Baba & Kleuter

V& A swanger

-

Ek het pas uitgevind ek is swanger. Ek is taamlik fiks en draf omtrent drie keer per week sowat 6 km op ’n slag. Is dit veilig om aan te hou draf en vir hoe lank nog? Moet ek liewer ander oefening doen en wat sal jy aanbeveel?

ANRO-MARI COHEN ANTWOORD:

As jy gesond is en ’n ongekompli­seerde swangerska­p het, is die antwoord ja – dis steeds veilig om te draf terwyl jy swanger is. Stap, draf, stilstaand­e fietsry, joga en swem is alles veilig.

Jy kan in die eerste, tweede en derde trimester draf mits jy geen komplikasi­es het nie. Wees net versigtig en luister na jou liggaam. As jy voor jou swangerska­p gedraf en geoefen het, is dit gewoonlik veilig om teen jou normale pas voort te gaan so lank as wat dit vir jou gemaklik voel.

Dis minder veilig om eers te begin draf wanneer jy reeds swanger is, want jou liggaam is nie daaraan gewoond nie en ook nie gekondisio­neer vir dié soort impak nie.

As oefening vir jou ’n nuutjie is, moet jy stadig begin. Warm eers 10 minute op deur te strek en stadig te stap, draf dan sowat vyf minute teen ’n stadige en gemaklike pas en koel dan af deur nog 10 minute te stap.

As jou lyf nie te seer is nie en jy vir meer gereed voel, kan jy jou pas geleidelik versnel of elke week jou afstand effens vermeerder.

Die aanbevole doelwit vir swanger vroue is minstens 20 tot 30 minute matige oefening drie tot vier dae per week.

Dis belangrik om die volgende in gedagte te hou terwyl jy oefen:

• Drink genoeg water voor, tydens en ná jou drafsessie.

• Bly koel deur nie te oefen as dit te warm of bedompig buite is nie. Swanger vroue is geneig om vinniger warm te kry en te oorverhit.

• Beskerm jou vel en smeer ’n sonskerm aan as jy buite gaan oefen.

• Oefen teen so ’n pas dat jy regdeur jou oefensessi­e ’n gesprek kan voer.

• Dra behoorlike tekkies en ’n bra wat goed ondersteun.

• Luister na jou liggaam en hou dadelik op oefen as jy enige van die volgende simptome ervaar: duiselighe­id, pyn in die borskas, kontraksie­s, vaginale bloeding of hoofpyn.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa