Breintjie wat goed werk
Jy het die grootste invloed op hoe jou kind se brein ontwikkel – en dis eintlik glad nie ’n moeilike taak nie.
In die jare 90 het navorsers finaal bewys dat ’n baba wat aan liefdevolle interaksie blootgestel word, intellektueel flukser ontwikkel as babas wat nie so gelukkig was nie.
Jy kan dus baie doen om jou baba se breintjie van dag een af flink te laat werk. Ons vertel jou hoe.
TYD IS KOSBAAR
In die eerste jare van jou kind se lewe word sowat 700 nuwe verbindings per sekonde tussen breinselle gevorm. Die vinnige groei verduidelik waarom baba se kop binne die eerste drie jaar sowat 16 cm in omtrek toeneem – dis ongelooflik as ’n mens in ag neem dat dit in die daaropvolgende 15 jaar net nog 5 cm sal groei voor dit die volwasse grootte is!
Omdat net verbindings wat gereeld benut word, permanent vir toekomstige gebruik vasgelê word, is die vroeë jare van onskatbare waarde.
Die implikasie is dat jou kind waarskynlik in sy latere lewe sekere vaardighede of eienskappe nie sal ontwikkel as jy hom nie in die eerste drie jaar daaraan blootstel nie.
VERANDER WEER ÉN WEER
Volgens neuroloë verander jou baba se brein fisiek met elke nuwe verbinding wat dit skep.
Dis nie soos ’n arm of been wat net in grootte toeneem namate jou kind ouer word nie. Jou baba word met sowat 100 biljoen breinselle gebore, maar kan hulle almal nie onmiddellik gebruik nie omdat die verbindings tussen die meeste selle nog nie vasgelê is nie en boodskappe dus nie tussen selle oorgedra kan word nie.
Namate jou baba nuwe dinge ervaar, word verbindings geskep. Verbindings wat gereeld gebruik word, vorm digte senuweebane in die brein, terwyl verbindings wat selde gebruik word, uiteindelik in ’n sogenaamde snoeiproses verdwyn.
Jy dink dalk dis ’n tragiese verlies, maar dit is eintlik broodnodig. Snoei maak die manier waarop jou baba inligting verwerk meer vaartbelyn en stel elke kind in staat om optimaal op die uitdagings van sy spesifieke omgewing te reageer, amper soos ’n plant wat gereeld gesnoei moet word om te kan gedy.
KRITIEKE ONTWIKKELINGSFASES
’n Kritieke ontwikkelingsfase verwys na ’n beperkte tydperk waarin sekere soorte stimulasie waarskynlik tot die bedrading van sekere dele van die brein sal lei. In daardie venstertydperk kan ’n kind ’n vaardigheid met verbasende gemak aanleer. Dit word egter toenemend moeiliker, indien nie onmoontlik nie, om die spesifieke vaardigheid aan te leer as die goue kans eers verby is.
’n Voorbeeld is Japannese babas wie se ouers uitsluitend Japannees met hulle praat. Hulle sal teen hul eerste verjaardag nie meer tussen die Engelse woorde rice en lice kan onderskei nie omdat die r- en l-klanke nie in hul taal voorkom nie en die brein dié selle wat hulle in staat sou gestel het om hierdie klanke te hoor, weggesnoei het omdat hulle dit nooit gebruik het nie.
VRUGBARE ONTWIKKELINGSFASES
Jou baba se brein het ook vrugbare ontwikkelingsfases. Dit verwys na tye waarin sekere vaardighede net begin ontwikkel en die betrokke dele in die brein wat dit beheer, as’t ware van nuuts af bedraad word.
’n Voorbeeld is wanneer babas van 10 tot 12 weke oud begin om hul visuele fokus te verskuif; iets wat hulle tot in daardie stadium nie kon beheer nie. Dit is gewoon slim om die spreekwoordelike yster te smee terwyl dit nog warm is.
Jy kan gereeld ’n eenvoudige speletjie speel wat jou baba aanmoedig om sy fokus van een hoëkontras-voorwerp na ’n volgende te skuif. Jy kan met ander woorde die invloed wat jy op jou kind se ontluikende vaardighede het, versterk en sy brein digter bedraad.