar jy ironies genoeg hoogswanger vroue in FAS-T-hemde langs die pad sien loop, doppie in die hand. Ek oordeel nooit oor ’n ander se lewe of keuses nie, want ek het geen benul hoe dit voel om in hul skoene te loop nie – dis net jammer van die ou kleintjies.
Maar dis nie net babas wat ingedoen word deur naelstringe nie, daar is ook die groot naelstringe. Daardie groot luislange wat hulleself met soveel gemak om jou lyf en selfs nek kan draai. My ma hou nog steeds die lang vlegsel wat ek destyds op die hoë ouderdom van 20 vir haar gegee het. “Hier's jou naelstring”, het ek uitdagend verklaar en my probeer loswoel uit haar versmorende arms vol liefde. Dis moeilik om die baba van die gesin te wees en dan nog die enigste meisiekind ook. Vandag noem hulle dit helicopter parenting en wanneer iemand my daarop attent wil maak dat een van my kleintjies nou iets simpels gaan aanvang, antwoord ek braaf: “Lyk ek miskien vir jou soos ’n helikopter?” Ek glo kleintjies mag maar huil en tantrums gooi. Ek laat hulle begaan; jy is tog net een keer twee jaar oud. Liewer nou as op 14!
Ek het een keer ’n vrou (’n gefrustreerde juffrou) haar cool sien verloor voor ’n groot klas vol 15-jariges. Dis nie ’n mooi gesig nie en sy moes net daarna die skool verlaat. Tieners vergewe jou selde as jy soos hulle optree …
Dan is daar ook die naelstring van die liefde. Liefdesverklarings soos: “Ek kan nie sonder jou nie” klink miskien aan die begin baie romanties, maar kan baie gou ook in ’n versmorende doodloopstraat eindig. Sekere verhoudings is weer gebaseer op net-net genoeg liefde deur ’n milkshakestrooitjie dat die een nie sterf nie, maar net genoeg kry om aan die lewe te bly. Wat ’n uitgehongerde besigheid is dit nie.
Ek lees nou die dag dat daar vroue is wat hul baba se naelstring laat vriesdroog, in fyn poeiertjies laat maal en in klein kapsules berg om een vir een elke oggend met ’n groot glas minerale water afgesluk te word. Siesa! As kind het ek gesien hoe ons katte hul eie kleintjies se naelstringe opeet – don’t need that T- shirt, thank you very much!
Nee dankie, ’n koppie sterk swart koffie op die nugter maag is al wat ek nodig het om die dag met ’n glimlag te begin.
En so, oplaas, voor ek vanoggend die water toedraai, dink ek in my stoomstort: “Hoekom pla die ding van ’n naelstring my so?”
Miskien dalk, noudat ek deur die proses van kindergeboorte is en my eie groot naelstring afgesny is, voel ek ’n bietjie verlore. Ek vat ingedagte aan my tweede laaste vinger en besef skielik: Ek mis die klein, silwer naelstringetjie wat vyf jaar lank daar vasgedraai was.
'Hier's jou naelstring,' het ek op 20 vir my ma gesê en my lang vlegsel oorhandig.