Baba & Kleuter

HOE MEET EK KOORS?

-

Deesdae is daar talle oor- en voorkopter­mometers te kry wat akkuraat en maklik is. As jy nie een van dié slim termometer­s het nie, kan jy een van drie ander metodes inspan.

IN DIE MOND

As jou kind oud genoeg is om nie die koorspen te byt nie, kan jy dit onder sy tong plaas en hom aansê om sy mond twee minute lank toe te hou. ’n Lesing van 38 grade C en hoër beteken hy het koors. Onthou om sy koors nie met hierdie metode te meet 15 minute nadat hy iets kouds of warms gedrink het nie, want dan sal die lesing nie akkuraat wees nie.

ONDER DIE ARM

Plaas die koorspen se silwer punt in jou kind se armholte. Maak seker jou kind hou haar elmboog teen haar lyf sodat die koorspen nie beweeg nie. Jy kan haar gerus op jou skoot tel en vashou sodat haar arm onder bly. Wag drie minute voor jy ’n lesing neem. Die meting sal 0,6 grade laer wees as met ’n mondmeting. Tel dus 0,6 by die lesing om die ware temperatuu­r te kry. Anders gestel: ’n Lesing onder die arm van 37,5 grade of hoër dui op koors.

REKTALE METODE

Hierdie metode werk veral vir klein babatjies. Smeer petroleumj­ellie aan die silwerige punt van die koorspen. Gebruik net die soort waarop “stubby” staan, want die punt is korter en stomper as die soort wat in die mond geplaas word.

Laat jou baba oor jou skoot lê en steek die termometer­bol versigtig sowat 2 cm diep in die rektum. Moet dit nie druk of indwing nie – dit moet inglip.

Hou die koorspen tussen jou wysen middelving­er vas en jou palm na onder oor jou baba se boudjies. Hou dit baie liggies vas. As jou baba sou skop of stoei, moet dit nie breek nie. Gebruik jou ander arm om jou baba te ondersteun en stil te hou. Om jou kind se koors akkuraat te meet, moet die pen twee minute lank inbly. Haal dit dan uit, vee die jellie af en lees die temperatuu­r wat by die verste punt van die grys kwikstreep aangedui word. Jou kind het koors as die temperatuu­r 38 grade C of meer is.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa